Ekonome hoopvol oor Moody’s se besluit

Foto: ANA

Ekonome is versigtig optimisties dat Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd sal bly.

Moody’s reik Vrydag sy gradering uit. Sommige ekonome is egter optimisties dat Moody’s ook sy huidige waaksaamheid teenoor Suid-Afrika sal verslap. Dit volg op die verandering van leierskap in Suid-Afrika, die regering se benadering tot staatsbeheerde ondernemings en stappe wat in die begroting gedoen is.

Dit volg ook op die regering se jaarlikse beleggingsuitreiking na beleggers in Amerika. Die hoofsekretaris van Fedusa, Dennis George, wat deel van die uitreikgespreksgroep was, sê vanjaar se uitreiking het goed verloop.

Die geselskap is deur Nlanhla Nene, minister van finansies, gelei. Volgens George het die groep met meer as 80 beleggersmaatskappye en drie kredietgraderingsmaatskappye, naamlik Moody’s, Standard & Poor’s en Fitch Ratings, byeengekom.

Hy sê sowel die beleggers as graderingsmaatskappye wou weet hoe Suid-Afrika twee netelige kwessies, naamlik werkloosheid en die lae ekonomiese groeikoers, gaan aanpak. Die plan wat voorgelê is, het egter die groepe gerusgestel.

Volgens George wou beleggers en graderingsmaatskappye graag weet hoe sake in Suid-Afrika verloop noudat daar ʼn nuwe regering is. Daar was veral kommer onder beleggers dat die gronddebat lomp deur die ANC hanteer is.

Hy wys egter daarop dat Suid-Afrika al voorheen sulke struikelblokke uit die weg moes ruim. Dit sluit in die debat oor die nasionalisering van myne etlike jare gelede en die landwye kragtekort sowat tien jaar gelede.

“Dit lyk of beleggers egter wel tevrede is met die stappe wat reeds gedoen is sedert die vertrek van Jacob Zuma. Hulle is veral beïndruk met die rigting wat ingeslaan word wat staatsbeheerde ondernemings betref en die wyse waarop die begroting belastingstekorte aanraak,” het hy gesê.

“Gelukkig het die regering, sakelui en arbeid ʼn gesamentlike front gebied. Dit het ook beleggers gerusgestel,” het hy gesê.

George sê een kwessie wat nou afgewag word, is Moody’s se graderingsaankondiging môre.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê Suid-Afrika is waarskynlik ʼn kans gebied nadat die Zuma-administrasie vervang is. Hy waarsku egter dat die ruimte wat gegun is, waarskynlik baie klein is.

Volgens Schussler is die gronddebat waarskynlik ʼn taai tameletjie vir die regering. “Beleggers is nie juis te vinde vir grondonteiening nie. Die regering gaan iets moet doen om beleggers hieroor gerus te stel,” het hy gesê.

Boonop is Schussler skepties oor die regering se houding jeens beleggers. “Die afgelope drie jaar het ons vier ministers van finansies gehad, elkeen met sy eie storie. Dit is nou tyd vir stabiliteit,” het hy gemaan.

Hy meen egter indien die regering dié huidige kans benut, kan dit Suid-Afrika se vooruitsigte aansienlik verbeter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Asielsoeker

Afgradering SAL kom sodra die kommunistiese beleid ingestel word en eiendom gevat word, dit is onafwendbaar. Die regering teiken ons om stemme te werf, en dreig ons, daarom moet ons asiel soek in die buiteland en vlug terwyl ons nog kan.

piper

is daar iemand wat vir my kan se wat het gebeur in ZIM toe grond gevat is en daar was nog geskuld op die grond. indien wel wat het van die skuld geword.

jaco

ryk wit mense sit in luukse Moodys kantore in ‘n moderne eerste wereldland. vanaand gaan hulle huis toe op treine en busse sonder misdaad. hulle kom aan by huise wat nie soos tronke met veiligheidsheinings en alarms beskerm word nie. wanneer hulle motor ry, kos die petrol die ekwilent van net R10 per liter. hulle belastings en lewenskoste styg nie maand na maand nie. en dan het hulle die vermetelheid om nie-wit lande waar die standaarde anders is as in hulle eie, te straf daarvoor. hierdie afgradering is net n ander vorm van rassisme. dit spreek van n houding wat… Lees meer »

LouE

Ek kan nie sien hoe ‘n land wat grond sonder vergoeding wegneem – op watter manier ookal – vorentoe kan beweeg nie. Dit kan net lei tot ‘n ekonomiese RAMP van ongekende grootte.

Casper Labuschagne

Daar is ‘n sekere mate van ironie daarin dat ekonome se optimisme slegs bloot beteken dat ons haglike posisie net haglik sal bly en nie nog sal versleg nie. Wat ‘n pragtige vooruitsig waaroor ons “optimisties” kan wees, ek ys om te dink wat ons gaan oorkom die dag wat ekonome dalk pessimisties sal wees. Wie was dit wat gesê het dat ekonomie ‘n bedroewende wetenskap is?