Belangrike nuwe wet sal alle sake-ondernemings raak

finansies-sakrekenaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

‘n Belangrike en omvattende nuwe wetsontwerp oor mededinging in die sakewêreld is deur die kabinet aanvaar en sal nou in die parlement bespreek word.

Die Wysigingswetsontwerp op Mededinging is ‘n uiters omvattende en belangrike stuk wetgewing wat betrekking het op elke sake-onderneming en wat versigtig en in besonderhede deur alle sakelui bestudeer moet word.

Die hoofpunte van die wetsontwerp is Dinsdagmiddag deur die minister van ekonomiese ontwikkeling, Ebrahim Patel, aan die parlementêre perskorps verduidelik.

Dit skep baie strenger maatreëls om mededinging te reguleer en stel strenger strawwe voor vir diegene wat sulke regulasies oortree.

Volgens Patel het die wetgewing, wat reeds deur die sakegemeenskap, vakbonde en die staat se verteenwoordigers by Nedlac goedgekeur is, ten doel om gesonder mededinging te skep, en om toegang tot die ekonomie vir kleinsake-ondernemings en nuwe ondernemings ongeag die ras van die eienaar, en vir maatskappye onder swart beheer te vergemaklik.

Volgens Patel het Suid-Afrika reeds goeie mededingingswetgewing maar sal die nuwe wetsontwerp dit verfyn en aanvul.

Een van die elemente wat getakel sal word, is die oorkonsentrasie van ekonomiese mag in sommige sektore. Sektore wat spesifiek geteiken sal word, is kommunikasie, energie, finansieel, voedsel en agri-prosessering, infrastruktuur en konstruksie, mynbou, die farmaseutiese bedryf en vervoer.

Patel het nietemin gesê daar is nie by die regering ‘n gevoel dat groot maatskappye noodwendig ‘n slegte ding is nie, veral omdat dit dikwels van gevorderde kapasiteit getuig, ekonomie van skaal moontlik maak en die geleentheid vir navorsing en innovering skep.

Die wetgewing wil knoeiery en misbruik van dominante ekonomiese posisies teenwerk, met dien verstande dat dominante maatskappye gedefinieer word as die maatskappye wat meer as 45% markaandeel in ‘n bedryf het.

Een van die bepalings wat wyd verwelkom sal word, is dat die Mededingingskommissie ‘n lys moet opstel van presies watter optrede onregmatige mededinging verteenwoordig.

Strenger maatreëls teen die kunsmatige verlaging van pryse om opponente uit die mark te knikker, word in die vooruitsig gestel, en ‘n presiese definisie van wat buitensporige pryse behels, word in die vooruitsig gestel.

Aansienlik swaarder strawwe vir onmededingende gedrag word beoog. Die reël dat ‘n waarskuwing by die eerste oortreding uitgereik word, verval. Vir ‘n eerste oortreding kan maatskappye voortaan met tot 10 persent van omset gestraf word, en vir ‘n tweede oortreding met tot 25 persent van omset.

Voorts kry die Mededingingskommissie werklik tande – hulle sal bevindings eerder as aanbevelings kan maak.

Patel meen die nuwe wetgewing sal buitelandse beleggings stimuleer omdat dit die wêreld makliker maak vir nuwe intreders in ‘n spesifieke bedryf.

Die wetsontwerp is na die parlementêre portefeuljekomitee oor ekonomiese ontwikkeling verwys en die doelwit is om dit teen die einde van die jaar op die wetboek te hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

André ·

En Eksdom.. dit verskaf meeste van ons elektrisiteit… Wanneer dit werk.. en die wet verbied nogal mededinging!

Peet ·

Moenie jou verheug in mense wat dalk afgedank gaan word nie. Oppas jou doodsklokkie lui ook.

Sê maar net 1 ·

Ja en Cyril het paar dae gelede gesê iets van dat hul moeg is om by die minderheid blankes te koop en besigheid te doen…iets van swart mense moet meer besighede bestuur en besit…
Hoekom dink ek die wetsontwerp het iets hiermee te doen?

Yvette Boshoff ·

Hoop ek is op die regte plek.
Wie ontvang die boetes wat opgelê word vir bv prysvasstelling ? Die raad op mededinging? Om hulle werksaamhede te finansier?

WW ·

Korrek.
Hierdie storie is nou natuurlik gegewe die huidige feite van onreelmatige en onregmatige uitgawes by die einste Competitions Board (surprise!). Hulle uitgawes het in die laaste finansiele jaar met iets soos 34% gestyg, as ek nou reg onthou. Natuurlik moet hulle die spesifieke soustrein aanhou voer.

Jaco ·

En dis nou die eindste regering aan wie Eskom behoort wat nou so iets wil instel…

Casper Labuschagne ·

Net nog ‘n wet wat deur burokrate op ‘n ad-hoc basis toegepas sal word en waar die verskanste doel is om die minderheidsgroep wat ekonomiese mag het te teiken. Hierdie is voorwaar nie ‘n stuk wetgewing wat ‘n enkele werk sal skep nie.

So as ek my pryse sou verlaag, kan die mededinger oorkant die straat wat ‘n swartbemagtigings onderneming is, kapsie maak dat ek hulle benadeel en uit besigheid probeer sit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.