3 belastingvoordele waarvan jy moet weet voor 28 Februarie

(Foto: Stevepb/Pixabay)

Met minder as tien dae oor voor die 2020-’21-belastingjaar tot ʼn einde kom, het Frik van Wyk, ʼn senior welvaartsbestuurder van Sanlam, Graviton Welvaart, ʼn paar nuttige belastingwenke verskaf wat jy optimaal moet benut voor 28 Februarie.

1. Aftreefondsbydraes

 Dit sluit bydraes aan pensioenfondse, voorsorgfondse en uitree-annuïteite in. Die maksimum aftrekbare bedrag wat jy kan bydra, is 27,5% van jou belasbare inkomste, beperk tot R350 000 per jaar. Indien jy byvoorbeeld die maksimum van R350 000 bydra en jy in die hoogste belastingkerf (45%) val, sal die belastingvoordeel wat jy kan terugeis ʼn allemintige R157 500 wees.

 2. Skenkings

Het jy geweet dat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Solidariteit Helpende Hand jou belasbare inkomste met ʼn maksimum van tot 10% kan verminder, terwyl jy terselfdertyd daarmee ʼn weldaad kan verrig. Indien jou belasbare inkomste byvoorbeeld R700 000 per jaar is, sal ʼn maksimum aftrekbare skenking van R70 000 toegelaat word ingevolge artikel 18A van die Inkomstebelastingwet.

 Wenk: Maak seker dat die welsynsorganisasie aan wie jy skenk as OWO geregistreer is en dring aan op die artikel 18A-belastingsertifikaat nadat jy jou skenking gemaak het.

Jy word verder toegelaat om elke jaar R100 000 belastingvry te skenk. Hierdie bepaling kom baie handig te pas wanneer jy byvoorbeeld ʼn leningsrekening op jou trust het.

Van Wyk verduidelik: Gestel die leningsrekening op jou trust beloop R1,2 miljoen teen ʼn rentekoers van 9% per jaar, dan sal die rentekomponent R108 000 beloop. Met hierdie bepaling kan jy R100 000 van hierdie rente wettiglik terug aan die trust skenk om sodoende die belasting op die rente te verminder.

 As jy geen rente betaal op die leningsrekening nie, is artikel 7(c) van die Inkomstebelastingwet van toepassing en sal die verskil tussen die rente bereken teen die SAID se amptelike koers en die nul rente as ʼn skenking belas word. Die R100 000 skenkingsbelastingvrystelling kan teen hierdie “geagte rente” verreken word.

Wenk: Maak seker die totale skenkings (OWO en ander) vir die jaar oorskry nie R100 000 nie, anders is daar skenkingsbelasting van 20% op die bedrag bo R100 000 betaalbaar.

3. Belastingvrye beleggingsbydraes

Elke persoon kan ʼn maksimum van R36 000 per jaar tot ʼn belastingvrye beleggingstruktuur bydra tot ʼn maksimum van R500 000. Die groot waarde hiervan is dat alle groei, inkomste en dividende uit hoofde van die belegging vrygestel is van belasting, en dat die kapitaal ook, sonder enige belasting op kapitaalwins, onttrek kan word.

Klik hier om vir Frik van Wyk ʼn boodskap te stuur, of om jou navraag met hom te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.