‘Brei BTW-mandjie uit’

Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Ekonome verwag dat daar ʼn taai stryd voorlê vir die regering rondom die insluiting van meer goedere wat vrygestel word van belasting op toegevoegde waarde (BTW).

Volgens ekonome kan verskeie belangegroepe, soos die hoenderbedryf, hul stem dik maak vir die insluiting van hul produkte.

Die hoender-produsent Astral Foods het reeds die eerste skoot in die oorlog gevuur en sy bestuurshoof Chris Schutte sê dat hoenderprodukte van BTW kwytgeskeld moet word.

Hy wys daarop dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners hoender as stapelvoedsel gebruik. “Dit is hul hoofbron van proteïen en dit is goedkoop,” sê hy.

ʼn Belastingkenner stem saam met dié stelling. Die kenner wys daarop dat daar tans net 19 basiese voedselsoorte is wat van BTW vrygestel is.

Hy waarsku egter dat die Nasionale Tesourie verskeie partye, insluitend die publiek en voedselprodusente, sal moet raadpleeg voordat hy enige voorstelle kan doen. Dan moet dit deur die wetgewingsproses gaan. Die proses kan egter versnel word, het hy bygevoeg.

Schutte sê behalwe vir geblikte vis is alle BTW-vrygestelde goedere van vegetaries aard. Hy meen dat die insluiting van hoender dus sin sal maak.

Hy wys daarop dat Astral nie daarna streef dat geblikte vis van die lys van vrygestelde goedere verwyder word nie. Inteendeel, hy sê dat die mandjie 25 jaar laas hersien is en dat daar verskeie basiese goedere uitgesluit is.

Schutte sê dat hoender ook tans die goedkoopste bron van proteïen is, en dat Suid-Afrikaners per kapita 40 kg hoender per jaar gebruik.  Hy bevraagteken die Nasionale Tesourie se traagheid om hoender van BTW vry te stel.

Schutte voeg by dat, weens Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer, dit sin sal maak om hoender van BTW vry te stel. Hy sê die feit dat hoender tans so gunstig verkoop bewys is dat dit ʼn gunsteling onder verbruikers is.

Dawie Maree, ekonoom by ENB, stem saam dat die BTW-vrygestelde produkte uitgebrei moet word. Hy wys egter daarop dat dit nie oornag sal gebeur nie omdat ʼn proses gevolg moet word.

Hy sê indien die Nasionale Tesourie toegewyd en met groter spoed werk, ʼn nuwe lys van vrygestelde goedere waarskynlik in die volgende begroting aangekondig kan word.

Elize Kruger, ekonoom van NKC Economic Research, het aangedui dat die nuwe BTW-koers ʼn nadelige effek op verbruikersinflasie sal hê. Sy is ook van mening dat die mandjie vir vrygestelde goedere uitgebrei kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bennie ·

Hoender is n goedkoper vleis produk as rooi vleis, maar geagte Mnr Schutte wanneer laas het jy die prys van hoender produkte op die rak by n winkel gesien, kom darem maar deesdae naby aan rooivleis se pryse.

Tienie ·

BTW kan oornag aangepas word na 15% waarom dan ‘n langdraderige proses om hoender vry te stel?

Manie Strydom ·

Ek stem saam met Bennie hoender is nie meer so goedkoop nie ,die hoender wat vol brine gespuit is is bietjie goedkoper maar hoe gesond is dit?

Paul ·

Ai, staal se pryse sal seker ook nou op gaan want die trollies sal nou groter gemaak word om die 15% BTW te kan hanteer.

bos ·

ek kon sweer btw sou op n stafium afgekom het na 13%. kyk of ek net geyl het. ook onder die indruk dat vars vleis van btw vrygestel is nes rys, brood, vars groente,vars vrugte, koringmeel en mieliemeel.

JN ·

Ek praat onder korreksie maar dink hierdie is die huidige lys
•bruin brood
•droee mielies
•droee bone
•lensies
•sardiens in blikkies
•rys
•vars vrugte en groente
• olie
•melk
•eiers
•eetbare peulgewasse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.