Wildlewekonferensie: Renosters, leeus ontlok passievolle debatte

Bonné de Bod (Foto: Verskaf)

Bonné de Bod (Foto: Susan Scott)

Afgevaardigdes van oor die wêreld, 183 lande om presies te wees, het onlangs in Suid-Afrika saamgetrek vir die grootste Wêreld-Wildlewekonferensie óóit. Pres. Jacob Zuma het die konferensie geopen, amptelik genoem CITES CoP17, oftewel Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora (omdat dit die 17de een is wat gehou is) en ek het twiets gesien wat gesê het dat dit soos ʼn rock-konsert vir omgewingskundiges was.

Ek sal eerder sê dat dit soos ʼn rock-konsert was vir daardie inter-regeringspolitici wat puntenerig raak oor die kleinste besonderhede van wat ʼn byvoegsel aan ʼn klousule nou eintlik beteken. En dit was sommer gou duidelik. Onmiddellik ná die president se openingsrede, het afgevaardigdes begin werk aan verslae en byvoegsels aan dokumente van die konferensie. Dit was wêrelde verwyderd van die een waaraan ek gewoond was. En dit was ook ʼn ander wêreld van gebeure wat terselfdertyd buite afgespeel het.

Duisende betogers het tydens die Wêreldwye Optog vir Olifante, Renosters en Leeus deur die strate van Sandton geloop tot reg voor die konvensiesentrum se deure, en luidrugtig daarop aangedring dat geen handel in olifante, renosters en leeus toegelaat moet word nie. Hulle het ook sterk aangedring op Byvoegsel 1 (die hoogste vorm van beskerming wat afgevaardigdes kan gee met geen handeldryf) vir hierdie diere.

Jy sien, die “T” in CITES staan vir “trade”, oftewel handel. Hierdie konvensie bestaan om die handel in bedreigde spesies te fasiliteer en te beheer. Die idee is volksvreemd vir die meeste diereregte-aktiviste en omgewingsbewustes terwyl sakebelange en sommige omgewingskenners glo die handeldryf in bedreigde spesies het en sal wilde diere van uitwissing red.

So, vir die volgende twee weke het netjies geklede afgevaardigdes die handeldryf in kewers, bome, krokodilvel, olifanttande en nog baie meer bespreek. Sessies in die verskillende komiteekamers het vroeg begin en laat geëindig, maar baie ooreenkomste is reeds bereik in die weke en maande voor die konferensie. Finale besprekings en die beëdiging van ooreenkomste het gebeur lank nadat die son oor Sandton gesak het. Om die verwikkeldheid van hierdie samekoms te verstaan, moet ons kyk na waar die afgevaardigdes vandaan kom, en hoe hulle in die hiërargie van die CoP inpas.

Betogers teen renosterstropery (Foto: Verskaf)

Betogers teen renosterstropery (Foto: Susan Scott)

Byvoorbeeld – ʼn afgevaardigde van ʼn land sit in die voorste gestoeltes en hulle word toegelaat om te praat en te stem. Agter hulle sit die afgevaardigdes van die verskillende nie-regeringsorganisasies of sakebelangegroepe. Hulle mag wel hul stemme laat hoor wanneer ʼn voorstel bespreek word, maar het geen stemreg nie. Hierdie groep afgevaardigdes was veel meer as dié van die verskillende regerings, volgens my skatting omtrent 3 teenoor 1! Dit was amper komies om te sien hoe die Japannese Boomkapvereniging langs ʼn groep sit wat staan vir die behoud van woude!

En soos ek deur die verskillende sale beweeg het, het ek mense teëgekom wat ewe passievol gedebatteer het aan albei kante van die handeldryf-debat. Dit was bykans ʼn geloofsaak met hierdie verskillende standpunte. Die een klinies, met ʼn sakelogika wat redeneer hoekom handeldryf in diere uiteindelik sal help om hulle te bewaar, met die motivering “if it pays it stays”. Terwyl ander voel dat bewaring alreeds ’n morele verantwoordelikheid is en dat handeldryf in diere en hul ligaamsdele juis hulle voortbestaan bedreig.

En hier praat ons net van wettige handeldryf; dan is daar ook natuurlik onwettige handeldryf in wildlewe, die derde grootste strafregtelike aktiwiteit wêreldwyd. Onwettige handeldryf is ʼn groot bedreiging vir enige regering se stabiliteit omdat dit deur groot misdaad-sindikate bestuur en beheer word. Die afgevaardigdes moes dus ook na hierdie element kyk en hoe dit wettige handeldryf ondermyn.

Die CITES CoP17 Wildlewekonferensie (Foto: Verskaf)

Die CITES CoP17 Wildlewekonferensie (Foto: Susan Scott)

Tydens CoP16 drie jaar gelede, het CITES vir ʼn verslag van die ietermago-state* gevra, en die state moes gereeld vergader sodat daar tydens CoP17 besluit kan word of daar ʼn beduidende gevaar vir die diere is indien hulle op Byvoegsel 2 bly (waartydens handeldryf toegelaat word met permitte van CITES). Die verslag is in Sandton voorgelê en die afgevaardigdes het met 114 teen 1 gestem om ietermago’s na Byvoegsel 1 (die hoogste vorm van beskerming wat afgevaardigdes kan gee met geen handeldryf) te skuif omdat hulle op die rand van uitwissing staan. Daar was ’n oorverdowende applous toe die stem geslaag het.

Twee van die mees omstrede debatte het gehandel oor leeus en olifante. Soveel so, dat dit selfs ʼn skeuring tussen Afrikalande veroorsaak het, iets wat die internasionale media opgeslurp het. Bykans 30 Afrikalande, waaronder Botswana en Kenia, het gevra vir die skuif van alle olifante na Byvoegsel 1 (die hoogste vorm van beskerming wat afgevaardigdes kan gee met geen handeldryf), terwyl Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië nie wou hê dat die stemmery moet slaag nie, aangesien olifante tans op Byvoegsel 2 (waartydens handeldryf toegelaat word met permitte van CITES) is en hulle nie daarvoor te vinde was om deur ander Afrikalande gedwing te word om hulle olifante op te skuif nie.

Namibië het selfs gedreig dat hulle algeheel aan CITES sal onttrek. Dit het Europa en Amerika laat omswaai en ten spyte van hulle ondersteuning aan Kenia en die koalisie, het hulle uiteindelik saam met die drie Suider-Afrikaanse lande gestem wat skokgolwe deur die saal gestuur het. Botswana het onmiddellik daarna uit vrye wil hulle olifante self na Byvoegsel 1 opgeskuif en siende dat hulle die land is met die meeste olifante in die wêreld, was dit ʼn baie sterk boodskap oor die stand van olifante. Om die waarheid te sê, dit is vir my baie moeilik as ek na die syfers kyk … een miljoen olifante in 1980 en net meer as 300 000 vandag … dit is ’n daling van 10 tot 3 en dit met CITES in plek. Ek kon die skok van baie mense verstaan.

Die CITES CoP17 Wildlewekonferensie (Foto: Verskaf)

Die CITES CoP17 Wildlewekonferensie (Foto: Susan Scott)

Maar dit was leeus wat vir die mees omstrede debat gesorg het. Nege Afrikalande wou die beskerming van leeus verhoog deur hulle van Byvoegsel 2  (waartydens handeldryf toegelaat word met permitte van CITES) na Byvoegsel 1(die hoogste vorm van beskerming wat afgevaardigdes kan gee met geen handeldryf) te verhoog. Dit was met die oogmerk om ʼn einde te bring aan die handeldryf in leeubene. Maar afgevaardigdes het toe agter geslote deure vergader en ʼn veranderde voorstel voorgelê. Die finale voorstel het leeus op Byvoegsel 2 laat bly, maar met “geen jaarlikse kwota vir bene, gedeeltes van bene, naels, geraamtes, kopbene en tande wat uit die natuur verwyder is vir kommersiële doeleindes” nie. Dit is egter net op wilde leeus van toepassing en nie op leeus wat in aanhouding geteel is nie.

So, dit beteken Suid-Afrika kan sy eie kwota daarstel vir dieselfde liggaamsdele en produkte wat afkomstig is van die diere wat in aanhouding geteel is. Basies het CITES dus die handeldryf in leeubene vir verbruik in Asië goedgekeur. Nie net aktiviste nie, maar baie omgewingsbewustes met wie ek gepraat het, voel dat dit ’n groot verlies was vir die magtige Afrikaleeu.

Wat renosters betref … Swaziland se passievolle voorstel om die handeldryf in renosterhoring te wettig is afgekeur. CITES het gestem dat die verbod op die internasionale handeldryf in renosterhoring voortduur en dit is duidelik gemaak dat daar geen ruimte vir verdere besprekings oor handeldryf in enige vorm is nie. Dit was ʼn oortuigende “nee” met 26 lande wat ten gunste van die voorstel gestem het, 17 lande wat buite stemming gebly het en 100 lande wat daarteen gestem het.

Soos ons weet, is daar groot verdeeldheid onder Suid-Afrikaners oor die wettige handeldryf in renosterhoring, met die meerderheid van wildsboere wat dit ondersteun terwyl ons regering ook ʼn spesiale komitee aangestel het om na die moontlikheid van handel te kyk. Die komitee se bevindinge is vroeër vanjaar ontvang en hulle het aanbeveel dat die huidige berging van horings in plek moet bly. Hulle het egter ook ʼn duidelike boodskap gestuur dat alvorens daar na handel gekyk kan word, meer gedoen moet word om doeltreffende wetgewing in plek te stel asook beter biologiese bestuur.

As ek so na die aanduidings van die regering kyk en die sterk ondersteuning van privaat renostereienaars, is ek bykans seker dat Suid-Afrika die wettiging in die handeldryf van renosterhoring by die volgende CoP in Sri Lanka in 2019 gaan voorlê. Hoe goed dit ontvang sal word, gaan afhang van wat met ons renosters in die volgende drie jaar gebeur …

Als in ag genome, was dit ʼn CoP van baie besluite, en wat hierdie besluite vir die verskillende spesies gaan beteken, sal ons net mettertyd weet. Daar sal altyd verskillende menings wees, dit is menslike natuur. Maar die beskerming en uiteindelike oorlewing van diere en plante moet altyd die fokus wees en dit is tog waarvoor CITES in die eerste plek geskep is.

*Staat – die lande waar daardie spesifieke spesie leef, oor vlieg, heen migreer of in handel gedryf word.

Besoek STROOP se Facebook-blad vir meer inligting.

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

M'Lady ·

Volgens my persoonlike mening was die sogenaamde konferensie n reuse flop. Handeldryf is nie meer n opsie nie bewaring moet nou die nommer een prioriteit wees. Alles gaan oor geld en die wildlewe is aanmekaar aan die verloor kant.

Johann ·

As julle al ooit rooibek kweleas in die natuur in hul massas dopgehou het, hulle is natuurlik groepvoëls, sal julle sien hoe hulle in hul natuurlike habitat optree. Dit is ‘n ongelooflike gesig om dit te ervaar. Dan sien mens die voëltjies in hokke/koue in die troeteldier winkels, waar hulle ingehok is, weg van hul groep waar hul hoort, dis niks anders as met boeie aan in gevangeniskap nie, dan besef mens wat bawaring is, vry in die natuur. Dis waar die diere hoort, daar waar hulle hul natuurlike gadrag kan uitleef.

Johann ·

Dankie Elize, gaan beloer gerus die Op Vlerke facebook. Lees die boek. Die natuur was nog nooit so vertel nie. Google dit.

Ironies.... ·

Als goed en wel die optog vir die diere ek stem 110% maar waars die optogte vir al die blanke boere wat so amper daagliks uitgemoor word!!!! Niemant hier in die buiteland hoor van dit nie behalwe as jy maroela lees so gaan die slagting maar voort sonder druk op daai regering!!!!!

Jakobus ·

Dit is nie waaroor dit hier gegaan het nie, jy vra dit op die verkeerde forum. Cites gaan nie oor boere en plase nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.