Alle oë op Mynbouhandves

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse mynbousektor gaan die komende naweek ʼn bosberaad hou om ʼn nuwe Mynbouhandves uit te stryk.

Gwede Mantashe, nuwe minister van minerale hulpbronne, het aangekondig dat alle rolspelers in die mynbousektor by die beraad betrokke sal wees. Mantashe is vol vertroue dat struikelblokke gou uit die weg geruim sal word om die handves in wet te omskep.

Die derde handves wat deur die vorige minister, Mosebenzi Zwane, uitgereik is, het onder skoot gekom en is deur verskeie hofgedinge vertraag. Verskeie dele van die inhoud is veral deur die Kamer van Mynwese betwis.

Ingryping deur pres. Cyril Ramaphosa het die Kamer van Mynwese oorgehaal om sy hofgeding teen Zwane te staak. Intussen is Zwane van sy pos onthef en Mantashe se aanstelling wyd verwelkom.

Ontleders meen juis dat Mantashe se ervaring in die mynbousektor as werker, vakbondleier en bestuurslid hom die nodige ervaring gee om met al die partye ʼn geskikte ooreenkoms te bereik.

Die Zwane-handves was die derde een wat vrygestel is. Die vorige twee het geensins teenstand soos die laaste een gekry nie. Een van die punte waaroor wyd kritiek gelewer is, is dat dit die Gupta-gesin sou bevoordeel het. Die Guptas word aan staatskaping gekoppel.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, sê intussen dat die regering bewus is van die skade wat Zwane aan die mynbousektor gedoen het. Roodt sê Mantashe se stappe is welkom en sal die weg baan vir ʼn herstel in die sektor. Volgens hom het Zwane se aksies die land duur te staan gekom.

“Ons het miljarde rande in beleggings verloor. En buitelanders het hulle aan die sektor onttrek,” het hy gesê. Roodt voeg by dat buitelandse beleggers die jongste ontwikkelinge fyn dophou. Roodt meen dat plaaslike mynmaatskappye ook hul posisies kan hersien wat tot groter belegging in die sektor kan lei.

Suid-Afrika se mynbousektor het die afgelope 18 maande bykans 100 000 werksgeleenthede afgeskaf. Roodt sê indien die nuwe handves gunstig ontvang word, kan dit sentiment in die sektor ʼn hupstoot gee wat tot werkskepping kan lei.

“Sedert Zwane in 2015 die sektor oorgeneem het, het dit verskriklik gebloei. Ek dink Mantashe is  bewus hiervan en wil die sektor nou op ʼn herstelpad kry,” het Roodt gesê.

Suid-Afrika is die wêreld se grootste platinumprodusent. As goudprodusent is hy nog in die top-10. Van die ander minerale wat hy uitvoer, sluit in steenkool en ystererts.

Intussen het Mantashe en Ramaphosa ʼn mosie van steun gekry van die uitvoerende hoof van Anglo American, Mark Cutifani.

Cutifani sê sedert Ramaphosa oorgeneem het, heers daar groter optimisme oor Suid-Afrika. Hy het bygevoeg dat Anglo American – wat in Suid-Afrika ontstaan het – steeds in die land se toekoms glo.

Ná Anglo se verhuising na die Londen-aandelebeurs het hy by talle projekte in die buiteland betrokke geraak en sy Suid-Afrikaanse belange afgeskaal. Cutifani het bevestig dat Mantashe verlede week hoofde van mynmaatskappye ontmoet het. Anglo oorweeg dit weer om in Suid-Afrika te belê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper Labuschagne ·

Wat my verbyster is hoe hierdie mynbouhandves wat ‘n vloeibare en subjektiewe dokument is, effektief die status en afdwingbare gesag van wetgewing verkry het. Wat my selfs nog meer verbyster is hoedat dit amper sonder protes aanvaar word.

Hoe lank voordat daar ‘n gesondheidsmanifes bestaan waaraan aptekers en mediese praktisyns moet voldoen? Of ‘n finansiëlemanifes wat gesag uitoefen oor ouditeure, rekenmeesters, belastingkundiges asook die versekeringsbedryf? En dalk die grote, ‘n lanboumanifes?

Ons is op die drumpel van ‘n bestel waar ons tot op mikrovlakke deur sosialisme beheer sal word, en bitter min mense besef dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.