Big Mac-indeks: Dis die ‘regte’ waarde van die rand

(Foto: Oliver Sjöström/Unsplash.)

The Economist het ʼn interessante manier om geldeenhede se prysvlak te bepaal, en volgens dié indeks is die Suid-Afrikaanse rand tans die mees onderwaardeerde geldeenheid ter wêreld.

Volgens die Big Mac-indeks moet die Suid-Afrikaanse rand iewers tussen R5,43 en R9,32 teen die Amerikaanse dollar verhandel as ʼn mens dit met die gewilde Big Mac-burger se pryse vergelyk.

Die Big Mac-indeks is geskoei op die teorie van koopkragpariteit (purchasing power parity, PPP): Die idee dat wisselkoerse op die lang duur moet beweeg na ʼn koers wat die pryse van ʼn identiese mandjie goedere of dienste – in hierdie geval ʼn Big Mac-burger – in enige twee lande sou gelyk stel.

ʼn Big Mac word in die indeks verkies omdat die gewilde kitskosmaaltyd wêreldwyd beskikbaar is, en die prys daarvan redelik konstant bly, maar dit is nie ʼn presiese wetenskap nie.

Volgens The Economist was Burgernomics van 1986 nooit bedoel as ʼn presiese maatstaf vir die waardasie van geldeenhede nie, maar is slegs as ʼn instrument gebruik om die wisselkoersteorie meer “verteerbaar”, of dan nou verstaanbaar, vir Jan en San Publiek te maak.

Die indeks het egter ʼn wêreldstandaard, wat selfs in verskillende ekonomie-handboeke opgeneem is, terwyl dit ook die onderwerp van minstens 20 akademiese studies geword.

Die ‘regte waarde’ van die rand in Julie 2020

ʼn Big Mac kos tans R31,00 in Suid-Afrika en $5,71 in die VSA. Die geïmpliseerde wisselkoers is eintlik teen R5,43 tenoor die Amerikaanse dollar.

Die verskil tussen hierdie en die werklike wisselkoers – sowat R16,71 teenoor die dollar – dui daarop dat die Suid-Afrikaanse rand onderwaardeer word met sowat 67,4% wat die mees onderwaardeerde geldeenheid is wat die indeks in Julie gemeet het.

Die Big Mac-indeks meet die reële waarde van geldeenhede volgens twee metodes: ʼn direkte maatstaf van PPP met behulp van rou pryse, en ʼn aangepaste indeks wat die plaaslike BBP-data in ag neem.

(Argieffoto)

Die volledige prentjie

Die rou indeks vertel natuurlik nie die volle verhaal van die waardasie van ʼn geldeenheid nie.

Talle ekonome voer aan dat die koste daarvan om ʼn Big Mac te produseer goedkoper is in armer lande as in ryker lande weens PPP. The Economist het juis daarom in ʼn ander belangrike aanwyser, die BBP per capita, ingesluit om ʼn meer akkurate gevolgtrekking te maak.

In hierdie aangepaste indeks bly die Suid-Afrikaanse rand steeds erg onderwaardeer, maar minder as by die direkte omskakeling van die data. Dan word die rand die derde mees onderwaardeerde geldeenheid.

Met behulp van hierdie maatstaf is die Hongkong-dollar die mees onderwaardeerde geldeenheid ter wêreld relatief tot die dollar (47,7% onder waardeer), gevolg deur Rusland se roebel (43,6% onderwaardeer).

Die Big Mac-indeks beskou Thailand se geldeenheid as die mees oorwaardeerde geldeenheid op meer as 26,7%.

ʼn Geldeenheid word as onderwaardeer beskou as die waarde daarvan in buitelands valuta minder is as wat dit op ekonomiese toestande “behoort” te wees.

Valuta-waarde word egter ook nie objektief bepaal nie, en dit kan onderwaardeer word oor ʼn gebrek aan aanvraag, selfs al is die ekonomie van ʼn spesifieke land sterk.

Ander faktore word ook in ag geneem, soos beleggers se aptyt vir risiko, aangesien daar ʼn magdom voorwaardes is, plaaslik sowel as wêreldwyd, wat ʼn rol in die stabiliteit van ʼn mark speel.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is tans in ʼn resessie, terwyl talle politieke en beleidsaangeleenthede dit ʼn minder aanloklike bestemming vir buitelandse beleggings maak. Infrastruktuurfoute soos beurtkrag belemmer ook verder die ekonomiese groei van die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pio ·

Stem definitief saam om die waarde van die Rand so te bereken. In Nieuw Seeland kos ‘n Mac vyf dollar maar die wisselkoers is elf. Dus behoort ‘n Mac hier vyf en vyftig te wees? Andersom, behoort ‘n Mac dan daar onder drie dollar te wees.

Jack ·

Dit wys net die premie wat die onbevoegde en korrupte SAKP/ANC/Cosatu regering SA burgers kos weens gebrek aan vertroue by beleggers en handels vennote.

Hierdie huidige regering is onbekostigbaar, in alle opsigte.

JohanR ·

Europa getoer in 1988. R1.71c vir ‘n $1. En toe kom die ANC! Vandag : R16.44c vir ‘n $1.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.