Weduwee van hoewemoord: ‘Dit is tyd’

Mariandra en Johann Heunis. (Foto: Verskaf)

Johann Heunis is in Oktober 2016 tydens ʼn aanval by die gesin se huis op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, doodgeskiet. Sy vrou, Mariandra, wat in dié tyd swanger was, en hul drie dogtertjies het die aanval oorleef. Die egpaar se seuntjie is vyf dae ná Johann se begrafnis gebore.

Sedertdien het Mariandra ʼn groot gedeelte van haar lewe opgeoffer om bewusmaking oor plaasaanvalle te skep. Sy het reg oor die land en wêreldwyd gereis om haar en haar gesin se storie te vertel en die wêreld in te lig oor die verwoestende impak van plaasaanvalle. Terwyl sy die stukke van haar lewe opgetel het en vrou-alleen haar vier kinders nou moet grootmaak, wou sy nie gehad het Johann se dood moet tevergeefs wees nie.

Nou wil sy op die pad vorentoe fokus.

Hierdie skrywe word met Mariandra se toestemming op Maroela Media gepubliseer.

(Foto: Verskaf)

Deur Mariandra Heunis

Ek het lank gestoei met dié een. Ek het dié kruis met mening al twee keer ingekap teen die Ysterberg. Maar ek dra hom nog elke dag. Ek het al ver oor die see gereis en hierdie kruis swaar saamgedra.

Vir amper drie jaar is ek amper voltyds betrokke by bewusmaking en het ek al soveel keer die nare verhaal, wat amper ons lewens verwoes het, vertel. Elke keer, elke oomblik herleef. Dan moet ek terugkeer na die nuwe normaal waaraan ek met sweet, trane en frustrasie en nuwe herinneringe gebou het. Elke keer getrigger; die trauma weer vars oopgeskaaf en dan bloei my hart en jaag my kop resies teen tyd. Tyd wat verby is en nooit weer kan wees, tyd wat nooit ooit gaan stilstaan vir ʼn oomblik dat ʼn mens jou asem kan terugkry nie.

Ek het vandag besluit om daardie kruis saggies neer te sit. Ek het besluit om ʼn bietjie terug te staan daarvan. Ons is een verhaal uit duisende. Dit is hartverskeurend.

Maar, ek is net ek. Ek is nie nét ʼn weduwee van ʼn vieslike plaasmoord nie. Ek is ʼn mamma. ʼn Enkelmamma. Voltyds. Ek het ʼn heeltydse beroep. Ek werk met liefde en dood elke dag. Ander mense se seerste seer. Dít is my werk. Ek is ʼn hartsmens. Ek lewe met ʼn doel en ʼn passie. Aspris.

Dit is tyd om my fokus te verskuif. Om steeds elke dag ʼn verskil te maak. In wat ek doen en wat ek sê. Waar ek is. En waar ek gaan.

Ek fokus op nuwes. Ek sal steeds praat. Maar ek wil praat oor die pad ná. Die opstaan, afstof, hoop. Lewe ná die dood. Liefde. Aanhou, uithou. Die klein oorwinnings. Hoe ver het ons gekom.

Ek wil ʼn verskil maak met Lig. Dat my woorde eggo in harte van ander vir ʼn ander doel. Daardie aand kan ons nie vir die res van ons lewens ons definieer nie. Ek het ʼn getuienis van hoe ons gewen het. God is daar. Hy was daar. Hy is hier.

Hierdie “storie” het ek al oor en oor en oor vertel. Orals. Ek het myself, my kinders, ons seerste seer en grootste vrese blootgestel, oor en oor en oor. Vir ʼn goeie doel. En dit was goed. Maar dis nou tyd om asem te skep. Dis tyd, tyd om te gee. Tyd wag vir niemand. Ek voel ek het my beste gegee. Al het alles soms geskree om te stop.

Mariandra Heunis by die skildery waarin die as van haar man, Johann, ingeverf is. (Foto: Mariné Lourens)

Dit is tyd.

Ons is al gewoond aan ons nuwe normaal. Ons het oorleef tot hier. Die daaglikse uitdagings is om van te lag, #heunismalhuisie, huil soms in frustrasie, dit vat baie. Ek moet my beste energie in hierdie uitdagings stoot. Dit is ons toekoms. Dag vir dag. Dit is tyd vir ék om net ek te wees. Groei, lewe, lag, hoop.

Vir elkeen se liefde, ondersteuning en gebede sê ek dankie. Dit het my gedra as ek gevoel het ek wil nie meer nie. En ek wou al soms nie meer nie. Baie keer. In teenstelling met negatiwiteit, was dit dít wat elke dreigement, lelike opmerking en teenstand die moeite werd gemaak het. Moenie ophou bid nie.

Daar is hoop vir hierdie stukkende land van ons. Ons huis, Suid-Afrika. Al is dit net ʼn klein bietjie hoop, dis dáár. Waar hoop is, is lewe. Waar lewe is, is hoop. Ons storie is ʼn getuienis daarvan.

Liefie, jou naam is vir ewig op daardie kruis. Maar dit definieer jou ook nie. Jy was ʼn wonderlike man, die beste pappa. En jou “laaitie” mis jou, al weet hy dit nie. Jy sou hom liefhê.

Jy is ʼn legend. And legends never die.

Dit is tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Francois ·

Jou verlies, krag, deursettingsvermoe en hart het my baie geraak. Jy is n helder lig in die donkerte waarin on lewe. Bitter sterkte vir jou en joune vorentoe.

humor ·

Ek hou ook van die een waar daar hoop is, is daar lewe. Want hoop word in ons harte geplant deur EEN wat groter is as ons. Dit getuig maar net selfs in ons donkerste ure is God in beheer. Hoe langer hierdie verhaal voortduur hoe helderder sal dit jou insypel.

Lou ·

Dankie vir jou tyd en energie wat jy ingesit het om bewusmaking te skep van toestande in SA. Ek hoop en vertrou dat jou pad vorentoe makliker sal wees.
Ons moet maar net glo en vertrou dat God die oortreders sal straf met die gepaste straf anders maak jy jou eie lewe ondraaglik as jy voortdurend haat in jou ronddra. Sterkte vir jou en jou kinders.

Elna ·

Wat ‘n ongelooflike getuienis wat jy lewer..ten spyte van jou seer is jy nie bitter maar steeds vol liefde en hoop.. Bewonder jou dat jy ander so bemoedig wat dieselfde pad moet stap.. seën vir jou en jou pragtige kinders.

Christine ·

Baie baie sterkte vir jou en kinders jy is n inspirasie om deur so iets te gaan en weer op te staan .Die seer sal nooit weggaan .

Liamari ·

“Die enigste hoop in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort…Dankie Here daar is hoop na die graf!

CG ·

Wow!!!! Dit lyk my jy “vertel” nou eers die REGTIGE storie- van opstaan, aangaan, LEEF!!!! Goeie genade – wat ‘n indrukwekkende verhaal is dit nie! “Vertel” hierdie storie net soos jy wil. Mag die “vertel” baie lag en vreugde insluit! Net die beste en mooiste vir julle!

Dis Nou ·

Ons bid en vertrou dat omstandighede in hierdie mooi land van ons sal verander. Dat ons in vrede sal kan saam woon en besef ons het almal mekaar nodig

Stan ·

Dankie Mariandra, jy is ‘n inspirasie. Jou storie is lig in die duister. Mag jy van Krag tot Krag gaan en jy en jou familie geseënd wees.

colleen ·

Dankie Here vir hierdie vrou en ma se deursettingsvermoë. Seën haar en haar gesin ryklik.

Jerry ·

Die slegste sleg het jou en jou kinders getref en jy het dit die heeltyd saam gedra tot nou toe, maar nie een tree verder nie, daarom is dit nou tyd!

Jeremia ·

Mag die Here jou en jou kinders steeds in die holte van Sy hande hou.
Hy sal julle vashou.

christa ·

Dankie Vader vir hierdie Wonderlike Vrou en Mamma versterk haar en haar Kindertjies
Dankie vir wat Jy Doen vir ons Pragtig Land

ChrisE ·

Ek ken jou glad nie. Ek haal my hoed vir jou af. My familie is deur dieselfde ervaring. Hy was een van ‘n hele paar. Mense glo nie as ek sê hoeveel familielede van my op die manier aan die einde van hul lewens gekom het nie. Die moeilikste vir my was die vergifnis van die persone wat dit gedoen het. Dit het my lank geneem. Ek kan net ons Hemelse Vader dank dat ek vergifnis in my hart gekry het. Die wraak kom my nie toe nie. Ek is bevry van haat en woede. Ek wens niemand dit toe nie. Sterkte vir jou. Een dag sal jy antwoorde kry. Leef vir jou kinders. Hulle is baie bevoorreg om jou in hul lewens te hê.

Penellope Jones ·

Sjoe, dit is ‘n hartseerverhaal maar terselfdertyd ook ‘n verhaal wat lewensblyheid en deursettingsvermoe weerspieel, hartbreek-situasies wat sy moes oorkom, maar ook liefde vir die lewe wat sy en haar kosbare kinders beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.