Begroting 2020: Voorstelle vir meer hulp aan bejaardes

bejaardes-gesondheid-sorg-aanraak

Foto ter illustrasie (Argieffoto: Matthias Zomer/Pexels.com)

Die Ons Tuis-organisasie het verskeie verwagtinge van die jaarlikse begrotingsrede van Tito Mboweni, minister van finansies, in die hoop dat dit die lot van senior Suid-Afrikaners sal verbeter.

Die ekonomie, en dus ook die land se begroting, het ʼn direkte invloed op die lewensgehalte van bejaardes. Die jaarlikse verhoging van die verskillende staatstoelae word tydens dié begrotingsrede aangekondig.

“In die lig van die minimumloon wat in Maart met 3,8% tot meer as R3 500 per maand verhoog, hoop ons dat inflasie en lewenskoste ook in ag geneem sal word wanneer die ouderdomspensioen verhoog word. Dit is ʼn groot uitdaging vir bejaardes om met ʼn pensioen van R1 780 per maand te oorleef,” sê Jaco Bothma, die besturende direkteur van Ons Tuis.

Mboweni kyk na die belastingkoffers om die staat aan die gang te hou, maar Ons Tuis hoop dat hy die drempel vir belasting op pensioenfondse sal verlaag en dit eerder elders sal verhaal, sodat senior burgers meer besteebare fondse sal hê wanneer hulle van ʼn pensioenfonds afhanklik is.

“Dit sal van groot hulp wees indien die belastingvrye drempel vir spaargeld tot R50 000 verhoog kan word. Dit sal jonger én ouer persone aanmoedig om dan meer spaargeld weg te sit vir hulle oudag.

“In dieselfde asem stel ons voor dat ondersoek ingestel word na die moontlikheid dat die wisselkoers nie ʼn invloed op die rentekoers van beleggings het nie. Beleggings is deel van vele bejaardes se aftreeplan en veranderinge aan die rentekoers daarop, kan so ʼn plan maak of breek,” sê Bothma.

Tydens verlede jaar se begrotingsrede het die minister planne aangekondig vir ʼn raamwerk vir vroeë aftrede vir ouer staatsamptenare in ʼn poging om die swaar las van salarisse op die staat te verlig. Ons Tuis wil eerder voorstel dat die aftreeouderdom van alle staatsamptenare van 60 tot 65 verhoog word.

“Indien mense langer werk, word die bydrae tot die pensioenfonds meer wat dan lei tot ʼn beter aftrede,” sê Bothma.

Ons Tuis hoop verder dat daar nie weer ʼn BTW-verhoging sal wees nie, aangesien dit ʼn direkte merkbare invloed op die lewenskoste van ouer mense het.

“Ons wil voorstel dat alle afgetredenes ʼn pensioenkaart met bepaalde voordele ontvang. Voordele wat afslag op basiese middele soos kos, mediese sorg en medikasie insluit, sal bydra om die finansies van ouer mense te rek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janine ·

Die seniors wat HIERDIE LAND opgebou het. Dis wat hulle terugkry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.