Gaan SA weer afgegradeer word?

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Suid-Afrika sal na verwagting Vrydag hoor of hy verder afgegradeer gaan word terwyl die inflasie- en rentekoers ook dié week bekend gemaak word.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, voorspel dat Suid-Afrika se ekonomieweek op ʼn laagtepunt sal eindig met ʼn waarskynlike kredietafgradering deur Moody’s.

Roodt sê Suid-Afrika het die ekonomiebal lelik aangeslaan. Hy verwag nie dat nog ʼn kredietagentskap wat Suid-Afrika in sy visier het – Standard & Poor’s (S&P) – tot die stap sal oorgaan nie.

Ontleders waarsku egter dat ʼn derde kredietagentskap – Fitch – ook sake in die land fyn dophou.

Roodt sê die oorwegende rede vir die stap is dat die staatskas leeg is, en die regering steeds bereid is om geld te wil bestee aan duur projekte soos kernkrag en die #FeesMustFall-eise vir gratis tersiêre onderrig.

Volgens Roodt is die Suid-Afrikaanse ekonomie pap en lei dit tot verskeie probleme, waaronder ʼn tekort in belastinginvordering asook werkloosheid. Hy sê Suid-Afrika het nou ʼn laagtepunt bereik en ʼn nuwe werkbare ekonomieplan is nodig om die ekonomie ʼn hupstoot te gee.

Boonop waarsku hy dat ʼn kredietafgradering die rand kan stonk. Die geldeenheid was sedert verlede Maandag onder groot druk. Markontleders verwag dat die geldeenheid met tussen 50 en 100 sent kan verswak, sou die land afgegradeer word.

Roodt sê ekonomiebeleidsonsekerheid in aanloop tot die ANC se verkiesingskongres aanstaande maand dra ook by tot verdere ontwrigting.
In die week word die verbruikersinflasie-gegewens ook uitgereik. Roodt verwag dat dit steeds onder 6% – die boonste van die Reserwebank se inflasieteiken – sal wees. Hy skryf dit toe aan die pap ekonomie.

Daarom sê Roodt sal die sentrale bank nie nou met rentekoerse peuter nie. Die repokoers, dit is die koers waarteen die SARB geld aan banke uitleen, is tans 6,75%. Die primakoers is 10,25%.

Die ekonomie-agentskap NKC Economics sê dat die land se ekonomie-vooruitsigte gekortwiek word deur politieke onsekerheid en verwagtinge oor ʼn moontlike kredietafgradering. Die groep sê dat sentiment ook deur die negatiewe mediumtermynbegroting geraak word. Die groep verwag dat rentekoerse onveranderd gelaat sal word.

Intussen berig Reuters dat 13 uit 25 ekonome verwag dat een van die kredietgraderingsagentskappe Vrydag af sal gradeer. Volgens die Reuters-verslag kan dit ʼn groot uitwerking op die rand en die kapitaalmark hê.

Suid-Afrika is een van die min ontluikende markte in die wêreld waar buitelandse valuta omgeskakel word na die plaaslike geldeenheid om hier in staatseffekte te belê. Ontleders waarsku dat die proses omgekeer sal word met ʼn kredietafgradering en rande dus verkoop sal moet word om aan beleggings te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Kry die diewe agter tralies en stel mense met integriteit en verstand aan om die land se geldsake te hanteer. n Ou met 783 aanklagtes is duidelik nie bevoeg vir enigiets nie.

Johann Marx ·

Goeie jimmel…..hier word darem baie vertel wat alles fout is, en wat alles verkeerd geloop het, en hoeveel erger dit nog gaan word, en hoe ons nog gaan suffer…..WANNEER kom hierdie slim menere met ‘n 10,20,30 punt plan vorendag om ons ekonomie te laat verstewig en te laat groei. ‘n Sterk ekonomie met ‘n sterk wisselkoers is tog tot almal se voordeel, nie waar nie? Anders moet dit pure HEL wees om in Brittanje te woon, en ‘n absolute paradys in Zimbabwe? Komaan slimkoppe…..10 punt plan. Wat is stap 1, en hoekom word nie ge-implementeer nie?

Chrisjan ·

Mugabi het uitgetree.As Zuma NOU uittree sal ons nie afgegradeer word nie.Dis nou Zuma se beurt om te waai!

Burger ·

Net soms gebeur gebeur dinge teen alle verwagtinge in . Robert Mugabe word skielik verwyder. Dit Kaap kry reen in die somer. Al die sektore op die JSE het vandag gegroei…..

christa ·

POS die gemors dat hy saam met guptas gaan Dat Ons Kan Lewe in Suid Afrika

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.