Wittebrood

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Dis nogal ʼn veelseggende woord dié. Dis seker die rede dat vandag se kinders praat van “honeymoon” want hulle word mos groot met “croissants” en ander fyngebak vir brekfis. Maar vir ons ouer gardes was ʼn witbrood ʼn lekkerte.

Ek en die Duitser belowe mekaar trou 41 jaar gelede doer in Pietermaritzburg. Toe die son daai middag so sak oor die Drakensberge vat ons skoonpa se nuwe 2.4D-Mercedes want my ou Fiat-tjor was darem hopeloos te gedaan. Sak daar af na die Edenrock-hotel in Durban reg op die voorstrand. Mens – ek was grênd toe ons donkeraand daar instap met die mooie Duitser aan my hand.

Na brekfis die Sondagoggend is ons voort want mens kan jou siek eet aan fyngebak so ons bly net een nag daar. So vat ons die pad af Kaap toe want ek moet darem die mooie mens loop wys daar vir die lot in Namakwaland. Kuier ewe die Sondagmiddag by haar broer waar hy sy diensplig doen in Bloemfontein. En toe beur ons voort suidwaarts. Iewers in die vale vlaktes van die Vrystaat sal ons mos darem ʼn lekker slaapplek kry.

Dis donkeraand toe ons Jagersfontein se strate vat. Reg in die middel van die hoofstraat loop ry ons amper in ʼn pikswart trein vas. En toe kry ons die hotel daar neffens die spoorlyn. Seker die “Railway”-hotel of die “Grand”-hotel maar dit was te lank gelede. Dis doodstil toe ons hand-aan-hand daar instap en ons vind geen siel wat ons kan help nie. Later kry ons darem ʼn verlore kroegman wat half bedwelmd kaart met homself sit speel. Skynbaar het hulle darem ʼn enkelkamer met ʼn smal bedjie beskikbaar vir ons twee. Dis “upstairs” en ons stap die kamer in op so ʼn krakerige plankvloer, as mens jou kopkussing skuif dan kraak die bedryf luidkeels.

Volgens die kroegman is die kombuis reeds toe vir die aand maar hy kan vir ons iets saamslaan vir aand-kos. Witbrood met gebakte eiers en pienk polonie met sulke flou teetjies daarby. Die trein het ons vroegoggend uit die vere gejaag. Toe vat ons die pad af na Strandfontein.

Pappa het destyds ʼn opslaan-huisie daar gehad kompleet met gasligte en paraffien-yskaste. Ek dra roosters en stoele uit en die Duitser skrop en vee en klop gordyne uit. Lateraan is “Gesondheid” leefbaar en ons vat die derde been van onse wittebrood. Destyds was kreef nog volop en ek moet darem my bruid verwen aan die Weskus se lekkernye. So ons koop bokkoms op Papendorp en ek duik ʼn klompie kreef uit. Ewe liefies skil ek die bokkoms en voer die Duitser net sulke mooi afgestroopte stukkies bokkom. En sy pak in. Toe maak ek die krefies op die tafel sit op koerantpapiere kompleet met ʼn lekker tamatie-mayonnaise-doopsousie. Toe pak die Duitser behóórlik in.

Ons is erg opreg destyds so dis net Coke en Appletizer wat vloei. Ouder gewoonte loop soek ek die nagstiltes op en sit vir ʼn ruk op die stoep om die Weskus behoorlik te kan indrink. Toe ek weer instap sluk die Duitser die laaste van drie kreefstertjies. Iewers daai nag skop die narigheid in. Dit hou ʼn volle drie dae en nagte aan – amper soos oom Noag se reën. Die arme kind het later maar teen die pot van die toilet sit slaap. Tot vandag toe sluk sy nie maklik aan Appletizer nie. So is ons terug na Zoeloeland ná ʼn heerlike wittebrood.

Maar as die ouens so sing van die “Railway Hotel” dan kry ons veraf kyke. Die jongmense ken van Mauritius en Parys maar ons ken van Jagersfontein se treine in die nag. En ons huwelik klou en die Duitser bly mooi en ons sien nog kans vir baie. Sakke sout en boerbrood en soms bitter koffie. Ons grinnik in ons stilligheid en kyk kopskuddend vir die fyngebak en dank die Here vir ons Wittebrood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans Richardt ·

Mooi storietjie.
Myne was tent ⛺ en die wind wat stormsterk sand waai oor Elandsbaai. Dit het later kenmerk van kortstondige huwelik geword….

Inks ·

Ai hoe onthou ek nou, ons s’n is net oor die 33 jaar terug en op die tweede dag verstuit my man sy voet lelik agv lawigheid en toe is ek die enigste wat kan bestuur en dit was oneindige kilometers van stofpad ry in die destydse Suidwes. Maar dit was soooo lekker!

Stephan de S ·

Dankie Koos vir die mooi gevoelvolle vertelling. Ek wonder of julle nag tussen die treine nie op Fauresmith was in plaas van Jagersfontein!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.