Wêreldrenosterdag: Meer mense moet aktief betrokke raak

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

Wêreldrenosterdag word jaarliks op 22 September gevier en dié dag is ʼn geleentheid om dié uitsonderlike diere se natuurlike skoonheid te vier, maar ook ʼn dag om die publiek opnuut te herinner aan die stropingskrisis waaronder dié diere gebuk gaan.

Bonné De Bod, 50/50-aanbieder en rolprentmaker, sê as gevolg van die stropingskrisis behoort élke dag ʼn “renosterdag” te wees.

“Ek hoef ons nie te herinner dat ons veldwagters, manne en vroue in die polisie, teenstropings-eenhede en selfs informante het wat ons renosters beskerm nie.

Dan is daar die veeartse, versorgers en rehabiliteerders wat ons beseerde renosters versorg. Wanneer ’n renoster gestroop word, is daar die ondersoekbeamptes en staatsaanklaers wat hard werk om aangekeerde stropers suksesvol te vervolg.

'n Veldwagter gereed om op nagpatrollie te gaan (Foto: Susan Scott)

‘n Veldwagter gereed om op nagpatrollie te gaan (Foto: Susan Scott)

Maar die belangrikste in dié stryd is elke Suid-Afrikaner. Ons moet aanhou om die boodskap uit te dra dat ons renosters belangrik is en van hierdie genadelose slagting gered moet word. Die wêreld mag dalk renosterdag vier, maar omdat die meerderheid van die wêreld se renosters hier in ons land is, moet ons opstaan vir ons erfenis,” het De Bod gesê.

De Bod meen hoewel renosters die afgelope ruk meer aandag in die media geniet het as gevolg van die stropingskrisis, maak dae soos Wêreldrenosterdag steeds ʼn verskil.

“Vir my persoonlik is elke dag renosterdag … en natuurlik ook vir elke persoon wat in die voorste linies veg in hierdie stryd. Ek het heelwat tyd saam met hierdie manne en vroue deurgebring tydens die verfilming van STROOP en wat duidelik is uit my gesprekke met hulle, is dat hulle lewens handomkeer verander het,” het sy gesê.

“Die spil draai dag in en dag uit om renosters. Selfs al is daar een dag waarop die media bewusmaking help skep, ʼn dag waarop ons praat oor die uitdagings wat ons in die gesig staar, help dit in die stryd.”

Sy sê ook dit is belangrik dat mense aktief, en nie net passief nie, betrokke raak by renosterbeskerming, en nie nét op wêreld renosterdag nie.

“Daar is soveel dinge wat vandag regoor die wêreld gebeur en mense kan deelneem deur middel van sosiale media. Praat oor renosters, maak inskrywings op Facebook en Twitter en gebruik die hutsmerk #WorldRhinoDay. Kry die gesprek aan die gang. Ons moet onthou dat groot veranderinge met ʼn enkele tree begin. Elke renoster wat gestroop is, is ʼn renoster wat van elkeen van ons gesteel is.”

De Bod meen diegene wat wel betrokke wil raak, moet veldtogte soos die honde-eenheid van die Krugerwildtuin ondersteun. Dié honde word opgelei om die renosters te beskerm.

'n Omgewings-misdaadondersoekbeampte sny een van twee gestroopte renosters by die Rietvlei Natuurreservaat op (Foto: Susan Scott)

‘n Omgewings-misdaadondersoekbeampte sny een van twee gestroopte renosters by die Rietvlei Natuurreservaat op (Foto: Susan Scott)

“Dit is nie goedkoop om hulle aan te hou en op te lei nie en die park kry al hoe meer van dié viervoetige helde. Ek het gesien hoe die honde hulle werk doen en dit is ongelooflik. Hulle is verantwoordelik vir die aankeer van honderde stropers in die park. Ek was ook al in die hof waar ʼn hanteerder namens sy hond getuig het en daardie bewyse is aanvaarbaar in die hof.

“Die publiek se hulp is nodig deur hondekos te koop en dit op ʼn spesifieke punt af te laai. Daar is regoor die land van hierdie punte en ʼn lys is op Africa Geographic se webwerf beskikbaar. Die veldtog duur tot die einde van September,” het sy bygevoeg.

Die Konvensie oor Internasionale Handeldryf in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites), ʼn internasionale ooreenkoms tussen regerings met die doel om te verseker dat internasionale handeldryf in produkte van wilde diere en plante nie hulle oorlewing bedreig nie, vergader ook die naweek in Sandton as deel van hul CoP17-veldtog waar hulle wildlewe en wildlewe-produkte gaan bespreek. Cites gaan ook met dié gesprek oplossings probeer vind vir die onwettige handel.

“Ons weet almal dat internasionale handeldryf in diereprodukte biljoene rande werd is, so die noodsaaklikheid van Cites is baie duidelik. Daar word gesê dat CoP17 die grootste van sy soort is en dat daar waarskynlik redelike hewige en vurige debatte gevoer gaan word. Dit is belangrik om sulke gesprekke aan die gang te kry.”

Besoek STROOP se Facebook-blad vir meer inligting.

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ronel ·

Dit is so jammer dat ek die artikels nie kan aflaai nie, ek is ‘n onderwyseres wat dit bitter graag vir begripslees wil gebruik. So stel ons die leerders bloot aan belangrike nuusgebeure.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ronel

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Kobus ·

En nog steeds is daar Suid Afrikaanse joggers wat renosters aanbied vir jag teen duisende dollars.

Schalk ·

Kom ons hou n nasionale mensedag. Skenkings kan gemaak word en daaruit kan slagoffers en families ondersteun word. Ek is heeltemal tengunste van die projek vir renosters, maar wens soms mense se lewens word ook so hoog geag.

Jakobus ·

Dit word nog hoër geag, baie, maar as mens nie bewusmaakveldtogte het en mense betrokke kry om die diere te bewaar nie, is daar binne ‘n paar jaar niks van hulle oor nie.

Lola ·

Die hele groenewald en kie sage duur nog steeds voort. Meer as 1800 sake teen hulle en dit word weer uitgestel. Money talks obviously……

Marianne ·

Die Register Statistieke op 50/50 gister aand was skokkend!!! Dis so hartseer dat mense die oer oue geloof van diere medisyne steeds beoefen….
ALMAL DIE WERELD DEUR MOET SAAM STAAN!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.