Ekonome hoopvol oor Moody’s se besluit

Foto: ANA

Ekonome is versigtig optimisties dat Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd sal bly.

Moody’s reik Vrydag sy gradering uit. Sommige ekonome is egter optimisties dat Moody’s ook sy huidige waaksaamheid teenoor Suid-Afrika sal verslap. Dit volg op die verandering van leierskap in Suid-Afrika, die regering se benadering tot staatsbeheerde ondernemings en stappe wat in die begroting gedoen is.

Dit volg ook op die regering se jaarlikse beleggingsuitreiking na beleggers in Amerika. Die hoofsekretaris van Fedusa, Dennis George, wat deel van die uitreikgespreksgroep was, sê vanjaar se uitreiking het goed verloop.

Die geselskap is deur Nlanhla Nene, minister van finansies, gelei. Volgens George het die groep met meer as 80 beleggersmaatskappye en drie kredietgraderingsmaatskappye, naamlik Moody’s, Standard & Poor’s en Fitch Ratings, byeengekom.

Hy sê sowel die beleggers as graderingsmaatskappye wou weet hoe Suid-Afrika twee netelige kwessies, naamlik werkloosheid en die lae ekonomiese groeikoers, gaan aanpak. Die plan wat voorgelê is, het egter die groepe gerusgestel.

Volgens George wou beleggers en graderingsmaatskappye graag weet hoe sake in Suid-Afrika verloop noudat daar ʼn nuwe regering is. Daar was veral kommer onder beleggers dat die gronddebat lomp deur die ANC hanteer is.

Hy wys egter daarop dat Suid-Afrika al voorheen sulke struikelblokke uit die weg moes ruim. Dit sluit in die debat oor die nasionalisering van myne etlike jare gelede en die landwye kragtekort sowat tien jaar gelede.

“Dit lyk of beleggers egter wel tevrede is met die stappe wat reeds gedoen is sedert die vertrek van Jacob Zuma. Hulle is veral beïndruk met die rigting wat ingeslaan word wat staatsbeheerde ondernemings betref en die wyse waarop die begroting belastingstekorte aanraak,” het hy gesê.

“Gelukkig het die regering, sakelui en arbeid ʼn gesamentlike front gebied. Dit het ook beleggers gerusgestel,” het hy gesê.

George sê een kwessie wat nou afgewag word, is Moody’s se graderingsaankondiging môre.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê Suid-Afrika is waarskynlik ʼn kans gebied nadat die Zuma-administrasie vervang is. Hy waarsku egter dat die ruimte wat gegun is, waarskynlik baie klein is.

Volgens Schussler is die gronddebat waarskynlik ʼn taai tameletjie vir die regering. “Beleggers is nie juis te vinde vir grondonteiening nie. Die regering gaan iets moet doen om beleggers hieroor gerus te stel,” het hy gesê.

Boonop is Schussler skepties oor die regering se houding jeens beleggers. “Die afgelope drie jaar het ons vier ministers van finansies gehad, elkeen met sy eie storie. Dit is nou tyd vir stabiliteit,” het hy gemaan.

Hy meen egter indien die regering dié huidige kans benut, kan dit Suid-Afrika se vooruitsigte aansienlik verbeter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Asielsoeker ·

Afgradering SAL kom sodra die kommunistiese beleid ingestel word en eiendom gevat word, dit is onafwendbaar. Die regering teiken ons om stemme te werf, en dreig ons, daarom moet ons asiel soek in die buiteland en vlug terwyl ons nog kan.

piper ·

is daar iemand wat vir my kan se wat het gebeur in ZIM toe grond gevat is en daar was nog geskuld op die grond. indien wel wat het van die skuld geword.

jaco ·

ryk wit mense sit in luukse Moodys kantore in ‘n moderne eerste wereldland. vanaand gaan hulle huis toe op treine en busse sonder misdaad. hulle kom aan by huise wat nie soos tronke met veiligheidsheinings en alarms beskerm word nie. wanneer hulle motor ry, kos die petrol die ekwilent van net R10 per liter. hulle belastings en lewenskoste styg nie maand na maand nie.
en dan het hulle die vermetelheid om nie-wit lande waar die standaarde anders is as in hulle eie, te straf daarvoor. hierdie afgradering is net n ander vorm van rassisme. dit spreek van n houding wat ek al by party mense uit daardie lande gehoor het: “black people just cant do it”. Sê wie? en dink hierdie slim ryk wit mense OOIT daaraan dat hulle afgradering van n derde wêreldland maak dat pryse van lewenskoste in daardie derde wereldland laat styg, werkloosheid laat toeneem en misdaad laat vererger?
hierdie afgradering is maar net n subtiele vorm van rassisme. so asof wit lande se standaarde van hoe dinge gedoen word, die maatstaf of “bottom line” is.

Vermeendes ·

Jy is onkundig in hierdie agentskappe se werke Jaco.
Rassisme???? Hoe kom jy by daai som uit, wees gerus n voorbeeld en gaan bele al jou spaargeld in Zim se landbou soos hy nou lyk of in Eskom wat skaars die rente op sy lenings kan betaal of nog beter, gaan bele in SAL en kyk hoeveel wins jy sal maak.
Punt is, SA is nie meer beleggersvriendelik nie en niemand hou daarvan om geld te verloor nie.

jaco ·

Net derde wêreldlande wat deur nie-wit mense regeer word, loop deur onder hierdie agentskappe. Maak pole, Rusland, Duitsland en Spanje dan nooit ekonomiese foute nie? So dan is hierdie afgradering van net nie-wit lande mos rassisme.

LouE ·

Ek kan nie sien hoe ‘n land wat grond sonder vergoeding wegneem – op watter manier ookal – vorentoe kan beweeg nie. Dit kan net lei tot ‘n ekonomiese RAMP van ongekende grootte.

Casper Labuschagne ·

Daar is ‘n sekere mate van ironie daarin dat ekonome se optimisme slegs bloot beteken dat ons haglike posisie net haglik sal bly en nie nog sal versleg nie. Wat ‘n pragtige vooruitsig waaroor ons “optimisties” kan wees, ek ys om te dink wat ons gaan oorkom die dag wat ekonome dalk pessimisties sal wees. Wie was dit wat gesê het dat ekonomie ‘n bedroewende wetenskap is?

marous ·

Jippeee! Ons bly steeds rommel , maar darem nie riool nie .

Realis ·

Ons weet reeds sedert die 1992 referendum dat hierdie skip gaan sink – ons het net nie geweet wanneer nie. Toenemende chaos, anargie en agteruitgang is ons voorland. Die uiteinde van hierdie droewige prentjie: net nog ‘n mislukte Afrika staat met die onafwendbare gevolge – die tekens is alreeds daar vir almal om te sien. Daar bestaan geen geldige argument tot die teendeel nie. Die wat verskil het verseker nog nie wakker geskrik nie en sal waarskynlik nooit wakker skrik nie. So ook diegene wat dink dat hierdie fiasko nog by die stembus beredder kan word. Die ANC sal nooit die politieke mag afstaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.