Ekonome verwelkom styging in BBP

Foto ter illustrasie: Pixabay

Die vuisvoos Suid-Afrikaanse ekonomie het gedurende die derde kwartaal van vanjaar van die planke opgestaan soos ’n bokser wat katswink geslaan was. Dit het beleggers, markspelers en senior regeringslui die kans gegee om ’n slaak van verligting te gee.

Daarmee het die ekonomie uit die tegniese resessie gekom wat hom in die eerste twee kwartale van vanjaar lamgelê het. Daar is egter kommer dat aanstaande jaar se verkiesing ontwrigtend vir die ekonomie kan wees.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) sê die land se ekonomiese groeikoers, oftewel die bruto binnelandse produk (BBP), het met 2,2% op ’n kwartaallikse grondslag gestyg. Die nuus is wyd deur ekonome en ontleders verwelkom.

Volgens die statistieke liggaam het verskeie sektore tot die positiewe groei bygedra. Dit sluit in die vervaardigingsektor, landbou, finansiële dienste en vervoer. Die mynbousektor het egter die swakste gevaar.

Die vervaardigingsektor het op ’n kwartaallikse grondslag met 7,5% gegroei. Landbou het gedurende die kwartaal met 6,5% gegroei. Vervoer het met 5,7% verbeter. Mynbou was 8,8% swakker.

Dawie Maree, ’n ekonoom by FNB, het vroeër aan Maroela Media gesê dat landbou sterker in die derde kwartaal sou groei ná sy negatiewe vertoning die vorige ses maande.

Daar is egter ’n mening dat, ofskoon die ekonomie nie meer op lewensondersteuning is nie, kwessies soos beurtkrag, swak sakevertroue en onsekerheid, in aanloop tot volgende jaar se verkiesing ’n demper of ekonomiese groei en werkskepping kan plaas wat graderingsmaatskappye nie gunstig gaan ontvang nie.

Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research, sê dat die groeisyfer wat in die derde kwartaal behaal is, daarop dui dat ’n algehele groeikoers van 0,7% vanjaar behaal kan word.

“Dit is egter laer as die groeikoers van 1,3% wat verlede jaar behaal is,” het sy gemaan.

Kruger het bygevoeg dat die groeikoers onvoldoende is om die land se maatskaplike probleme .

“Dit is duidelik dat die huidige klimaat van beleidsonsekerheid, veral ten opsigte van grondhervorming en die lae vraag in die ekonomie ’n demper op belegging sit en ekonomiese groei steeds terughou,” voeg sy by.

Kruger wys daarop dat sy optimisties bly oor pres. Cyril Ramaphosa se jongste pogings om ekonomiese groei aan te wakker en dat dit wel ’n dividend sal uitkeer. Dié pogings sluit in die beleggingsberade, asook sy ekonomiese stimuluspakket.

Sy meen egter dat daar verskeie struikelblokke op die groeipad is, terwyl die wêreldekonomie ook ’n uitdaging vir ontluikende markte soos Suid-Afrika bied.

Volgens Kruger benodig die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n omgewing waar die privaat sektor kan gedy. Sy sê om dit te kan bereik, is beleidsekerheid noodsaaklik en ’n voorvereiste.

Sy sê terwyl dit nie haalbaar is nie, is ekonomiese groei noodsaaklik en met die land wat gereed maak vir die verkiesing volgende jaar, sal die ekonomie voortploeter.

Dit is iets wat ons nie kan bekostig nie,” sluit sy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.