Die mites rondom inflasie wat jy moet ophou glo

finansies-geld-sente-rand-beleggings

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Daar is verskeie mites rondom inflasie wat deur politieke motiewe aan die publiek gevoer word, wat totaal en al verkeerd is.

So sê George Glynos, hoof van navorsing en beleggings van ETM Analytics. Tydens ʼn Sakeliga- ekonomiese seminaar wat Dinsdag in Pretoria aangebied is, het Glynos die algemene mites rondom die wêreld se inflasiekoerse aan die kaak gestel.

“Daar is verskeie tradisionele teorieë oor wat presies inflasie veroorsaak, soos regeringskuld, aanvraag na produkte, wisselkoerse wat oppervlakkige leiding gee in die gesprekke wat daar in die finansiële bedryf plaasvind,” het hy gesê.

Glynos het verduidelik dat verbruikers dink dat regeringskuld bydra tot verhoogde inflasie omdat die regering belasting soos belasting op toegevoegde waarde (BTW) laat styg en dit weer op sy beurt die pryse van goedere opstoot; dat die aanvraag na produkte inflasie opjaag omdat mense dink dat hoe minder produkte daar is, hoe duurder sal dit wees; en dat eksterne faktore soos ʼn swakker rand en stygende oliepryse ook inflasie op ʼn opwaartse trajek plaas.

“As dit waar sou wees, sou daar elke keer wanneer ʼn koerantberig oor hierdie faktore verskyn ʼn intense styging in inflasie gewees het en sou die inflasiekoers nou 5% hoër gewees het as wat dit vandag is.”

Glynos het verder die bekende ekonoom Ludwig von Mises aangehaal. “Inflasie is nie gekoppel aan mense se aksies of optredes nie. Dit is ook nie deur ekonome uitgedink nie, maar deur die alledaagse toesprake van politici.”

Dit mag dalk soos die woorde van ʼn samesweringsteoretikus klink, maar Glynos verduidelik dat die inflasiemites politici eintlik pas. “Verbeel jouself elke land het een emmer geld met R100 in daardie emmer en dit is al wat die regering kan bestee. Hulle kan die emmer aanvul deur beleggings te lok, die bedryfsaanlegte te bou en deur verbruikers te kry om te geld te bestee.

“Dit pas politici om geld te kan skep deur middel van die sentrale banke en dit vir watter redes ook al nodig te gebruik. Eintlik leen die politici die geld van toekomstige generasies en hoe meer geld vandag geleen word, hoe slegter lyk die ekonomiese toekoms van die wêreld.”

Hoe nou gemaak?

Die wêreld moet wegdoen met sentrale banke en kripto-geldeenhede aanvaar, sê Glynos. Hy glo dat teen 2050 daar nie een land ter wêreld sal oorbly wat nog van die sentralebankstelsel gebruik sal maak nie.

Gevra oor watter rol politici dan sal beklee, het Glynos gesê dat dit nie net die politici se motivering sal verander nie, maar dat dit ook moontlik ʼn einde sal bring aan leë verkiesingsbeloftes en dat politici gedwing sal word om binne perke te bly. “Daar is ook net soveel kriptogeld wat gemyn kan word, terwyl sentrale banke altyd net geld kan druk soos wat die regerings dit vereis, wat weer lei tot toename in inflasie.”

Nog dogmas

Glynos sê daar is nog verskeie dogmas rondom sentrale banke se rol in ʼn ekonomie en die rol wat dit in die inflasie- en rentekoerse speel. “Sentrale banke is tans besig om geldeenhede te vernietig. Die einste ding wat hulle dan moet beskerm.”

Die dogma dat inflasie mense aanmoedig om meer geld te bestee is verkeerd, sê Glynos. Die dogma stel ook voor dat om koopkrag in jou ekonomie te verloor nie ʼn probleem is nie, solank die koopkrag oor ʼn lang tydperk geërodeer word. “Die beste sal eintlik wees as koopkrag glad nie verswak nie.”

Verder stel sentrale banke voor dat dit deflasie keer, wat volgens dié instansies ʼn goeie ding is. “Die sentrale banke glo dat as deflasie voor kom, mense gaan ophou om produkte en dienste te koop, want dit gaan volgende week nóg goedkoper wees. Het jy al in die laaste tien jaar van iemand gehoor wat gesê het dat hulle die aankoop van ʼn televisie, of ʼn rekenaar, of ʼn selfoon gaan uitstel omdat hulle gaan wag vir die prys om te daal? Natuurlik nie,” sê Glynos.

“Deflasie word as só ʼn slegte ding uitgemaak, asof dit die duiwel self is. Kan jy jouself die gruwels voorstel dat verbruikers minder vir goedere in die toekoms gaan betaal? Wie sal so iets wil doen,” het hy gespot.

Laastens verduidelik Glynos dat regerings inflasie lewend wil hou omdat dit hulle skuldlas verminder. “As ʼn regering tot sy ore toe in die skuld is, help inflasie vir daardie regering om beter met hul skuldlas te werk te gaan, omdat inflasie daardie skuld vernietig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack Klok ·

Swak regering lê aan die wortel van alle ekonomiese ellendes.

Pierre ·

Die sentrale bank sisteem en die banke (wie sentrale bank aandele hou) is verantwoordelik vir inflasie. Hulle skep geld uit niks deur die uitreiking van lenings. Daar is dus ‘n ooraanbod van hierdie elektroniese geld in die ekonomie wat pryse opjaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.