Eskom: Daar is goeie en slegte nuus

Argieffoto: GCIS

Daar is vandag goeie nuus vir verbruikers aan die Eskom-front. Dit word egter gedemp deur meer slegte nuus van die staatsbeheerde maatskappy wat meer geld van vuisvoosverbruikers soek.

Eskom het vanoggend laat blyk dat hy die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) om nóg tariefverhogings gaan nader.

Die goeie nuus is dat Eskom se loongeskil met die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa), iets van die verlede is. Hulle het ’n loongooreenkoms geteken.

Dit kom ná maande se loononderhandelinge. Die ander twee vakbonde by Eskom, Solidariteit en die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM), het reeds loonooreenkomste met die maatskappy onderteken.

Die hoofsekretaris van Numsa, Irvin Jim, het vanoggend aangekondig dat die ooreenkoms oor drie jaar sal strek. Dit sluit in ’n verhoging van 7,5% in die eerste jaar en 7% in die twee daaropvolgende jare.

Wat die ooreenkoms ook behels, is ’n behuisingstoelaag wat jaarliks, gemeet aan die verbruikersprysindeks (VPI) verhoog sal word. Werkers sal ook ’n eenmalige kontantbetaling van R10 000 ontvang,

Numsa verteenwoordig sowat 10 000 werkers by Eskom.

Volgens die maatskappy se groephoof van menslike hulpbronne, Elsie Pule, kan werkers nou op hul daaglikse take konsentreer en daarop fokus om Eskom reg te ruk.

Verskeie voorvalle van beweerde sabotasie het tydens die staking voorgekom wat elektrisiteitsvoorsiening belemmer het. Gauteng, en veral Johannesburg, het onder beurtkrag deurgeloop.

Pule sê die fokus moet nou op Eskom se toekoms wees en om dit tot ’n winsgewende onderneming op te bou. Sy het bygevoeg dat ’n sterk Eskom ekonomiese groei kan ondersteun.

Ofskoon Eskom ook deur staatskaping gepootjie is, het uitgawes en die tyd wat bestee is om Medupi- en Kusile-kragsentrales die maatskappy se finansiële posisie laat wankel.

Intussen het dit rugbaar geword dat Eskom vir ’n 15%-tariefverhoging aansoek gedoen het.

Die maatskappy wat tans sukkel om sy finansiële welstand in orde te kry, het laat blyk dat hy by Nersa vir ’n gemiddelde verhoging van 15% aansoek gaan doen. Die verhogings word vir die volgende drie jaar beoog.

Die aansoek vir die verhogings is reeds aan die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsagentskap (Salga) gestuur.

Die verhoging sal daarop gemik wees om Eskom se kontantvloei op te bou. Die maatskappy het vroeër vanjaar goedkeuring gekry om tariewe te verhoog. Dit sou die maatskappy se koffers met R32,7 miljard aanvul.

Nersa het dit toegeken weens Eskom se laer as verwagte verkope en hoër kostes wat hy vanjaar verwag het.

Een ligpunt is dat Nersa konstant aan Eskom ’n verhoging, wat minder is waarvoor hy gevra het, gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

IK ·

So die verhoging is eerder sê 9% maar vra vir 15% om dan die gevraagde doelwit te bereik. Slim? Nee, uitgeslape!!

Irma ·

Hulle planne om ons so te belas gaan baie negatiewe gevolge vir Escom hê in die toekoms. Dit raak vir ons al meer belangrik om na alternatiewe energie oor te skakel. Hulle gaan slegs die wanbetalers oorhou en die gedienstige melkkoei gaan verdwyn. Hulle sukkel alreeds dat die betalende verbruikers al hoe minder raak. Ek sal graag wil sien watse slim stories hulle dan gaan uitdink.

Stuiwer ·

Dit gebeur nou as jy vir werkers verhogings wil gee en dit nie kan bekostig nie. Waarom is ek nie verbaas nie? Dink hierdie ouens nou dat ons stupid is?

Genieve ·

Ons verbruikers moet mos betaal vir hulle verhoging enige mens weet dit more is dai verhoging weer te min dan gaan hulle weer strate toe wat n skande.

Hanna Hoekom ·

Slegte nuus op slegte nuus: die lui en onbevoegde werkers is terug op hul poste danksy n unie EN ons, die vuisvoos verbruikers gaan vir die gemors betaal!

jaco ·

Voor julle te veel kla, onthou net: julle mede-witmense wat by Eskom werk en wat lede is van solidariteit, het óók gestaak en kry nou óók groter salarisse. So julle eie mense het ook maar daartoe aangehelp dat julle nou meer vir elektrisiteit gaan betaal.

Bokkie ·

My werkgewer is hard en gevoelloos. Hy gee geensins verhogings nie – van die personeellede het 10 jaar laas n verhoging gekry. Volgens hom is dit “take it or leave”. Hy sê dat ons gelukkig is om nog n werk te hê en bietjie te verdien as om bakhand by die regering te gaan staan. Niemand is gelukkig in die, maar n moet maar uithou!

Siekensat ·

Eskom moet eerder van werkers by Koeberg wat niks doen nie en sit en slaap ontslae raak en ophou om salarisse onnodig te betaal vir mense wat nie werk nie en net daar is vir die salaris en voordele.

GM ·

Jaco, ek sien niemand wat kleur inbring nie, behalwe jy? Dit maak nie saak wie gestaak het nie, die feit bly staan, dié wat wel vir krag betaal, gaan betaal dat dit hop, en dié wat dink hulle betaal nie vir krag nie, gaan indirek betaal deur kosverhogings ens. So die salarisverhogings beteken in elk geval niks nie. Een van die dae staak almal weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.