‘Ekonomie op herstelpad’

Ekonome voorspel dat Suid-Afrika se ekonomie binne die volgende jaar tot 18 maande drasties kan herstel na die nege jaar van insinking onder die Jacob Zuma-administrasie.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê daar was ʼn vertrouensbreuk tussen die Zuma-regering en die sakegemeenskap. Volgens hom is daar nou tekens dat die verhouding besig is om te herstel.

Hy wys egter daarop dat die verhouding net momentum sal kry indien die regering tot aksie oorgaan. “Dit kan nie net by beloftes bly nie. Sakelui is moeg van leë beloftes en teenstrydige ekonomiese uitsprake,” het hy bygevoeg.

Volgens Schussler sal daar reeds vanjaar werkskepping geskied. Hy voorsien dat sakelui in die privaat-sektor meer geleenthede beskikbaar sal stel wat ʼn kernprobleem in die ekonomie kan aanspreek.

Oor direkte vaste besteding sê hy dat dit sowat nege maande sal neem voordat daar indringende aksie sal wees. “Sakelui is moeg vir staatskaping . Hulle wil eers kyk hoe dit aangespreek word voor hulle weer geld beskikbaar sal stel vir groot projekte,” voeg hy by.

Volgens Schussler het die Optimum-steenkoolmyn ook ʼn wrang smaak in beleggers se mond gelaat. Hy se onomwonde dat die myn gesteel is, en dit beleggersvertroue geknou het.

Hy wys daarop dat die ekonomie vanjaar wel kan groei. Hy skryf dit toe aan ʼn verbetering in verbruikers- en sakevertroue.

Daar is egter een kwessie wat Schussler kwel: die droogte in die Wes-Kaap. Hy sê dit het die vermoë om die ekonomiese groei te ontwrig.

Schussler sê die droogte kan ʼn groter negatiewe effek hê as die platinumstaking van 2014 by Marikana. Hy voeg by dat die sterker rand ook die verdienste van mynbou-uitvoere negatief kan raak.

Sedert Cyril Ramaphosa president van die ANC geword het, het die rand met bykans 5% verstewig.

Sakelui wat verlede week se mynbou-saamtrek in Kaapstad bygewoon het, sê daar is beslis ʼn verbetering in beleggersvertroue teenoor Suid-Afrika as ʼn jaar gelede.

Ontleders wat die konferensie bygewoon het, wys daarop dat mynbou steeds ʼn belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel en dat die politieke veranderinge in die land dit kan baat.

Boonop is daar aanduidings dat kommoditeitspryse weer kan styg, Suid-Afrika ekonomies kan herstel en dat die politieke veranderinge in die land gunstig is.

Phillip Barton, uitvoerende hoof van De Beers Consolidated Mining (DBCM), sê daar is reeds positiewe tekens te sien in Suid-Afrika. Hy voeg by dat dit veral die rand sal begunstig. De Beers het ook onderneem om nuwe eksplorasie-projekte in Suid-Afrika aan te pak. Die mynreuse Anglo American en Rio Tinto het ook bevestig dat hulle na nuwe beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lena Jonk ·

Baie dankie vir bietjie positiewe nuus uit SA. Ons bid gereeld vir julle, dit sal weer goed gaan, ons moet net vetrou.

Jordaan ·

Watter maatskappy gaan beleggings maak as daar ‘n regering is wat onteiening sonder vergoeding probeer bewerkstellig? Indien grond gevat word kan ander bates mos volg? Dus terwyl daar ‘n ANC (of EFF) regering aan bewind is kan ek nie sien dat die optimistiese scenario gaan realiseer nie.

Alida ·

As Zuma uit is sal dit gebeur maar sien is glo voel is wragtig!!!

Lynne ·

Ek stem nie met jou saam nie Mike! Verduidelik asb vir my hoe die Ekonomie ooit weer opdreef gaan kom met bankrot instellings soos die Sauk, Eskom en SAL wat jaar na jaar reddingsboeie moet ontvang, as gevolg van korrupsie en wanbestuur. Voeg daarby die bankrot Munisipaliteite wat GEEN diens lewer nie. Dan praat ons nog nie eens van die gratis onderrig wat belowe is nie……

honourable member ·

Watter ekonomie. Hier is absoluut geen werkskepping, mense verarm by die dag, hierdie sogenaamde grondhervorming gaan n nuwe chaos in hierdie land begin so ek twyfel sterk of hierdie ekonomie gaan verbeter. Die ANC het net te groot skade aangerig. Miskien oor 100 jaar sal daar iets met die ekonomie gebeur.

Kobus ·

Zuma is slimmer as die hele ANC leierkorps saam…eenvoudige bewys…hy alleen het SA op geneuk…nie net die ekonomie….maar tot die samelewing…moenie gerus wees dat hy sal waai voor sy termyn verstryk volgende jaar….Cyril te slap en met mooi woordjies bak om die ou te oortuig…het Zuma hom weereens diep in gegrawe…Afrika diktuur….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.