Het jy dalk meer as net ʼn noodfonds nodig?

Foto: Diane Helentjaris/Unsplash

Meer as die helfte (52%) van Suid-Afrikaners tussen die ouderdom 18 en 55 jaar sê hulle spaar vir ʼn noodgeval, maar erken ook dat hulle terselfdertyd nie ʼn onverwagte uitgawe van R10 000 sal kan dek nie.

Dit is die terugvoer wat Budget Insurance ontvang het op navorsing wat hulle gedoen het oor Suid-Afrikaners se spaargewoontes.

“Ons moedig Suid-Afrikaners aan om vir twee afsonderlike spaarfondse te begroot: ʼn fonds vir ʼn onvoorsienigheid en ʼn noodfonds. Die bufferfonds is vir kleiner onvoorsiene bedrae en korttermynuitgawes, terwyl die noodfonds daar is om jou te ondersteun as daar skielik ʼn ontwrigting van jou inkomste is soos wanneer jy jou werk verloor,” sê Susan Steward van Budget Insurance.

Steward verduidelik ʼn bufferfondsfonds kan jou help om ʼn eenmalige uitgawe te dek waarvoor jy nie beplan nie sonder om skuld te maak of oor te bestee op jou begroting. Die geld sal normaalweg in ʼn spaarrekening gehou wat jy binne 24 uur kan onttrek.

“Die geld sal jou kan deursien tot jou volgende salarisstrokie.”

ʼn Noodfonds, reken Steward, is daar om ʼn ongelukkige voorval soos ʼn aflegging of ʼn skielike siekte te dek. Die geld in hierdie fonds kan huur-, huis- en motorpaaiemente dek, asook jou lewenskostes.

“Hierdie geld moet in ʼn rentedraende rekening geplaas word soos ʼn rekening met ʼn 32 dae-kennisgewingperiode. Dit is die geld waarop jy terugval as daar ʼn krisis is,” verduidelik Steward.

“Ons opname het getoon dat mense óf meer geld by vriende of familie sal moet leen óf lenings sal moet aangaan om die onvoorsiene uitgawes te dek. Met hierdie twee afsonderlike spaarrekeninge, sal jy nie net jou inkomste beskerm nie, maar ook die geld beskikbaar hê vir ʼn klein of groot noodgeval.”

Steward het ook stappe wat jy kan volg om te spaar vir hierdie twee fondse:

Stap 1: Begroting, begroting, begroting

Aan die einde van die maand vra ʼn mens dikwels vir jouself waarheen het al jou geld verdwyn. As jy gereeld hierdie vraag aan jouself stel, beteken dit jy begroot nie slim genoeg nie. Gaan elke bedrag op jou bankstaat na om die “skuldige” uitgawes te identifiseer. In die meeste gevalle is dit kos, aankope wat op die ingewing van die oomblik gedoen is en ander nienoodsaaklike goed. Hierdie klein uitgawes kan saam ʼn reusebedrag wees en die eerste stap wees waar jy vir jou bufferfonds kan begin spaar. Begin deur byvoorbeeld net een of twee keer per maand minder te gaan uiteet en jy kan maklik tussen R300 tot R500 spaar.

Stap 2: Jou noodfonds help jou bufferfonds

Om genoeg geld weg te sit vir ʼn salarisbuffer van drie tot ses maande kan ʼn vreesaanjaende projek wees. Moenie dat dit jou oorweldig nie. Begin eers om een maand se salaris te spaar en kyk hoe lank dit jou neem om by die bedrag uit te kom. Jy kan dan die geld wat jy moet spaar, so aanpas vir die tweede maand en vir die derde maand. ʼn Bufferfonds sal jou ook help om vir jou noodfonds te spaar, want as jy eers oor dié fonds beskik, sal jy nie jou noodfonds gebruik vir onvoorsiene uitgawes nie.

Stap 3: Outomatiseer jou spaargeld

Stel ʼn maandelikse debietorder op wat in jou reëndagspaarrekening inbetaal word. Gaan elke ses maande terug na jou begroting en kyk hoe jy dit kan aanpas om meer te spaar, maar ook om te sien of jou geld steeds meer as inflasie groei.

Stap 4: Maak die beste van ʼn geluk

Of dit nou ʼn verhoging in jou salaris is, of ʼn belastingafslag wat ons meeval, is daar die versoeking om die geld te spandeer en te trakteer. Fokus eerder daarop om eers jou skuld te delg en begin by die skuld met die hoogste rentekoers, daarna kan jy die geld wat oorbly in jou bufferspaarrekening plaas. ʼn Salarisverhoging kan elke maand in ʼn meevaller omgeskakel word. Sorg dat jy jou verskil in verdienste in jou bufferspaarrekening plaas vir minstens die eerste ses maande.

Stap 5: Beskerm jou besparings in noodgevalle

Spaarrekeninge vir noodgevalle, groot of klein, sal vir jou finansiële sekuriteit gee, maar die regte versekeringsdekking kan jou ook help om jou spaargeld te beskerm maar ook te help.

Indien jou huis se dak, byvoorbeeld, beskadig word in ʼn hewige bui reën, sal jy so vinnig as moontlik jou geute moet herstel en teëls vervang om verdere en duurder skade te voorkom. Jy sal waarskynlik ʼn vooruitbetaling vir die herstelwerk moet doen uit jou bufferspaarrekening, maar met die regte versekeringsdekking kan jy jou oorspronklike uitgawe weer in dié spaarrekening terugbetaal.

“Dit is dikwels moeilik om geld te spaar, veral met die hoë lewenskostes van vandag. Daarom moet jy fokus op die goed wat jy benodig, wat spaarrekeninge insluit, en nie net op die dinge wat jy graag wil hê nie.

“Dit verg dissipline en oefening, maar sodra jy eers die regte spaargewoontes gevestig het, sal dit al makliker raak om jou bufferspaarrekening en noodfonds te laat groei,” het Steward bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petro ·

Budget is vinnig om advies te gee, maar dit is goed en wel
maar mens kry geen rente op spaar rekeninge nie As jy n salaris verdien
het jy verpligtinge so hoe moet jy spaar Begroting is reg, maar hoe gemaak
as die pryse van kos aanmekaar opgaan Vandag betaal jy R24 vir n pakkie vis oormore is dit R36,00 SO HOE KAN ONS SPAAR

Piet parys ·

Om te spaar klink maklik . Mense wat R20 000 per mnd verdien sukkel om kop bo water t e hou wat nog te sè uiteet . Ek weet nie hoe mense op R10 000 oorleef nie en ek praat nie eers van die onder R 5000 vir ñ gesin van 3 wat ñ kind op skool het nie . Ek dink plaas vir mense van hoe om te oorleef as dit moontlik is op R 5000 ñ maand . Resepte Voor jy nie in daai persoon se skoene staan nie is dit onmoontlik om te weet wat dit is om net te bestaan nie

Tino ·

My spaar geld het die owerheid aan sanral geleen en hulle betaal nie rente nie so hoe nou?

PietS ·

Die dae van dinge wat jy graag wil he is lankal verby. Ons is in n oorlewerings fase. Daar is nie meer geld om te spaar nie. Ons lewe van die hand tot die mond. Die skrywer het geen idee hoe swaar dit met ons volk gaan nie. Hy moet wit plakkers kampe besoek en rond dwaal in Johannesburg se middestad en sien hoe swaar kry sy mense. Hy het duidelik nie n idee nie. Walk in our shoes my bra, en dalk sal die werklikheid jou tref.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.