Entrepreneurskap: Waar kom die hulp vandaan?

entrepreneur-onderneming-rekenaar-selfoon-skootrekenaar-skryf-notas

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Elsabé Gouws

Suid-Afrika het ’n groot behoefte aan entrepreneurs wat geleenthede raaksien, die kennis besit om besighede van die grond af te kry, behoeftes in die mark te bevredig en volhoubare werk te skep. Ons benodig ’n reglynige verhouding tussen idees en vermoëns in die ondernemersmark.

Talle Suid-Afrikaanse ondernemers, wat naam gemaak het in verskillende industrieë, woeker in die ekonomie met hul verskillende fokusareas en sterk punte, waarmee suksesvolle klein-, middelgroot- en mikro-ondernemings bestuur word. Hulle het ’n positiewe impak op die gemeenskap, omdat hulle besondere behoeftes in die mark kan identifiseer, oplossings aanbied en sodoende die gemeenskapsmarkte daardeur transformeer.

Hoe lyk ’n entrepreneur?

Entrepreneurs word universeel omskryf met kombinasies van karaktereienskappe wat óf aangebore is, óf aangeleer kan word, of ’n kombinasie daarvan is.

Dieselfde karaktereienskappe wat aan groot name, soos Richard Branson, Elon Musk en Mark Zuckerberg toegedig word, kan gebruik word om Suid-Afrikaanse ondernemers te beskryf. Suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs, soos Carol Boyes (wat onlangs oorlede is), Ina Paarman, Annetjie Theron, Jenna Clifford, Biji La Maison en baie ander, kan almal beskryf word as persone met gedeelde karaktereienskappe soos kreatiwiteit, optimisme, gemotiveerdheid, toegewydheid, doelgerigtheid, ’n kompeterende geaardheid, sterk mensgerigtheid, selfvertroue, ’n oop gemoed om nuwe idees te oorweeg, sterk werksetiek en nog vele meer.

(Foto: Austin Distel/Unsplash)

Eksterne veranderlikes

Suksesvolle ondernemers maak nie uitsluitlik staat op hul aangebore persoonlikheidseienskappe nie. Hul idees en drome word ondersteun deur sakebeginsels.

Dit word in baie gevalle bemoeilik deur eksterne veranderlikes soos wette, reëls en regulasies waaraan hulle moet voldoen. Unieke omstandighede, wat tans in Suid-Afrika geld, bemoeilik dikwels die totstandkoming en ontwikkeling van kleinsakeondernemings. Sluimerende swak ekonomiese toestande, duur en moeilike finansieringsprosesse, beperkende arbeidswette en duur fasiliteite maak die totstandkoming van klein besighede moeisaam.

Ten spyte van beskikbare opleidingsgeleenthede in kleinsakebestuur, word kreatiewe, potensiële sakepersone in die Suid-Afrikaanse ekonomie in baie gevalle gepootjie deur die sakekonsepte en komplekse finansieringsprosesse wat hulle moet bemeester om ’n suksesvolle onderneming tot stand te kan bring.

Entrepreneurs se ervaring is dinamies en veranderlik en behoort aanpasbaar te wees by veranderlike omstandighede.

uurglas-geld-rande-rand

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Waar kry die entrepreneur finansiering?

Om finansiering te bekom, deur finansierders soos banke, ontwikkelingskorporasies of private ekwiteitsfondse, moet entrepreneurs in staat wees om ’n gedetailleerde sakeplan op te stel. So ’n plan sal inligting moet verstrek van alle aspekte van die besigheid, onder meer, bestuur, bemarking, tegniese aspekte van die produksieproses, arbeids- en omgewingsaangeleenthede.

Die periode van die sakeplan is gewoonlik, na gelang van die bedrag benodig, van twee tot vyf jaar. Indien die onderneming reeds bestaan, sal historiese inligting ook gegee moet word en die formaat van die sakeplan sal aan die finansierder se vereistes moet voldoen. Gedetailleerde inligting soos hierdie is nie noodwendig beskikbaar vir die klein sakepersoon nie en kan lei tot die inhibering van die vestiging of uitbreiding van die onderneming.

Dinamiese en ondernemende entrepreneurs wend hulself al hoe meer na sosiale platforms om hul produkte en die storie agter die ontwikkeling van die produk te bemark. Gemeenskapsfinansiering, (crowd funding) waar vriende, familie en anonieme individue genader word vir hulp met finansiering van goeie idees, raak al hoe gewilder. Kreatiewe en kritiese denke en emosionele intelligensie is belangrik sodat hulle in al hoe groter mate kan deelneem aan ’n digitale ekonomie.

Wat waarborg die sukses van die entrepreneur?

Die potensiële aanvraag na ’n produk is gewoonlik die dryfveer agter ’n suksesvolle besigheid. Die identifisering van nisbehoeftes is egter nie die enigste belangrike aspek waarop ’n ondernemer moet fokus nie, maar al die faktore wat bydra tot die totstandkoming van ’n lewensvatbare besigheid. Slegs 15% van nuwe ondernemings ontwikkel in volhoubare besighede, wat permanente werkgeleenthede in die ekonomie skep, aldus Alan Gray se Orbis-publikasie.

Hulp uit die omgewing en gemeenskap word al hoe meer benut om die groei van nuwe ondernemings te ondersteun. ’n Vraag na die produkte en die vestiging van die produk in die Suid-Afrikaanse mark word deur sosiale platforms ondersteun. Afsetpunte vir die nuwe produkte word aanlyn, op die internet en op sosiale media verskaf. Dié metodes maak aanlynverkope wat al hoe makliker en gewilder raak, maklik en beskikbaar vir potensiële klante. Só word die vraag na die produk of diens en die kliëntebasis ontgin.

(Foto: Pixabay)

Informele markte skep geleenthede vir die entrepreneur

Die afgelope jare het verskillende informele markte oor die land tot stand gekom en groot vooruitgang gemaak. Hulle word meestal beskryf as boeremarkte, gemeenskapsmarkte, organiese markte, plaasmarkte, kunsmarkte, geskenkmarkte, nagmarkte, stadsmarkte, wintersmarkte, kosmarkte of Kersmarkte en nog vele meer.

Dié markte het die angel van komplekse sakekonsepte gedeeltelik uit die kreatiewe proses geneem. Dit bied geleentheid aan kunstenaars, tuisbakkers, pottebakkers, naaldwerksters, juweliers en sangers om hul inkomstes onder die vaandel van die markte te verdien, sonder om hul kreatiewe fokus te verloor.

Elke mark het sy eie unieke karakter en gevoel. Entrepreneurs kan hulself met sekere markte identifiseer en ’n verhouding met die bestuur opbou, sodat klante hulle weer kan opspoor. Sodoende kan aanvraag gevestig word en die afset van produkte volhoubaar raak. Dit sou ekonomies van geen nut wees om ’n eenmalige geleentheid na te jaag nie. Kleiner ondernemers pas gemaklik in hierdie milieu in.

Kosmarkte het oor die afgelope jare landwyd ’n groot rol in rekreatiewe aktiwiteite begin speel. ’n Klantebasis het rondom markte begin vorm en markte het ’n belangrike rol in die bemarking van kosprodukte soos kaas, wyn, olywe en neute begin speel. Ondernemers kan gemaklik hul kosprodukte aan die publiek verskaf en ’n klantebasis ontwikkel. Organiese produkte wat groente, vrugte, melk en blomme insluit, kry ook groot aftrek. Kwaliteit speel ’n baie belangrike rol en kleiner ondernemers kan dikwels gemaklik daaraan voldoen.

Markte op sigself het ontwikkel in sakeondernemings wat as ’n sambreelliggaam oorkoepelend oor entrepreneurskap funksioneer. Die eienaars of bestuur van markte verskaf teen ’n inskrywingstarief, donasie of persentasie van omset ’n mandjie van sake-aanbiedinge waaroor die kreatiewe entrepreneur nie hoef te bekommer nie. Kreatiwiteit het dus die loot gewen. Die voordele sluit bemarking en advertensies, kosteberekenings, prysbepalings en winsbepalings, ’n klantebasis, infrastruktuur, fasiliteite, sekuriteit en ’n finansiële span in.

Daar bestaan verskeie markte wat belangrike geleenthede op die jaarlikse kalender geword het, soos byvoorbeeld Kamers vol Geskenke en die Mosaïek Kersmark in Johannesburg. Daar is ook ander wat weekliks en maandeliks ’n ruimte in die gemeenskap bied as plekke waar ondernemingsgees hoogty vier en waar klein ondernemers die kans gegun word om sonder spanning hul kreatiwiteit ten toon te stel. Hierdie markte het hul ontstaan te danke aan entrepreneurs in die ekonomie wat die sakegeleentheid raakgesien het om kleinsake te bevorder.

Tannie Poppie van As (Foto: Verskaf)

Nuwe entrepreneurs om dop te hou

Daar bestaan interessante, suksesvolle, nuwe ondernemings in Suid-Afrika, wat deur dinamiese en kreatiewe jonges van gees tot stand gebring is. Die Stellies-logo en -klerasie, Adene’s Farm Flowers, Veldskoen, Sapmok, ButtaNutt en Nina Bosch is maar ’n paar van die nuwer ondernemings wat dopgehou kan word.

Soms, maar net soms, is ondernemende persone op die regte plek op die regte oomblik, soos tannie Poppie wat in Laingsburg haar roosterkoeke aan die regte persone verkoop het tydens ’n sportbyeenkoms. Dit was só gewild, dat sy nasionaal bekendheid daarvoor verwerf het, aan talle familielede werk verskaf en ook die geleentheid gekry het om in Italië te gaan roosterkoeke bak!

Vir die entrepreneurs wat nie so gelukkig soos tannie Poppie is nie, bly informele markte in verskillende formate en digitale platforms ’n sinvolle eerste stap-oplossing om die uitdagings wat mikro- entrepreneurs in die gesig staar, te oorbrug en om hul idees en sakevooruitsigte te laat vorm aanneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae