Finansiële welstand: Basiese spaarwenke vir Spaarmaand

spaarvarkie-munte-geld

Foto: Skitterphoto/Pexels.com.

Deur Ronel Jooste

Julie is bekend as Spaarmaand in Suid-Afrika. Wanneer ’n mens doelbewus op die uitkyk is vir moontlike geleenthede om te spaar, raak dit makliker. Dit is nie altyd nodig om te soek vir groot besparings nie. ’n Klompie kleiner besparings het dieselfde impak as een of twee groot besparings.

Dit is heelwat makliker om klein besparings te vind in die huidige ekonomiese klimaat in Suid-Afrika. Fokus op ’n paar kleiner besparings, want klein besparings tel vinnig op en sonder dat mens dit besef, is daar ’n ekstra paar rand in jou begroting.

Hier volg ’n paar wenke:

Moenie geld op onnodige bankkoste mors nie

Hersien jou bankkostepakket op ’n jaarlikse grondslag. Banke bring gereeld nuwe pakkette uit wat moontlik meer koste-effektief is as jou huidige pakket. Raadpleeg jou bank vir ander opsies. Werk uit of ’n pakket waar jy per transaksie betaal, of ’n vastekostepakket goedkoper uitwerk inaggenome jou behoeftes en leefstyl. Daar is geen rede om te betaal vir dienste en fasiliteite wat jy nie gebruik nie.

Lewensversekering moet pas by jou omstandighede

Lewensversekering is ’n noodsaaklikheid vir jou algehele finansiële welstand. Die hoofdoel van lewensversekering is om uitstaande skuld te delg wat nie deur die bates in jou boedel gedek word nie en voorsiening te maak vir jou afhanklikes, sou jy tot sterwe kom. Indien jy nie afhanklikes het of min skuld het, het jy nie werklik miljoene rande se lewensversekering nodig nie. Indien jou situasie dit toelaat, kan jy dit oorweeg om jou lewensdekking te verlaag en sodoende te spaar op ’n  verlaagde premie. Maak egter seker jou lewensdekking is wel voldoende. Kry raad van ’n gemagtigde finansiële adviseur voordat jy hierdie besluit neem.

Versekering op klererekeninge en selfone

Versekering op klererekeninge en selfone help baie as iets verkeerd gaan of verlore raak. Let egter daarop om nie elke versekeringsblokkie te merk vir elke iets wat jy koop sonder om jou somme te maak nie. Bepaal of die totale versekeringskoste geregverdig is inaggenome jou risikoprofiel en die vervangingskoste van die artikel of toestel. Om daardie bedrag wat jy sou betaal het aan versekering weg te sit in jou spaarrekening as deel van jou noodfonds, mag dikwels ’n beter opsie wees as om die versekering te betaal wat geprys is vir hoërisikokliënte.

Hersien jou korttermynversekering gereeld en werk dit by

Korttermynversekeringspolisse moet jaarliks hersien en bygewerk word om by jou huidige omstandighede te pas. Om jou motor se waarde na sy huidige verlaagde markwaarde by te werk, kan ’n besparing teweegbring weens ’n verlaagde maandelikse premie. In teorie behoort jou versekeringspremie te verlaag soos wat jou motor se markwaarde afneem. Die onus is egter op jou om die waarde aan te pas en dit met jou versekeringsmaatskappy te bespreek.

Wees bewus van uitsluitsels op polisse

Maak seker jy verstaan wat word uitgesluit en dus nie gedek deur daardie spesifieke polis nie, voordat jy ’n polis aanvaar.

’n Polis moet pas by jou omstandighede, behoeftes en risikoprofiel. Byvoorbeeld, as ’n vrou ’n polis uitneem wat gevreesde siektes dek, maar iets soos borskanker spesifiek uitsluit, moet sy mooi dink of die polis regtig haar moontlike behoeftes sal dek. Vermy die situasie om vir jare lank te betaal vir ’n polis en dan bewus te word dat dit nie ’n spesifieke iets of toestand dek wanneer dit te laat is nie.

Wees versigtig vir te-goed-om-waar-te-wees-aanbiedinge

Wanneer iets te goed klink om waar te wees, dan is dit heel waarskynlik ’n slenter. Moenie val vir elke persoon wat jou kontak met die beste, goedkoopste aanbod “eksklusief vir jou” nie. Jy kan net een selfoon op ’n slag gebruik – het jy rêrig twee of drie “gratis” selfoonkontrakte nodig?

Ronel Jooste (Foto: Verskaf)

Sien om na jou gesondheid

Pas jouself en jou gesondheid mooi op. Gaan gereeld vir gesondheidstoetse, eet gesonde en gebalanseerde maaltye, oefen gereeld, hou op rook, beperk jou alkoholinname en beheer jou gewig. Drink vitamiene en immuunversterkers, veral gedurende die koue winterseisoen. Mediese dienste is duur en voorsorg werk altyd goedkoper uit.

Jy sal effektiewe maniere vind om geld te spaar as jy doelbewus op die uitkyk is daarvoor en ’n bewustheid ten opsigte van spaar aankweek.

Dit is moontlik om geld te spaar en steeds die lewe te geniet.

  • Die artikel is ’n vertaalde uittreksel uit haar boek Financially Fit and Wealthy. Die boek, in harde kopie of e-boekformaat, kan op die webtuiste gekoop word by: www.roneljooste.com
  • Ronel Jooste is ʼn geoktrooieerde rekenmeester, finansiële konsultant, spreker en outeur. Ronel en Solidariteit Helpende Hand pak vanjaar ’n veldtog aan wat Suid-Afrikaners help met begrotings en finansiële kundigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanL ·

Almal reken ons Suid-Afrikaners het nie ‘n spaar kultuur nie. Ek sal net graag van Ronel wil weet (en ek besef sy is nie by SARS nie), hoekom word ons dan op spaargeld belas? En hier bedoel ek die rente op my spaargeld (uitsluitend die eerste R23 000 rente as ek reg onthou). Die regering moedig mens dus nie juis aan om te spaar nie, deurdat hulle jou gaan belas op jou rente. EK spaar sodat EK eendag nie ‘n las vir die staat sal wees nie, maar nou belas die staat my op die rente wat ek op MY spaargeld verdien?

Ronel ·

JohanL. Dis ‘n baie goeie punt wat jy daar maak en ons kan sekerlik lank daaroor bespiegel. Ongelukkig gaan ons sienings nie die situasie kan verander nie. Daarom is dit belangrik dat ons wel van al die moontlike belastingtoegewings maksimaal gebruik maak. Byvoorbeeld maak seker jy het ook ‘n ‘Tax-free Savings Account’ / TFSA as deel van jou spaarportefeulje waarop jy nie belas word nie indien jy binne die limiete bly. So ook gebruik maak van jou maksimum aftrekking vir bydraes tot pensioenfonds / uittredingsannuiteite.

JohanL ·

Dankie Ronel – ek dink ongelukkig is jy korrek met jou woorde “Ongelukkig gaan ons sienings nie die situasie verander nie”.

As verdere voorbeeld. Ek besluit om te bedank en om welke rede ookal al my pensioengeld te vat (as voorbeeld R3 miljoen). Ek betaal geen belasting op R500 000 nie, maar word geslaan teen 36% op die oorblywende R2.5 miljoen. So ek het reeds daarop belasting betaal. Nou trek daai geld rente teen (as billike voorbeeld 7%) en ek kry R175 000 rente per jaar. Daarop gaan ek ook belas word!!!!

In ‘n sekere sin “betaal ek 2 keer belasting” alhoewel julle slim mense sal reken dit is nie so nie, want die tweede keer is op die rente en nie die belegging nie.

En ja, dit is ‘n swak of dom voorbeeld, maar ek probber die punt maak dat ek dink die staat mens net wil looi met belasting, waar ons wat vir onsself wil sorg vir die oudag, moet juis aangemoedig word.

Maar ja, weer ‘n keer……. ons sienings kan nie die situasie verander nie. Dalk moet julle finansiele mense via die nodige forums druk probeer plaas op die Minister van Finansies.

Vraag : Geld wat uitbetaal word deur uitkeerpolis is mos nie belasbaar nie. Mens betaal reeds belasting indirek deur een of ander wyse gedurende die tyd wat mens premies betaal?

wielie ·

Ek kan nie spaar nie want die lewens koste is te hoog, het nie eers meer geld vir myself nie
:(

DuurMedies ·

ek wil graag weet hoe spaar mens met vreeslike hoë mediese fonds paaiemente??!!

Ronel ·

DuurMedies. Mediese uitgawes is vreeslik hoog, maar ons kan ook nie sonder dekking nie. Daar is nie ‘n standaard antwoord nie, want elke persoon se situasie en risikoprofiel verskil. Vir baie mense help dit wel om ‘n goeie hospitaalplan te he en dit wat hulle spaar op die goedkoper premie self weg te sit en ‘n noodfonds op te bou om ander mediese kostes wat hospitaalplan nie dek nie te kan betaal. Beste is egter om ‘n goeie adviseur te kry wat vir jou kan help met opsies van verskillende fondse en verskillende planne.

Swannie ·

By my bank kry ek 5% rente tot en met R19999,00 en sodra ek oor twintigduisend rand spaar, halveer my rente en kry ek slegs 2,5%.

Is dit hoe mense aangemoedig word om te spaar ?

Ronel ·

Swannie. Ek het ongelukkig nie genoeg detail om jou vraag ten volle te beantwoord nie. Dis egter vreemd. Het jy al ‘n geldmarkfonds of kennisgewingdeposito probeer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.