‘Handelsoorlog’: Wat sê SA se aluminiumprodusente?

donald trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Een van die land se voorste aluminiumprodusente, Hulamin, sê hy hou tans die tariefdebat in Amerika fyn dop.

Ontleders waarsku dat ʼn tariefoorlog kan opvlam nadat pres. Donald Trump aangekondig het dat hy tariewe op sekere staal- en relevante produkte wil opstoot. Trump wil tariewe op staalprodukte met 25% opstoot en 10% op aluminium.

Johannes van Niekerk, ʼn woordvoerder vir Hulamin, sê die maatskappy neem tans ʼn wag-en-sien-houding in en bestudeer die uitwerking van die aankondiging. Hy maan dat daar steeds onsekerhede oor die tariefaankondiging heers.

Hulamin se uitvoer na Amerika beloop sowat ʼn vyfde van sy produksie. Volgens Van Niekerk is die sterker rand ook ʼn hindernis. Hy wys daarop dat die wisselkoers tussen die rand en Amerikaanse dollar in 2017 gemiddeld R14,73 was. Dit het vanjaar reeds tot R13,32 verstewig. Van Niekerk sê weens die rand se herstel het die maatskappy se bedryfswins ʼn knou van R267 miljoen gekry.

Hy is egter hoopvol dat samesprekinge oor die toekomstige tariefbeleid steeds met Washington gevoer sal word. Van Niekerk wys daarop dat die maatskappy hoop op verdere leidrade wat aan die mark rigting sal verskaf.

Aluminium word veral vir blikkies en motoronderdele gebruik.

Die ekonomiese ontledingsmaatskappy NKC Economic Resesearch sê die rand het herstel nadat Trump se aankondiging aanvanklik die geldeenheid ontwrig het.

Volgens die maatskappy is daar egter spanning tussen Trump en sy ekonomiese adviseur, Gary Cohn, hieroor. Cohn verskil met Trump oor die beoogde tariefverhogings omdat dit nadelige gevolge vir Amerika kan inhou. Boonop wys die maatskappy daarop dat die dollar juis deur Trump se aankondiging nou op die agtervoet is.

NKC wys daarop dat Trump se aankondiging waarskynlik tot ʼn handelsoorlog met verskeie lande kan lei. “Dit kan ʼn nadelige effek op die Amerikaanse ekonomie hê,” sê die maatskappy.

Alusaf, wat die grootste produsent van aluminium in die Suidelike Halfrond is, het nie op navrae reageer nie. Alusaf produseer 720 kiloton aluminium per jaar. Hy het ʼn werksmag van 1 400. Die maatskappy behoort aan South32 wat ontstaan het nadat BHP Billiton van sy bates ontbondel het.

Intussen het die departement van handel en nywerheid aangekondig dat hy in gesprek gaan tree met Amerika oor die beplande tariefverhogings. Die departement sê in ʼn verklaring dat hy direk met Amerika sal beraadslaag, asook in verskeie ander forums. Die departement beoog ook om met maatskappye wat na Amerika goedere uitvoer te beraadslaag.

Die departement beplan om die tariefdebakel by onder meer die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) en die G20 te opper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MANIE ·

Die man is baie selfsugtig. Net bekommerdoor sy maatskappy se bietjie verlies. Nie gepla oor wat die negatiewe rand doen aan enige mens se sak wat iets moet koop wat ingevoer word. Glo dat hy n salaris verdien wat nie pla as die rand verdien . Hoe pateties

Gerrit ·

Presedent Trump het gesê hy sal die VSA weer great maak en dit is presies wat hy doen hoe wens ek om n leier soos hy te hê

Jennt ·

Mag die Here so ‘n Godlike man vir SA oprig. Bid almal vir Donald Trump vir wysheid en extra deursettingsvermoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.