Ekonome steeds skepties oor groeivooruitsigte

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Ekonome is steeds skepties oor die land se ekonomiese vooruitsigte.

Dit volg op gunstige gegewens van Statistiek Suid-Afrika en Rand Merchant Bank (RMB) en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se sakevertroue-indeks. Die vertroue-indeks is die eerste een wat gedoen is sedert Cyril Ramaphosa vir Jacob Zuma as die land se president vervang het.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê daar moet nog baie water in die see loop voordat daar van ʼn betekenisvolle ekonomiese herlewing gepraat kan word.

“Verskeie aspekte moet nog aandag kry. Een hiervan is regeringsbeleid, asook ʼn poging om die regering te verklein,” het hy gesê. Schussler het bygevoeg dat die tyd vir Ramaphosa se praatjies nou uitloop.

Die BER se sakevertroue-indeks het in die eerste kwartaal met 11 indekspunte gestyg – vanaf die vierde kwartaal van 2017 se 34 tot 45. Volgens die indeks het vyf uit tien respondente aangedui dat die ekonomiese klimaat nog nie gunstig genoeg is nie.

Die ekonomiese navorsingsmaatskappy NKC Economic Research sê egter dat sakevertroue in al vyf kategorieë wat gemeet word, gestyg het. Die sektor wat die beste gevaar het was nuwe motorverkope, wat met 20 indekspunte tot 52 gestyg het.

Beide die vervaardigings- en kleinhandelsektor het onderskeidelik met 13 indekspunte tot 37 en 52 punte verstewig. Die konstruksiesektor het die swakste gevaar.

NKC wys daarop dat, ofskoon SACCI se sakevertroue-indeks van ʼn sewe en ʼn half jaar laagtepunt herstel het, sakevertroue en plaaslike vraag nog traag bly. Die maatskappy voeg by dat daar ʼn herstel in sakevertroue is, maar veel nou sal afhang van die beloofde hervormings van ekonomiese beleid deur Ramaphosa.

“Daar sal ook gekyk word hoe die samesprekinge rondom die Mynbouhandves en die gronddebat afspeel,” het die maatskappy gesê.

Schussler beaam dat dié twee faktore veral buitelandse beleggers bekommerd maak. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika nie kan bekostig om buitelandse beleggers met populistiese beleid af te skrik nie.

Intussen waarsku NKC dat buitelandse faktore, wat Amerika se beplande tariefverhogings op staal en aluminium, en ʼn moontlike verslegting in Amerika se betrekkinge met Noord-Korea, Iran, Rusland en China ook ʼn uitwerking kan hê op beleggersentiment teenoor ontluikende lande, insluitend Suid-Afrika.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het vervaardigingsproduksie-volumes op ʼn jaargrondslag met 2,5% in Januarie verbeter. Die verhoging was in lyn met markverwagtinge. Die grootste verbetering is in die voedselsektor aangemeld.

NKC sê die positiewe nuus toon dat Suid-Afrika nou besig is om die gety te draai. Die maatskappy voorspel dat die gunstige vooruitsig vir die plaaslike en wêreldekonomie waarskynlik die groeikoers kan steun en bepleit regeringsamewerking met die sakesektor. Maar die maatskappy waarsku dat die sterker Rand uitvoerinkomste kan belemmer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Die een dag is hul optimisties en more is hul skepties! Wat nou?

Gerrit ·

Ek was optimisties toe CR oorvat maar nou sy ware kleure gesien net n BEE opertunis wat onbevoeg is om n klein maatskappy doeltreffend te bestuur wat nog van n komplekse land soos suid afrika.

Duitser ·

Daar is net te veel verkeerd
Polisie. Geen of nul waarde
Medies. Ver onder standaard
Onderwys. Swakste in wereld
Leierskap. Geen

En die feit dat daar teen wit mense gediskrimineer word deur die korrupte anc regering dink ek is die finale spyker in die doodskis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.