Begroting: 3 belangrike goed om dop te hou

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

ʼn Gelaaide atmosfeer heers in die parlement in afwagting op die minister van finansies, Malusi Gigaba, se begrotingsrede.

Die politieke werklikheid is dat die land hom bevind in die middel van ʼn grondwetlike maar ondemokratiese regeringsverandering waarvan die omvang tans onduidelik is.

Oudpres. Jacob Zuma se regime is dalk verby, maar pres. Cyril Ramaphosa se regering het nog nie vorm aangeneem nie. In die woorde van Antonio Gramsci, die oue is dood en die nuwe is nog nie gebore nie.

Gigaba het sedert sy omstrede aanstelling verlede jaar in die plek van Pravin Gordhan glad nie oortuig nie en is totaal uit sy diepte. Die impak daarvan, saam met die bogenoemde regeringsonsekerheid, is dat baie mense gaan wonder of hy hoegenaamd weet waarvan hy praat wanneer hy vandag die begrotingsrede aflees, en of dit enige aanduiding van die toekoms gaan wees, gegewe dat sy swak vertoning die afgelope jaar, sy nabyheid aan die Gupta-familie en sy beweerde betrokkenheid by staatskaping as minister van binnelandse sake en minister van openbare ondernemings nie maar beteken sy kop is op die blok nie.

Is een van die redes waarom Ramaphosa die aankondiging van sy kabinetskommeling vertraag nie maar sodat Gigaba nou maar die begroting kan lewer, vervang kan word en sy hofstukke kan gaan voorberei nie? Dit was tog reeds te laat om oor die naweek ʼn nuwe begroting of begrotingsrede te begin opstel.

Dit is ʼn tyd van politieke onsekerheid, maar des te meer van ekonomiese onsekerheid, en daarom moet ʼn mens tog ag slaan op hoe die begroting lui, al is dit dan met bogenoemde voorbehoude.

Een van die belangrikste kwessies om dop te hou is die belastingbepalings. Om verskeie redes het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verlede jaar R50 miljard te min belastinggeld ingevorder. Die vraag is hoe dit ingehaal kan word. En die lakmoestoets is of die regering die moed gaan hê om BTW, ʼn weliswaar regressiewe maar ook effektiewe – en polities ongewilde – belasting, op te stoot.

Tweedens gaan die staat moet besuinig en die staatsdienssalarisrekening moet verklein. Dit gaan taai wees, en dit gaan spesifieke stappe vereis – nie net mooi klinkende ideale nie. Die makro-ekonomiese en fiskale werklikhede vereis dit.

Derdens moet daadwerklike en tasbare stappe ter verbetering van die bestuur van staatsbeheerde ondernemings aangekondig word. Die vermorsing kan nie voortgaan nie; die wanbestuur ook nie. Ramaphosa het gister in die rigting van gedeeltelike privatisering geskimp. Kom ons kyk hoeveel moed Gigaba aan die dag lê.

Gigaba se waarskynlike swanesang as minister van finansies vanmiddag gaan nie mooi of aangenaam wees nie. Die beste waarvoor ons kan hoop is dat dit dapper en toekomsgerig sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Ek verwag dat almal CANDY CRUSH gaan speel terwyl sy tande wind kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.