Wêreldveldwagterdag: Dis ʼn oorlog!

Bonné-de-Bod

Bonné de Bod op ‘n renosterplaas. Foto: Verskaf.

Die bekroonde wildlewe-TV-aanbieder en rolprentmaker Bonné De Bod skryf meer oor Wêreldveldwagterdag wat jaarliks op 31 Julie gevier word en die belangrikheid van dié dag. Sy skryf ook oor die renosterstropingskrisis wat ʼn “oorlog” word, hoe veldwagters se lewe verander het en hoe die publiek betrokke kan raak.

Daar is ʼn bekende aanhaling wat lui: Natuurbewaring is die nederigste doel in die wêreld vandag. Ek stem volkome hiermee saam.

Regoor die wêreld is daar veldwagters, mans en vroue van alle nasionaliteite, wat die dun groen lyn vorm om die natuurgebiede op ons planeet te beskerm. Maar vandag gaan dit lankal nie meer net om bewaring nie, die wêreld van veldwagters het in die laaste dekade geweldig verander. Internasionale misdaadsindikate het ons wildernisgebiede in gevaar geplaas. In die verlede kon ʼn veldwagter net op bewaring fokus en het hy of sy bitter min met wetstoepassing te doen gehad.

Vandag se veldwagters bestee die meeste van hul tyd met militêre presisie aan teenstropings-aktiwiteite en ongelukkig is daar al van hulle wat hul lewe in die proses verloor het terwyl hulle ons erfenis bewaar. En dan ook natuurlik is die aard van hul werk lewensgevaarlik, nie net weens stropers nie, maar bloot hul daaglikse aktiwiteite…

Bonné de Bod op 'n toneel. Foto: Facebook via Stroop

Bonné de Bod op ‘n toneel. Foto: Facebook via Stroop

ʼn Paar dae gelede is ʼn vriend van my, Don English, wat ʼn streekveldwagter in die Krugerwildtuin is, lelik deur ʼn buffel gegaffel. Hy het sy eie lewe gered deur op die rug van die buffel aan die dier se horings vas te klou, letterlik vir lewe en dood. Volgens sy familie is hy besig om goed aan te sterk en sal gou weer op die been wees.

Wêreldveldwagterdag is ʼn geleentheid om ʼn oomblik stil te staan, na te dink oor wat hierdie veldwagters doen en die opofferings wat hulle maak en die belangrikste van alles, om dankie te sê.

Die renosterstropingskrisis is ’n oorlog. Dit is ’n komplekse oorlog teen stropery wat gevoer word. Renosterhoring is deesdae die waardevolste kommoditeit op aarde en ons is op die plek op aarde waar die meeste renosters is. Natuurlik gaan misdaadsindikate die land binnedring.

In die Krugerwildtuin het renosterstropery só toegeneem dat veldwagters nou ongeveer 80 persent van hulle tyd bestee aan wat as niks anders beskryf kan word nie as pure, amper militêre styl wetstoepassing. Hierdie manne en vroue is dag en nag op die spoor van stropers en hulle weet nie of hulle die einde van die dag gaan sien nie, of hulle weer saam met hulle gesinne sal wees nie, en ek bedoel dit.

Ek het al veldwagters gesien wat aan stresafwykings ly as gevolg van die trauma wat hulle op ʼn daaglikse basis aanskou en die drukpot van gewapende konflik-sones. In 2015 het die internasionale veldwagtersfederasie aangemeld dat 41 van Afrika se veldwagters hul lewe verloor het in die uitvoering van hul pligte.

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

Veldwagters het basies met dieselfde scenario’s te make as soldate tydens ʼn geveg. Hulle word deur beserings en die dood in die gesig gestaar. Hulle word blootgestel aan gru-tonele, elke gestroopte karkas is ʼn frustrerende herinnering aan mislukking en hulle werk in die veld onder moeilike omstandighede, baie keer met onvoldoende toerusting, betaling en ondersteuning. Wanneer hulle nie op die slagveld is nie, getuig hulle in die hof. Maar selfs al kry hulle daagliks hiermee te make, het genl.maj. Jooste van die Krugerwildtuin bevestig dat nog nie een veldwagter die handdoek ingegooi het nie. Wat ʼn ongelooflike opoffering vir die natuur!

Dis soos Nicholas Funda, hoofveldwagter in die Krugerwildtuin, sê: “Stropers werk nie van agt tot vier nie.” Ons veldwagters word vir sewe dae per beurt ontplooi, soms selfs langer. Hulle is weg van hulle gesinne, van hulle huise vir lang tye op ʼn slag. Ek was al saam met van hierdie eenhede uit om die slagveld op kamera vas te vang en ek kan vir jou een ding sê… soos mooi soos die wildernis ook al mag lyk – dit is ontsettend taai daar buite.

Ons praat van moeilike terrein, uiterse temperature… en hierdie is net sommige van die elemente waarmee hulle moet rekening hou. Die gebrek aan slaap is nog ʼn groot faktor – en glo my, dit is bykans onmoontlik om in die nag warm te bly weens die gebrek aan beweging, jy moet so stil as moontlik bly sit en vuurtjies kan nie brand nie en dan natuurlik die stilte – daar is radiostilte in die nagtelike ure. As ʼn groep stropers die park binnegedring het, dan is dit hierdie eenheid wat sal reageer. Ek gaan weens veiligheidsredes nie die besonderhede verskaf van hoe dit gedoen word nie, maar in sommige gevalle lei dit tot kontak met stropers.

ʼn Interessante feit, volgens statistieke, is dat daar ʼn groter kans dat ʼn veldwagter sal sterf in die uitvoering van sy of haar pligte as ʼn spesiale agente vir die FBI.

Daar is eintlik ʼn baie eenvoudige en maklike manier om ons veldwagters te laat besef dat ons agter hulle staan in die stryd om ons natuurlewe te beskerm – en dit is sosiale media. Ons ken die mag van hierdie medium, ons skep onderwerpe, en inskrywings gaan “viraal”. So hoekom nie dieselfde doen vir ons veldwagters nie?

Die ander manier om dankbaarheid te bewys, is om nie moed op te gee nie, om nie vuisvoos te raak vir die renostersage nie. As ons van die veldwagters, die veeartse, die staatsaanklaers, die mense wat vir renosterwesies sorg, om maar net ʼn paar te noem, verwag om nie moed op te gee nie, hoe durf ons as die publiek moed opgee?

Besoek STROOP se Facebook-blad vir meer inligting.

Luister hoe vertel Bonné self oor Wêreldveldwagterdag:

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marianne ·

Bonne my end die 50/50 span is my helde! Julle waag Jul lewens om weerlose diere te beskerm…. Ek wens daar was meer mense soos jy!!
Sterkte met Jul veldtog, mah God gee DAT julle ‘n deurbraak maak.

Joann ·

En daar is van hulle wat dan net soos stropers is,stroop saam.

Pietie ·

Bonne, pasop vir die ou (asseblief) – weet nie of jy hom kan vertrou. Opportunisme tel darem in sy guns – moet self se: Bonne is ‘n mooi meisie en toegewyd aan haar taak…as “asseblief” daarin slaag om Bonne die hof te maak, is hy ‘n gelukkige man1

Johan Piek ·

Waarom word die Weermag nie ingespan om die grense van die Wildtuin te bewaak nie. Dan kan die Veldwagters met hulle eie werk voortgaan om.die wild te versorg en na om te sien. Wat doen die soldate in die leër dan heeldag ? Die Wildtuin vorm tog deel van ons grens met Mosambiek. Het die oorgrenspark nou n wit olifant geword wat stropers geleentheid gee om ongehinderd die wildtuin binnekom ?Hulle roei n nasionale skat en erfenis uit en skend ons grens en dit lyk vir my die Leër doen absuluut niks daaromtrent nie !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.