Ekonomie: Kredietverkope styg weens knelgreep

Kredietkaart

Foto: Clickx.be

Ekonome en ontleders voorspel dat kredietverkope gaan styg namate die verhoging in belasting, brandstofpryse en ander dergelike noodsaaklikhede verbruikers begin wurg.

ʼn Senior ekonoom by ENB, Dawie Maree, waarsku ook dat die landbousektor nie die bose kringloop gaan vryspring nie.

Maree sê ongelukkig sal die verhoging in brandstofpryse ʼn negatiewe uitwerking op die sektor hê. Hy wys daarop dat vandeesweek se verhogings, hoofsaaklik weens die bykomende 52 sent per liter in brandstofheffings wat deur die vorige minister van finansies, Malusi Gigaba, in die begrotingsrede aangekondig is, verbruikers baie hard gaan slaan.

Daar is vir die landbousektor egter ʼn tikkie goeie nuus. Die dieselkorting vir toelaatbare gebruik is verhoog van die huidige R2,83 per liter na R3,21 per liter.

Maree maan dat geregistreerde dieselverbruikers hierdie stelsel moet beskerm en alles in hulle vermoë doen om binne die raamwerk op te tree, aangesien dit basies die enigste ondersteuning is wat nog deur die regering aan kommersiële landbou verleen word.

Dit is ook ʼn relatief lae gebruiksmaand vir boere. Hy waarsku egter dat dit die enigste tikkie verligting vir boere bied.

As die tendens van stygende brandstofpryse voortduur, sal dit nie goeie nuus vir landbouers wees nie aangesien die oesseisoen van somergraansoorte soos mielies teen Mei ʼn aanvang neem.

Volgens Maree kan dit insetkoste opjaag wat die verbruiker uiteindelik gaan raak.

Intussen meen ontleders dat die verhogings in brandstofpryse, BTW, tolgeld en dergelike dienste verbruikersbesteding gaan inkort. Volgens ontleders kan dit verbruikers noop om krediet aan te gaan om net hul maandelikse verpligtinge na te kom.

“Ons verwag ʼn styging in kredietverkope en -fasiliteite namate verbruikers onder groter druk kom,” het een ontleder gesê.

Intussen het NKC Economic Research in ʼn verslag gesê die jongste Buro vir Ekonomiese Navorsing se aankopebestuurdersindeks – oftewel die PMI – dui daarop dat die ekonomie in Maart effe verlangsaam het. Die PMI het met 3.9 indekspunte tot 46.9 verswak. Enige syfer onder 50 dui op ʼn krimping in die ekonomie.

NKC het veral kommer uitgespreek dat die sakeaktiwiteit-indeks met 8.1 indekspunte tot 46 gedaal het. Dit was die grootste daling in die PMI-opname.

Intussen was die verkope van nuwe motors die enigste ligpunt in die PMI. Nuwemotorverkope het in Maart skerp gestyg. Volgens die maatskappy was dit grootliks te danke aan die haas om motors aan te koop voor die BTW-verhoging op 1 April in werking sou tree.

NKC waarsku ook dat die styging in brandstofpryse opwaartse druk op aankope gaan plaas.

Die maatskappy voeg egter by dat die sterker randwisselkoers en ʼn moontlike handelsoorlog tussen die VSA en Sjina ook faktore is wat in ag geneem word wanneer daar na die PMI gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Die belasting koei is op haar laaste bene. In 2000 het my buurman sy huis verkoop en ‘n soortgelyke een in Aus gekoop vir dieselfde prys. As ek dit nou wil doen moet ek SEWE huise soos myne verkoop om EEN in Aus te kan bekostig. Dis wat ‘n regerings-ideologie aan ‘n ekonomie kan doen………

Gemaskerde Sopbeen ·

Is dit nie ‘n regering se doelwit om die “bose kringloop” te temper in plaas van dit aan te help nie? ‘n Mens hoef nie Siener te wees om te sien wat aan die kom is nie.

JM ·

_____ ___ Betaal is mos die wet van Transvaal. Die Ministers voel mos niks want die belastingbetalers betaal mos vir hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.