Groeikoers neem positiewe draai maar bly laag

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto.

Daar is goeie ekonomiese nuus op die horison vir Suid-Afrika. Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research, , sê die derde kwartaal se groei sal waarskynlik positief wees en die land uit sy tegniese resessie ruk.

Kruger sê die kans is goed dat ekonomiese groei op ’n jaargrondslag sal gebeur. Sy voorspel dat die groeikoers 1,8% kan beloop. Dit was -0,7 in die tweede kwartaal.

Sy sê die groeikoers vir die jaar sal waarskynlik 0,7% beloop. Sy wys egter daarop dat die groeikoers vanaf ’n lae basis kom.

“Die groeikoers is egter te laag om die land se werkloosheidsprobleem te verlig en behoorlik aandag daaraan te skenk,” sê sy.

Kruger se kommentaar volg op Statistiek Suid-Afrika se jongste gegewens oor kleinhandel.

Volgens StatSA het kleinhandelverkope in September slegs met 0,7% verbeter. Dit was laer as markverwagtinge. In Augustus het die syfer 2,5% beloop.

StatSA sê positiewe groei is in vier van die sewe sektore wat die gegewens rugsteun, gevind. Die grootste bydraes het van ander kleinhandelaars gekom wat met 4,4% gestyg het. Huishoudelike toestelle en meubels het met 10,9% verstewig. Algemene handelaars, wat die grootste subsektor is met ’n gewig van 42.8% is, het met 0,2% verbeter.

Kos, drank en tabak het met -3% gekrimp. Verf en glas het met -3,9% gedaal, terwyl tekstiele, klere en skoeisel met -0,35% verswak het

In ’n meningstuk sê NKC Research, ofskoon September se lae kleinhandelsyfer teleurgestel het, het kleinhandelverkope gedurende die derde kwartaal met 6,2% gestyg.

Die maatskappy voeg by dat die gegewens vir die derde kwartaal daarop dui dat die kleinhandelsektor gedurende die tweede kwartaal in ’n tegniese resessie was.

“Die positiewe groei in die derde kwartaal het gehelp om dit op ’n groeipaadjie te plaas,” se NKC Research. En dit voorspel dat kleinhandelverkope sal help om die derde kwartaal se groeisyfer te rugsteun.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het nog ’n sektor effens in Suid-Afrika verbeter. Die vervaardigingsektor, wat ook ’n groot gewig in die groeikoers het, het in September met 0,1% verbeter.

Van die subsektore wat tot die positiewe syfer bygedra het, was kos en drank wat met 2,7% geklim het. Staal en verwante produkte was 3,3% hoër, en hout, houtprodukte en drukkerswerk het met 3,4% gestyg.

Onder die grootste subsektore wat negatiewe groei getoon het, was petroleum en verwante produkte wat met -3,2% gedaal het.

Motors, onderdele, bybehore en ander vervoertoerusting het met -4,9% gedaal.

Statistiek Suid-Afrika sê op ’n seisoenale grondslag het die vervaardigingsektor met 1,7% in die derde kwartaal gegroei.

Die mynbousektor het egter gedurende die kwartaal gesukkel. Dit was veral goudproduksie wat die sektor gekortwiek het. Die statistieke liggaam sê dat op ’n seisoenale basis het mynbouproduksie met 2,25% verswak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Judge Dredd ·

Groei onder 3% beteken werkloosheid vermeerder steeds.
Tussen 3%-3.5% ewenaar ons werkskepping/werkloosheid.
Bo 3.5% dan begin ons werkloosheid afbring.

lewies ·

To little to late!! – Waar is die syfers vir onregmatige besteding wat reeds bekend gemaak is? Die inbelstasies gons daaroor (Ouditeur Generaal). Dit gaan ‘n wenner wees as Maroela Media hierdie syfers bekend gaan maak. Sien uit daarna.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.