Agentskap glo SA ekonomie kan herstel

kredietgradering-senp-standardenpoor

‘n Skermskoot van die kredietagentskap S&P se webwerf.

Suid-Afrika het oor die naweek ʼn dubbele dosis goeie nuus gekry. Ontleders meen dit kan dalk ʼn ommekeer in die land se ekonomiese vooruitsigte teweegbring.

Die kredietagentskap S&P Global Ratings, wat die land op rommelstatus het, sê hy is daarvan oortuig dat Suid-Afrika se ekonomie sal herstel. Hy het ʼn verslag oor die land se verwagte ekonomiese prestasie en staatsskuld uitgereik.

S&P het bygevoeg dat die land se openbare finansies kan stabiliseer namate die regering ekonomiese en maatskaplike hervormings aanbring.

Ná die resessie en swak ekonomiese groei van verlede jaar het die kredietagentskap daarop gewys dat die implementering van hervormings, onder meer ook die fiskale groeiplanne wat tydens die mediumtermynbegrotingsraamwerk aangekondig is, beleggersentiment kan ondersteun.

“Dit kan beleggings lok en ekonomiese groei ondersteun,” het S&P bygevoeg.

Die maatskappy sê volgens sy projeksies sal ekonomies groei vanjaar matig verbeter.

“Die ekonomiese groei sal help dat staatsskuld in toom gehou kan word.”

Volgens die verslag het S&P vir president Cyril Ramaphosa geloof vir sy leierskap en die ekonomiese stimuluspakket wat hy verlede jaar in September aangekondig het.

S&P het in November sy huidige kredietgradering vir die land herbevestig.

Die maatskappy het egter toe gewaarsku dat die land se kredietgradering grootliks gepootjie word deur die swak tempo van ekonomiese groei, asook die fiskale tekort en groot voorsiening vir skuld by staatsondernemings.

Juis verlede week het Lesetja Kganyago, die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, aangekondig dat die sentrale bank die land se ekonomiese groeikoers vir vanjaar afwaarts aangepas het van 1,9% tot 1,7%. Die verwagte ekonomiese groei vir 2020 is 1,9%.

Intussen het Saoedi-Arabië aangekondig dat die land beoog om ʼn petrochemiese aanleg en olieraffinadery in Suid-Afrika te bou. Dit is deel van die $10 miljard-beleggings wat Saoedi-Arabië aan Ramaphosa beloof het.

Saoedi-Arabiese olie sal by die raffinadery gebruik word, het Khalid Al-Falih, die Saoedi-Arabiese minister van energie, gesê. Die presiese ligging van die raffinadery sal in die komende paar weke bekendgemaak word.

Die staatsbeheerde oliemaatskappy Aramco sal aan die stuur van die projek wees.

Al-Falih het bygevoeg dat daar ook gepraat word oor Saoedi-Arabië se moontlike belegging in die sukkelende staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel.

Volgens hom stel die Saoedi-Arabiese maatskappy Acwa Power ook daarin belang om in Suid-Afrika se hernieubare energieprogram betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Wat ek graag sal wil weet is in watter jaar die beloftes hier bo sal realiseer, ook daardie wat nou in Davos bekom word. Dan sal ek ook graag wil weet in watter jaar vorentoe sal ons op die grond die ekonomiese herstel ervaar? En derdens sal ek graag wil weet in watter jaar sal beleggings se rentekoerse meer as die infalsiekoers wees.

Jack Klok ·

“S&P glo SA ekonomie sal herstel”

Nie solank die ANC aan bewind bly en hardnekkig met hulle sosialistiese beleid voortgaan nie. Daar sal eers ‘n bewindsverandering moet kom.

Ek twyfel of die ANC ‘n bewindsverandering vreedsaam sal aanvaar. Daar is te veel persone wat in so ‘n geval benewens “bestuursposte” in die staatsdiens en staatondernemings wat met vet salarisse gepaard gaan waarskynlik hulle werk sal verloor asook die geleenthede vir grootskaalse korrupsie en selfverryking.

Die jongste onthullings oor staatskaping, die BOSASA debakel en ander skandes wat nou uitkom wys net weer dat die ANC deur en deur verrot is. Hulle sal eers soos die Israeliete van ouds 40 jaar in opposisiebanke moet sit sodat all die “vryheidsvegters” met hulle twyfelagtige morele standaarde kan uitsterf en opgevolg word duer ‘n nuwe gelouterde geslag, voordat die ANC enigsins weer respek sal kan verdien.

Peter Holmes ·

Solank n klomp kommuniste en sosialiste en staliniste aan bewind is sal die ekonomie nie groei nie. Die ergste is die kommunistiese vakbonde wat staak, brand, eiendom beskadig en onbetaalbare lone eis. Dan nog die afskaffing van arbeidsmakelaars. Die cherry op die koek is die nuwe minimum loon.

Se maar net ·

Ag al hierdie verslae en vooruit skattings is n klug. So eintlik beheer die agentskap die vooruit gang van n land se ekonomie want as die verslag gunstig is met duim gesuigde feite lok dit beleggers en dan die teendeel. Hkm lyk dit vir my of hier n gaping is vir omkoop deur regerings om positiewe verslae te kan kry.

What a joke! ·

Bwaa hahaa hhaa ja whatever…
Die anc sal dit in elk geval net weer spoedig opdons al is die herstel hoe klein…
Moet nie jul asem op hou nie …die lot weet nie wat hul doen nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.