Ekonomie tel dalk kop op in 3de kwartaal

Foto: Pixabay

Suid-Afrika se ekonomie kan die kop effens optel met positiewe ekonomiese groei in die derde kwartaal.

Dit is die mening van Mike Schüssler, hoofekonoom by economists.co.za. Hy sê ekonomiese gegewens wat tot dusver uitgereik is, dui aan dat die derde kwartaal meer positief as die vorige twee kwartale sal wees.

Weens die verlangsaming van die ekonomie in die eerste twee kwartale het Suid-Afrika in ʼn tegniese resessie verval. Die derde kwartaal sluit die maande Julie, Augustus en September in. Schüssler sê groei sal oor ʼn wye front voorkom.

Hy reken die vierde kwartaal sal waarskynlik ook positief wees. Dit skryf hy toe aan groter beleidsekerheid en president Cyril Ramaphosa se stimuluspakket vir die ekonomie wat hy onlangs aangekondig het.

Een van die groot dryfvere van ekonomiese groei – kleinhandelverkope – kan volgens Schüssler onder druk kom weens die volgehoue brandstofprysverhogings en die allemintige pryssprong wat van Woensdag in werking getree het.

Hy sê dat Kersverkope vanjaar onder druk kan kom weens die brandstofpryseffek. Maar hy sê aan die positiewe kant sal Swart Vrydag – wat in November gebeur – kleinhandelverkope ʼn groot hupstoot kan gee. Hy sê dit sal die vierde kwartaal se kleinhandelverkope onderskraag.

Schüssler sê verbruikers se besteebare inkomste krimp namate brandstofpryse die hoogte inskiet. Hy voeg by dat dit ál kwaaier gaan met ander uitgawes soos skooluniforms en skoolgelde wat betaal moet word.

Hy sê tensy die rand verstewig en ruoliepryse terugsak, daar nie veel is wat motoriste omtrent brandstofpryse kan doen nie. Hy sê een opsie is dat die regering weer na die heffings op brandstofpryse kyk.

Intussen is Schüssler minder optimisties oor die eerste twee kwartale van 2019. Hy sê met die verkiesing om die draai, is dit waarskynlik dat politieke spanning gaan toeneem. Volgens hom kan dit ʼn negatiewe effek op sake -en verbruikersvertroue hê.

Hy sê hoe gouer die verkiesing afgehandel word, hoe beter vir die land. Hy sê dit is tyd om die ekonomie op ʼn goeie groeipad te kry en politiek is die een struikelblok wat alles beduiwel.

Intussen het September met ʼn tikkie goeie ekonomiese nuus afgesluit. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het aangekondig dat die land ʼn surplus van R8,8 miljard in Augustus behaal het. Dit was beter as markverwagtinge. In Julie het die handelsbalans ʼn tekort van R4,7 miljard getoon.

Die handelsbalans is ondersteun deur uitvoere wat met R10 miljard, of 9,4% gestyg het. Invoere het met R4,1 miljard, of 3,6% gedaal.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê dat die swakker randwisselkoers uitvoere gerugsteun het. Dit voeg by dat kleiner sektore veral by die swakker rand baat gevind het.

Ondanks die goeie nuus, sê die agentskap dat die tekort op die lopende rekening vir die jaar kan vergroot tot 3,5% van BBP (bruto binnelandse produk) teenoor die 2,4% wat verlede jaar bereik is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mrs H ·

Mnr Mike vergeet om die 8% verhoging vir elektrisiteit saam met brandstof van vandag af opgegaan het. Dit kan net “gedokterde” syfers wees, as daar enigsins groei wys. Glo dit nie vir n oomblik nie, want daar is hopeloos te veel wat verkeerd loop op een slag, in vergelyking met wat goed verloop – wat presies is dit?

jaco ·

gaan net met maandeinde na canal walk en n1 city winkelsentrums in Kaapstad: dit krioel so erg van mense dat daar geen aanduiding is van n ekonomiese resessie nie. En dit lyk ELKE maandeinde so, selfs maande waarin die grootste en ergste stories oor resessie die nuus gehaal het.

askies ·

Droom voort, plaasmoorde neem toe, so ook landvergrype .. die petrol en elektrisiteit gaan op so WAT van die ekonomie verstaan ek nie?

HPV ·

Ja-ja, net tot die anc regime en meelopers se volgende dom en ondeurdagte uitsprake dan is dit weer nag. Maak reg vir ‘n lang nag…

marous ·

Dis soos die Potberg storie waar die bees se geraamte beentjies 2 duim na mekaar skuif toe die plaasboer hom hard roep .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.