Ekonome verwag stewiger groei

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Suid-Afrika se ekonomiese groei het moontlik in die eerste kwartaal van vanjaar, wat Saterdag eindig, met 2% gegroei. Dié positiewe siening word deur verskeie ekonome gedeel. Dit terwyl die IMF Suid-Afrika se groeikoers vir vanjaar en 2019 afwaarts aangepas het. Die IMF verwag groei van 1% vanjaar.

Ekonome sê ook dat die groeikoers wat deur Malusi Gigaba, die vorige minister van finansies, tydens die begroting aangekondig is, dalk te konserwatief is. Gigaba het 1,1% in die vooruitsig gestel.

In ʼn vroeëre onderhoud het Elize Kruger van NKC Economic Research die mening uitgespreek dat Nlanhla Nene, die nuwe minister van finansies, waarskynlik die groeikoers tydens die medium-begroting sal aanpas.

Die hoof-ekonoom by economists.co.za, Mike Schussler, sê kleinhandelgroei sal die eerste kwartaal se groeisyfer ondersteun.

“Baie mense het items gaan koop voordat die nuwe belasting op toegevoegde waarde (BTW) Sondag van 14% tot 15% styg. Dit sluit in motors, rekenaars, televisiestelle en ander dergelike goedere,” het hy gesê.

Hy wys daarop dat verbruikers in die aftel tot BTW se D-dag hul sakke diep geskud het. Hy voeg by dat kredietverkope waarskynlik tydens die periode gestyg het.

Schussler meen die landbou sal ook weer ʼn groot deel tot ekonomiese groei bydra. Hy waarsku dat die oesskatting vir vanjaar ietwat laer is as verlede jaar. In 2017 het landbou die ekonomie gerugsteun met sy rekord mielie-oes. Dit het gehelp dat die groeikoers vir 2017 1,7% beloop het.

Hy het egter sy kommer oor die mynbousektor uitgespreek. Die sektor het verlangsaam sedert Mosebenzi Zwane, die vorige minister van minerale hulpbronne, die derde mynbouhandves aangekondig het.

Schussler sé die nuwe minister, Gwede Mantashe, gaan hard moet werk om vertroue in dié sektor te herstel.

“Indien daar vertroue in dié sektor is, sal dit beleggings lok en herstel,” se hy.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die vervaardigingsektor en het daarop gewys dat dit juis dié sektor is wat groot werksverliese getoon het.

Schussler sê dat interne faktore soos politieke ontwikkelinge sowel as buitelandse faktore soos die VSA se beoogde tariefverhoging op verskeie produkte, insluitend staal en aluminium, ook ʼn uitwerking kan hê op ekonomiese groei.

Die hoof-ekonoom by die Efficient-groep, Dawie Roodt, meen dat groei vanjaar stewiger sal wees. Hy sê die eerste kwartaal kan op ʼn positiewe noot afskop.

Roodt beaam die siening dat Gigaba se geskatte groeikoers konserwatief was en dat dit deur Nene aangepas moet word. Hy is egter positief dat die land vanjaar meer groei sal toon weens groter politieke stabiliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marous ·

Ekonomiese vooruitgang gaan met eerlike harde werk en stabiliteit gepaard . Niemand sien dit in die land nie. Die besteding van biljoene wat deur korrupsie en plundering van die staaskas plaasvind is ‘n verwronge persepsie van groei. Die persentasie BTW verhoging dra ook by tot die warm lug wat in die ballon ingeblaas word wat rondhang in ‘n doringdraad fabriek.

Gestremde ·

Dus vir my duidelik dat die ekonome lank laas nuus gelees het. Sprake van 20 000 werksverliese in die koue vleis (Enterprise, ens.). Skole kry nie hul gelde nie. Stadsleiers word beskuldig van korrupsie. Grondonteiening. laat ‘n mens twee keer dink oor die ekonome se uitsprake. Haal asseblief af die oogklappe en moet nie verwronge statistieke voorhou nie wat mense valse hoop gee nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.