16-jarige belê met mening in sy toekoms

Henno Nel (Foto: Verskaf)

Seuns van 16 is dikwels eerder ingestel op meisies, rekenaarspeletjies, kuier saam met vriende en TikTok as op die aandelemark. Maar Henno Nel van Bothaville in die Vrystaat het by die multi-miljardêr Warren Buffet geleer dat jy nooit te vroeg met geld kan begin woeker nie. Daarom het Henno op 15 sy eerste aandele gekoop.

Hy vertel dat hy nog altyd nuwe maniere gesoek het om geld te verdien. Hy het al motors gewas, goedere verkoop en het ʼn onderneming begin wat sakke van egte leer vir vuurwapens maak. Die geld wat hy op dié manier verdien het, het hy toe begin belê.

“Die feit dat ons in so ʼn onseker ekonomiese tyd lewe het my laat besef hoe vinniger ek my geldsake kan regkry hoe beter sal dit vir my in die toekoms wees,” is sy wyse woorde.

“Ek het besef my geld sal meer in ʼn belegging verdien as wat in ʼn spaarrekening die geval sal wees. Met ʼn spaarrekening kry jy byvoorbeeld ʼn 5%-opbrengs per jaar, maar in my aandele verdien ek opbrengs van sowat 25% per jaar,” sê hy.

Dit beteken dat sy geld sowat vyf keer meer in aandele verdien as wat dit in ʼn gewone spaarrekening die geval sou wees.

Henno het homself geleer om die aandelemark te lees en het tans aandele in meer as tien Suid-Afrikaanse en internasionale ondernemings. Hy vertel dat hy nog altyd baie nuuskierig en finansieel aangelê was, en dat dié eienskappe hom na die aandelemark gelei het.

“Warren Buffet het eenkeer gesê die enigste ding waaroor hy spyt is, is dat hy nie vroeër sy geld begin belê het nie, en hy het op die ouderdom van 11 begin. Ek het nie baie van aandele geweet toe ek begin het nie, maar hoe vinniger ʼn mens begin, hoe vinniger leer jy. Daar is baie Instagram-blaaie, webinare en video’s om ʼn mens te help,” sê hy.

Henno wil graag ná skool aktuariële wetenskap gaan studeer, maar hy sê hy hou sy kop oop vir ʼn klomp ander loopbane ook.

Henno Nel (Foto: Verskaf)

“Ek weet nog nie wat ek met die geld gaan doen nie, maar ek is seker ek gaan dit baie goed kan gebruik in die toekoms,” sê hy.

Baie van sy vriende het hom ook al gevra hom hulle te leer om hul geld beter te belê, veral nadat sy beleggings se goed gedoen het.

Sy ouers is in hul noppies met hul seun. “Ek kry baie ondersteuning van my hele familie,” sê hy.

Henno vertel dat sy beleggings op die oomblik selfs vinniger groei as sy ouers se aftreeannuïteite.

Sy groot droom is om teen die ouderdom van 30 ʼn miljoen rand in aandele te besit. Hy wil dan begin deur ʼn klein huis te koop, dit te verhuur, nog een te koop, en so aan te hou totdat hy eendag ʼn woonstelblok kan koop wat ʼn goeie passiewe inkomste vir hom kan verseker.

  • Hierdie berig is gewysig na die plasing daarvan – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Ek salueer jou insig wysheid en ondernemerskap jong man!

Lukas ·

Baie goed, en probeer inderdaad andere kinders te oortuig om ook so te maak en help hulle. Op skole word maar baie min aandag bestee aan ‘hoe om met geld om te gaan’ . Vergeet van luukse goed om te koop later as jy geld genoeg het kan jy maak wat jy wil. Een baie good advies wat ek jare gelede gehoor het van IT techneute is dat jy jouw finansiele sake moet reg he wanneer je tussen 40 en 45 jaar is want daarna raak je niet meer nodig omdat j je nie meer kan by hou met die techniek.Andere jongere mense sal oorvat en jouw vervang.
Mooi loop
Lukas

BoerSonderRoer ·

Ek was ook baie opgewonde op sy ouderdom oor aandele.
Toe eiendom.
En toe leer ek van regstel aksie en swart ekonomiese bemagtiging.
Toe swot eerder met my geld ek en emigreer.
Ek hoop Henno het meer hoop as ek.
Geluk Henno. Wel gedaan.

Vrijburger ·

Puik jongman. Onthou om te diversifiseer – spesifiek om buitelandse aandele te koop. Insluitend om geld landuit te vat en direk in die buiteland te bele – belangrik om jou te verskans teen die politieke vergrype en ekonomiese agteruitgang in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.