Ekonome optimisties oor land se groei

Foto: morguefile.com

Die verrassing in Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers in die vierde kwartaal van 2017, wat die BBP-syfer vir die jaar gerugsteun het, hou belangrike voordele vir die land in.

Só sê dr. Azar Jammine, hoofekonoom by Econometrix. Die ekonomie het in 2017 met 1,3% gegroei wat markverwagtinge oortref het. Dit het in die vierde kwartaal met 3,1% uitgebrei.

Jammine meen dat die syfer die land op verskeie maniere gaan bevoordeel. Vir eers kan dit beleggersvertroue in die land ʼn hupstoot gee.

Buitelandse beleggers sal volgens hom met nuwe oë na die land kyk. Die land is verlede jaar afgegradeer weens ʼn tegniese resessie en die beleidsrigting van die Zuma-regering.

Jammine meen egter dat die positiewe syfer ook graderingsmaatskappye nou tevrede sal stel. Hy voeg by dat die BBP-syfer die land ʼn blaaskans gegee het.

“Die graderingsmaatskappye sal  nou kyk hoe ekonomiese ontwikkelinge in die land ontvou. Die groot kwessie nou is om die ekonomie reg te ruk.”

Volgens Jammine is regeringsbeleid ook verander wat ʼn meer sakevriendelike benadering insluit.

Hy het egter kommer uitgespreek dat die syfers nie voldoende is om werkskepping te help nie. Dit is ʼn saak wat die regering, sakelui en arbeid sal moet aanpak.

“Dit is tans die grootste sosio-maatskaplike probleem in die land. Veral jong mense wat werk soek, moet gehelp word.”

Jammine sê ook dat staatseffekte by die nuus sal baat omdat die land se staatskuld-verhouding teenoor BBP-gegewens gedaal het. Dit kan veral buitelandse beleggers se belangstelling wek.

Elize Kruger, senior ekonoom by NKC Economists, sê intussen dat die regering waarskynlik sy groeikoers vir vanjaar hoër sal moet aanpas. Sy meen dat die Nasionale Tesourie se beraming tans te konserwatief is.

Ekonome is egter versigtig oor die uitwerking wat die regering se plan met onteiening van grond sonder vergoeding op die ekonomie sal hê. Volgens ekonome kan dit een struikelblok vir die ekonomie wees.

Nedcon sê ondanks die hoër BBP-groei en vooruitsigte vir positiewe ekonomiese  groei, is ekonomiese aktiwiteit tans relatief swak en nie op ʼn vlak waar dit inflasie kan aanblaas nie.

Die ekonomiese eenheid sê plaaslike ekonomiese gegewens toon dat vervaardigingsgegewens en inflasie steeds laag is en waarskynlik ʼn rentekoersverlaging sal steun. Die groep is van mening dat ʼn rentekoersverlaging waarskynlik ekonomiese groei ʼn hupstoot sal gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Ai! Leef mnr Jammine dan so in “cloud cuckoo land” dat hy werklik “positiewe ekonomiese beleid” raaksien in die onteiening van alle eiendom (nie alleen grond nie) sonder vergoeding?
Artikel 25 an die Grondwet wat die regerende party wil wysig praat van eiendom soos jou huis, jou spaargeld, jou besigheid, jou beleggings – alles wat eiendom is

Casper Labuschagne ·

Realpolitiek: Dr Jammine kan sekerlik gerus slaap dat sy eiendom nie deur Ramaphosa onteien sal word nie. Daarby sal, vanuit ‘n ekonomiese perspektief, onteiening op ‘n beperkte skaal mits voedselproduksie nie benadeel word nie, inderdaad positief wees omdat dit die eise van populisme sal verdoof of dalk selfs tydelik mag bevredig. Wat dit vir ons minderheid beteken, is dat ons nie moet wag vir ‘n deus ex machina (of dalk ‘n deus ex Pretoria?) wat ons uit ons ellende sal verlos nie, maar daaraan werk om ons eie voortbestaan of selfs dalk net ons blote oorlewing te verseker. Want sover dit Soros se geldmag, groot maatskappye, politici asook ekonome betref is ons groepie Afrikaners so besteebaar soos pionne op ‘n skaakbord.

(Bekendmaking: Ek het voorheen vir Econometrix gewerk, direk onder Dr Azar Jammine.)

Pietman ·

Casper. Wat is onteiening op ‘n beperkte skaal? Dink jy regtig dit sal die eknomie nie skaad nie? Selfs al word een nuttelose stuk grond sonder vergoeding onteien? Punt is iemand het vir daadie grond betaal. Dis diefstal en dit gaan beleggers afskrik. Die groeisyfer is positief in die sin dat dit nie nul of negatief is nie, maar lyk nogsteeds vrot binne konteks dat die VSA en Europa en selfs Japan ( ontwikkelde ekonomië) vinniger groei. Ook is ons bevolkingsgroei 1.3%. Dws geen groei per kapita. Ek stem saam dat die ekonome duidelik nie onteiening inreken met hul positiewe vooruitskattings nie. Nie dat hul vooruitskattings in elk geval iets werd is nie.

Casper Labuschagne ·

@Pietman ek stem heelhartig saam met jou. Maar daar is twee wêrelde , die een waarin ek en jy leef en moet oorleef en die geldwêreld van beleggings en kapitaal. Solank onteiening wat plaasvind beperk is tot plase en nie die winsgewende fabrieke nie, is groot beleggers heeltemal tevrede want gesien deur die lense van hulle brille word politieke bestendigheid inderdaad verbeter.

Eintlik moet ek hier die punt maak dat daar ‘n wesentlike gevaar bestaan dat Afrikaans, die Afrikaner asook eiendom in besit van hoofsaaklik Afrikanerboere die bloedoffers sal wees wat gemaak word om die swart populiste se dors na vergelding te les. Sodoende verkry diegene wat laasjaar etlike honderde miljoene rande aan Ramaphosa geskenk het om stemme tydens die laaste ANC kongres letterlike te koop, nog ‘n dekade om in SA te kan belê en geld te maak.

Net soos in 1898 voor die Anglo Boereoorlog, is die stelsel weereens tot in die grein korrup, wreed en brutaal teenoor die Afrikaner en gaan dit net oor die belange van die groot geldmag.

Haan ·

“niks fout hiér nie dames en here. Als in die haak. Voor die wind. Piekfyn piekfyn”

Paai die perd anders skop hy, of hoe?

IGNORANCE is bliss ·

Goeie aarde shame .. ek dink dit is maar om te verhoed dat almal hulle geld landuit vat. Dit word kunsmatig aan die gang gehou dat almal nie vlug en hulle geld uit SA neem nie. Ek kan nie DINK dat die ekonomie gaan groei in’n land waar die massas reeds grond begin beset het en dit net gaan toeneem nie. Dit is tans nog teenstrydig met die grondwet maar in Augustus gaan dit wettig raak om iemand anders se grond/huis/eiendom te vat sonder vergoeding en daar is NIKS wat jy daaraan gaan kan doen nie, en daar gaan ook GEEN EKONOMIESE vooruitgang wees nie .. Hel julle dink darem regtig ons is onnosel.

Geskok ·

Weet nie waar is die vooruitgang nie. Vanoggend verneem daar is geen bank wat meer lenings gee vir grond of huise nie. Daar is niemand wat belangstel om enige vaste bate te koop nie. Daar gaan n algehele ineenstorting wees.

Casper Labuschagne ·

Korreksie, die ongeskrewe rooilyngradering van die bankwese het nou op ons minderheid van toepassing geword. Om nuwe verbande aan ons toe te staan het nou ‘n onbetwisbare en onaanvaarbare risiko vir die bankwese geword. Maar daardie risiko bestaan wel nie wat die toestaan van verbande aan die meerderheid betref nie. Mondelinge getuienis vanaf werknemers is dat minstens een landswye eiendomsgroep reeds die besluit geneem dat hul toekomstige groei uitsluitlik vanuit verhuring en verkope aan die meerderheidsgroep kan kom.

Piet Pompies ·

Dis anti-propaganda…..niks gaan ooit verkeerd onder ‘kommunistiese ‘ bewind nie ……(want demokrasie bestaan nie in die land nie)……….jy mag nie eens daarna verwys nie……mense is al in ‘strafkampe’ geboender daaoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.