Wonder jy ook?

bremner gebou universiteit kaapstad

Betogers buite die Bremner-gebou by die Universiteit van Kaapstad Foto: Carla Bernardo, African News Agency

Ek kyk die afgelope paar dae met verbasing, skok en geweldige afkeur na wat op ons mooie kampusse regoor die land gebeur. Ek probeer dit ontleed vanuit die sosiale sielkunde, teorieë oor rewolusie, politieke en ekonomiese toestande, kultuuragtergrond en die rewolusie-mentaliteit en grootword wat dalk ʼn rol kan speel. Ek wonder of ’n mens dit kon voorspel, wie verantwoordelik is en hoe die situasie gaan uitspeel of ontlont kan word.

Hoe meer ek dink en lees, hoe meer vrae het ek.

Wat ek wel weet is hoe ek voel en hoe duisende ouers, studente en ander moet voel wanneer hulle die chaos en onrus aanskou. Vir my gaan dit nie meer oor die kwessie van klasgeld nie. Almal kry ekonomies swaar en sukkel om kop bo water te hou.

Dit is te verstane, maar wat het skeefgeloop? Wat het gebeur dat groepe bogemiddelde intelligente mense so ongedissiplineerd, disrespekvol, onverstandig en bekrompe optree? Hoe kan groepe denkende mense deur klein groepies politieke aktiviste opgesweep en aangehits word? Is daar niemand wat dit bevraagteken, ondersoek of daarteen kan opstaan nie? Ek weet baie sal sê ek verstaan nie die hart en siel van die opstande en wat hulle poog om daardeur te bereik nie.

Wat ek wel weet, is dat dit ʼn voorreg en grootse geleentheid is om by die hekke van ʼn universiteit in te stap, by kenners te leer en jouself voor te berei vir die toekoms en jou beroep. Hoe bevoorreg is iemand om by ʼn universiteit te kan groei en ontwikkel, te kan dink en droom. Van ander maniere van dink en doen te leer, jou perspektief en siening van die lewe en die wêreld uit te brei en te vergroot. Om logika en rasionele denke te ontwikkel. Baie van die opstandige studente het beurse gekry, groot somme geld om jaarliks mee te studeer om daartoe by te dra dat ons ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika kan bou.

Waar is die besef van die belangrikheid van waarmee hulle besig is? Is hierdie opstande belangriker as om vir eksamens voor te berei? Dink iemand aan die skade wat agtergelaat word, fisies en psigies, die wantroue, onverdraagsaamheid en vrese wat onsekerheid en dalk wanhoop skep.

Wat gaan hierdeur bereik word wat positief is – op die lang duur? En ja, daar is sekerlik dinge wat moet verander, maar is daar nie beter maniere nie?

Wat sê ek nou eintlik? Ons kan nie ten volle verstaan nie, ons kan nie heeltemal ontleed wat aangaan en by ʼn sinvolle antwoord of vinnige konstruktiewe oplossing uitkom nie. Wat ek sê is dat dit tyd is om hierdie soort gedrag af te keur, nie op ʼn wanhopige en hopelose, moedelose manier te kritiseer nie, maar deur betrokke te raak by mense en groepe wat die situasie positief kan help oplos. By Solidariteit is mense op die hoogste vlak besig om te dink en te redeneer en te beplan wat die beste volgende stap kan wees. My beroep is om Solidariteit se planne te help ondersteun, met nuwe idees vorendag te kom en te help dink wat ʼn ieder en elk kan doen, al is dit die kleinste dingetjie om eerder op te bou as af te breek, om eerder betrokke te raak as te onttrek en om te bid eerder as te oordeel.

Al het ek baie vrae en onsekerhede en al wonder ek ook, voel ek veilig hier by Solidariteit waar ons nie sal toelaat dat daardie soort optrede ons onderkry en saboteer nie. Ons gee nie moed op nie en ons is nie lamgelê nie. Ons werk en ons bou aan ʼn beter toekoms vir onsself en ons kinders – elke dag!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Roxy ·

Dis nie noodwendig bo gemiddelde intelligente (jammer oor die spelling, engels is makliker) wat hierdie proteste aanhuts nie. Hierdie is meestal in my oë ongemaierde “kinders” wat dink alles in die lewe is veronderstel om op n silver skindbord aan hul gegee moet word. Ek is 11 jaar uit die skool uit met bo gemiddelde punte en 3 onderskeidings en kry geen teolating tot universiteit in Gauteng nie…. Ek prober elke jaar. Ek is nie finansieel af genoeg om alles self te betaal nie en sal moet lenings aangaan. Ek wil nie “hand outs” he van die staat af nie, want as ek die teolating kry sal ek elkgeval aan die staat terug moet gee.

Hierdie kom vir my voor dat dit net weer ‘n reaksie is op iemand se onkunde.

Baie van hierdie mense besef nie eens dat laerskool registrasie fooie tans tussen R1100 en R2500 per jaar beloop nie. Ons protes nie hieroor as ouers nie, ons aanvaar die staat se besluit rakende dit.
Dis vir ons kinders se toekoms en as die mense nie die verhogings kan aanvaar nie, Skuif hulle uit, beweeg aan na die wat regtig daar wil wees.

Francois ·

Ek is baie skepties om hier kommentaar te lewer, want Maroela publiseeer net wat HULLE wil, maar ek gaan in elk geval probeer.

As jy ‘n president het nie ‘n vlenter omgee vir niemand nie, behalwe jou self en jou kaders nie, is dit wat vir ons nog lank voorlê. Dit gaan erger raak as hulle nie dadelik vir zuma van sy pos onthef nie (die ding van ‘n mosie van wantroue werk nie) en iemand in sy plek kry wat dan links en regs afdank en die REGTE mense in die REGTE poste aanstel. Die ANC sê dan reguit en blatant dat geen wet of hof hulle sal stuit nie..Is dit demokraties of nie? Watse boodskap stuur dit uit na buite?

So as hy (zuma) as ‘n voorbeeld beskou moet word – wat nie eens syfers kan lees nie, is dit geen wonder die Studente gaan so aan nie, ook die Polisie, Eskom, SAA, PRASA en so kan ons aanhou….

Johann Marx ·

Hierdie situasie ontstaan omdat hierdie land ‘n regering het wat nie “op Universiteit” was, en soos volwassenes sinvol ‘n gesprek kan voer oor ‘n problem, en met ‘n werkbare oplossing vorendag kom nie. Dit wat nou gebeur, is AL TAAL wat die regering verstaan……daarom praat ons hom!!

Dewald Alberts ·

Hierdie is vir my `n klassieke voorbeeld van die binnegeveg tussen onkunde en frustrasie, dit beeld presies uit dat vir die groter deel van leerders daar vanaf graad 1 `n probleem gegrond is in onderwys wat terug dateer na die “na-apartheid” verwikkelinge waar onderwys bestuur is deur Ministers wat nie alleen oorsee studeer het nie maar ook verwyder was van die Afrika kultuur. Soos in alle ander aangeleenthede is daar egter `n probleem wat vir my nie genoeg beklemtoon word nie en dit is dat ons plekke van onderwys veral op tertiêre vlak oorvol is met immigrante wat heel tevrede saam betoog. Dit is tyd dat Suid Afrika agterkom dat Suid Afrikaners eerste gestel behoort te word.

Charl Coetzee ·

Die jeug wil te veel hê en te min doen. Dis makliker om oor iets te kla as om dit reg te maak. Lees die ou fabel oor die mier en die sprinkaan.

Jaco Grobler ·

Hoe ‘edel’ sommiges die optrede ookal wil uitmaak, kan ek nie anders om te wonder oor die klas, kundigheid, en agenda van elke persoon wat die veldtog op enige manier ondersteun het nie. Selfs ‘n volwassene met ‘n lae redenasievermoeë sal vir jou kan sê dat as jy instellings se begrotings inkort, begin die instelling verswak, so dan die diens wat hy lewer, en die graad wat jy uiteindelik vang, soveel te meer kan jy dit waarborg as jy na elke ander staatsinstelling in SA kyk. As student sou ek vra vir groter subsidies per kop, gekoppel aan prestasie. As dit is hoe ons ‘slim’ jeug redeneer is die pad vir SA nog langer en swaarder as wat ek gedink het.

Fanie ·

Solidariteit het ‘n plan vasgelê wat goed is op die lange duur.
Die bekommernis is egter diegene en in hierdie geval die massa wat alles afbreek en verniet wil hê, plunder, en roof.
So die minderheid gaan aanhou bou, en die meerderheid wil net deel daarin. Hulle wil net skep.
Het Solidariteit ‘n plan om dit uit te skakel of in die kiem te smoor?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.