Beurtkrag pootjie rand

Argieffoto.

Die rondte beurtkrag tans wat deur Eskom toegepas word, het ook sy weg gevind om die rand te pootjie. Ofskoon die geldeenheid stewig in Januarie vertoon het, het dit sedert die aanvang van beurtkrag Sondag die geldeenheid teen ’n snelle pas stoom laat verloor.

Andre Botha, ’n senior valutahandelaar by TreasuryONE, sê in aanloop tot die begroting volgende week, sou die geldeenheid onbestendig wees.

“Die beurtkrag en onsekerhede oor Eskom se vermoë om elektrisiteit op te wek, het egter kommer verdiep,” het hy gesê.

Botha het uitvoerders aangeraai om munt te slaan uit die rand se swakheid en om hul buitelandse verdienste teen huidige vlakke te verkoop.

Ekonome wys daarop dat die vooruitsig wat Eskom op die land se ekonomiese groei sal hê, ook die negatiewe stemming teenoor die rand aangeblaas het.

Botha se binnelandse faktore is nou die dryfkrag agter die rand se bewegings.

“Positiewe kommentaar deur pres. Donald Trump oor die Amerikaanse-Chinese handelsoorlog kon nie eens die geldeenheid ’n hupstoot gee nie,” het Botha bygevoeg.

Intussen het die hotelgroep City Lodge aangekondig dat sy wesensverdienste per aandeel met 12% van 430,4 sent tot 378,9 sent per aandeel gedaal het.

Die groep sê dat besprekings deur sakelui afgeneem het. Sy kamerbesetting het in die ses maande tot Desember van 63% tot 58% geval.

Sy bestuurshoof Andrew Widegger sê dat ’n gebrek aan sakevertroue en ’n prysverlaging die groep se vertoning gestrem het.

Hy is egter vol vertroue dat toestande sal verbeter.

Hy sê daar is tekens dat ekonomiese groei sal opswaai weens die verwagte implementering van beter beleid. Hy beskou egter die huidige rondte beurtkrag as negatief.

Die myngroep Sibanye-Stillwater het aangekondig dat hy sowat 6 000 werkgeleenthede gaan afskaal. Die maatskappy het die proses begin om kennis te gee dat hy gaan herstruktureer wat 6 000 werkgeleenthede in gedrang sal bring.

Die maatskappy sê dat sy verlies vir die boekjaar tot Desember R1 miljard sal beloop teenoor die R4.4 miljard wat hy in 2017 verloor het.

Die maatskappy sê egter die stap is nie deur die staking by sy goudafdeling, waar Amcu reeds drie maande lank staak, veroorsaak nie. Die maatskappy sê hulle het die saak met vakbonde bespreek.

Die besnoeiings sal by die Beatrix-myn in die Vrystaat se nommer 1-skag en die Driefontein-myn in Gauteng wees. Hier sal vier skagte, onder meer, 2 en 8 geraak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanna Botha ·

Alles pootjie die land …misdaad krag infrastruktuur saa denel poskantoor ag noem maar op !

Barries ·

Sou gehelp het om syfers te plaas om te wys hoe die rand verswak het.

Opisthophthalmus ·

Beurtkrag pootjie elke krag verbruikers se rand ook…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.