Gordhan het groot planne

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan, die nuwe minister van openbare ondernemings, sê dit gaan ʼn groot uitdaging wees om die land se openbare ondernemings reg te ruk.

Gordhan, wat die omstrede Lynne Brown as minister vervang het, het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê een van sy eerste doelstellings gaan wees om na die sakemodelle van alle staatsbeheerde ondernemings te kyk. Volgens hom gaan dit vergaderings met die onderskeie besture en uitvoerende rade insluit.

Op ʼn vraag het Gordhan gesê dat nie een van die staatsondernemings spesifiek geteiken gaan word nie. Hy het erken dat almal in ʼn chroniese toestand is en reggeruk moet word om beleggersvertroue in hulle te herstel.

Hy weet dat daar ʼn groot taak op hom wag, maar is vasberade om die staatsondernemings suksesvol terug op koers te bring en van die vrot appels ontslae te raak.

Gordhan meen hy sal suksesvol wees juis omdat die regering nou op ʼn teenkorrupsie-aanslag fokus.

Hy wou nie juis veel oor Eskom uitwei nie. Die staatsonderneming het onder die vergrootglas gekom tydens verhore van die parlement se portefeuljekomitee op openbare ondernemings oor staatskaping. Gordhan se kennis en inligting het verskeie bestuurs- en raadslede ongemaklik gelaat. Dit het ook tot nuwe onthullings oor staatskaping gelei.

Eskom word ten nouste met staatskapping verbind. Dit sluit in die verkryging van die Optimum-myn vir die Gupta-beheerde Oakbay Resources en onregmatige betalings aan McKinsey en Trillian.

Pravin Gordhan. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Nog ʼn struikelblok by Eskom wat hy sal moet ondersoek, is die vorige waarnemende hoof Matshela Koko se rol in verskeie ongerymdhede. Dit sluit in die toekenning van tenders ter waarde van 1 miljard aan ʼn maatskappy waar sy stiefdogter betrokke was.

By Transnet sal veral die invoer van lokomotiewe uit China onder die loep kom. Volgens die sogenaamde #GuptaLeaks-verslae sou die Guptas op elke ingevoerde lokomotief vanaf China ʼn kommissie van R10 miljoen verdien.

Gordhan, wat op pad na sy eerste kabinetsvergadering was, sê ʼn plan van aksie sal binne ʼn week reg wees. Hy beoog ook om die departement van openbare ondernemings onder die vergrootglas te bring. Hy sê die departement het baie geld vermors en spesifiek ʼn klein belangegroep geteiken.

Gordhan is egter optimisties dat hy sake by onder meer Transnet, Denel en Eskom sal kan regruk. Hy was voorheen die kommissaris van die Inkomstediens en het van 2009 tot 2014 as minister van finansies gedien.

Daarna was hy minister van samewerkende regering voordat hy in Desember 2015 weer as finansiesminister aangestel is ná die sogenaamde Nenegate-voorval. Hy is in Maart 2017 deur oudpres. Jacob Zuma gepos en met Malusi Gigaba vervang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Max ·

Hoekom kon so ‘n man nie as onder-president of selfs as president gekies word nie? Het hy te veel verstand en integriteit?

karin ·

Hello Max – ek hoop net dat die man uitgelos word om sy werk te doen soos hy beoog

jjobson ·

Aan sy voorkoms kan jy hom evalueer as i werksesel. Hoop net CR waardeer hom. Hys wel bles maar i CATCH.

Francois Joubert ·

Ek het al gelees dat hy sy werksmense laat sweet tot die resultaat daar is. Geen wonder die lot was so bekommerd by die verhore waarna verwys word nie. Hy gannie los nie.

Paul ·

Wie gee om???? Die lot van plase en eiendomsreg is baie belangriker! Sorteer eers dit uit voor julle met ons koppe smokkel.

leon ·

Wat Gordhan se planne is skeel my min. Met sy regering se beleid en ‘n berg skuld, verder afgegradeer vanmore, sit ons sonder krag teen 2020.

Grap ·

Beleggersvertroue herstel? Wat ‘n grap. Dis verwoes deur een woord: grondonteiening. Sterkte met daardie droom, Min Gordhan. Jy gaan teen donderweer…hmm. Newwermind.

DR ·

Die grootste korrupsie is grond gryp sonder vergoeding,,, begin sommer da

Eddie ·

Gee Gordan kans , dit kan net beter gaan met die betrokke maatskappye !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.