Hoe gaan die BTW-verhoging jou sak raak?

Argieffoto: Pixabay

Van 1 April vanjaar moet grapjasse opsy staan. Dit is die dag waarop belasting op toegevoegde waarde (BTW) van 14% tot 15% gaan styg. En dit gaan geen grap wees nie.

Ontleders meen dit gaan verbruikers se sakke skud en daar gaan nie juis iets wees om oor te lag nie. Die verhoging in BTW is verlede maand in Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, se begroting aangekondig. Dit was een van die maatreëls wat voorgestel is om die land se begrotingstekort uit te wis.

Ekonome meen dat die begrotingstekort ʼn struikelblok is wat die land moet vermy omdat kredietgraderingsmaatskappye nie gunstig daarop reageer nie.

Statistiek Suid-Afrika se lys van goedere waarop Suid-Afrikaners BTW sal moet betaal, sal enige verbruiker laat verstik aan sy koppie koffie. En wanneer die lys bestudeer word, sal dit Suid-Afrikaners gewis laat kopkrap.

Want studente en leerders se benodigdhede, jou daaglikse sopie wyn, jou gunstelingpastei, ʼn sny koek en ʼn doktersbesoek gaan meer kos. Skool- en universiteitsgeld asook koshuiskoste word ook nie ontsien nie.

“Die Wet van Transvaal geld vir die hele land,” het een ontleder na die BTW-verhoging verwys. Van die alledaagse dinge waarop BTW sal styg, sluit in koerante, boeke en skryfbehoeftes, waaronder handboeke, penne, potlode en kryt.

Die lys sluit ook rys, pastaprodukte, alle broodsoorte behalwe bruin brood, bankkoste, selfoonrekeninge, mediese koste, waaronder hospitaalopname, vleisprodukte en hoender in.

Tot jou troeteldier se gunstelingkos is nie vrygestel nie. En dalk sal pappa en mamma ʼn tweede keer dink voor hulle gaan uiteet, want dit gaan duurder word. Hamburgers, worsrolle en pizza is van die produkte wat duurder gaan word.

Suid-Afrikaners wat lief is vir hul spek-en-eier-ontbyt word nie ontsien nie. Eiers is vrygestel van BTW, maar nie spek nie. Ook geblikte vleisprodukte, polonie en ham is op die lys van produkte waarop BTW gehef sal word.

Toeriste word ook nie ontsien nie. Geen vorm van vervoer en verblyf spring die BTW-gogga vry nie. En daardie glasie rooiwyn. Sluk maar, want Jan Taks kry sy BTW en sy sondebelasting.

Pap, kaartjies vir sportbyeenkomste soos rugbywedstryde, sanitêre goedere en toiletpapier is ingesluit. Motoronderdele en motorvoertuie, waaronder tweedehandse motors, spring nie die BTW-valbyl vry nie.

En, net om seker te maak dat verbruikers hul kant bring, word begrafniskoste, waaronder grafstene, ook nie uitgesluit nie.

Elize Kruger, ʼn senior ekonoom by NKC Economic Research, sê die styging in BTW sal nie net ʼn negatiewe uitwerking op April se verbruikersinflasie-gegewens hê nie, maar ook op verbruikersentiment. Sy meen egter die Reserwebank sal verby die BTW-verhoging kyk en oortuig bly dat inflasie onder beheer is.

Kruger wys daarop dat munisipale tariewe ook gaan styg. Volgens haar het kleinhandelaars reeds hul stelsels bygewerk om vanaf 1 April moeiteloos die BTW-verhoging in te stel.

Sy sê voorts dat Statistiek Suid-Afrika waarskynlik sy inflasiemandjie sal moet aanpas om die BTW-verhoging in ag te neem.

Kruger het egter kommer uitgespreek dat 60% van die inflasiemandjie deur BTW geraak sal word.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

BTW ·

Ja hulle swem in die geld maar van ons werk al vir meer as 2 jaar vir dieselfde loon. alles word duurder hoe moet ons oorleef ?

Gestremde ·

Meer werkloosheid, groter afskalings van personeel. Om BTW te verhoog is om die arm nasie te vermoor. Die ANC het die wenresep vir groter armmoede met BTW, minimum salarisse, ens. wat veral die armes gaan raak. Wat sê hulle…gee vir iemand die tou om homself te hang as hy nie kan sien wat is hy besig om homself te doen nie. Bravo ANC julle laat onskuldige mense en kinders krupeer…dus mos nou wat ons noem “nuwe Suid Afrika”. Gaan seker nog meer Ensifeni gevalle wees waar daar nie na mense gekyk kan word in inrigtings of hospitale nie. Daar is een gesegte wat egter tot voordeel is…hoe hongerder die persoon raak, hoe meergaan sy oë oop wat rondom hom gebeur. Die regering is besig om die hele bevolking te straf vir hulle mislukkings en geldgeriegheid. Bly om te sien hoeveel biljoeners en miljoeners het nou verbintenis met die regering. Die nuwe Suid Afrika is net bedoel vir 2% van die bevolking met die regte konneksies en die res gaan meer krupeer. Maar ons eie president het vir homself voorsiening gemaak en sommer sy salaris verhoog met 25% en is een van die vyf beste betaalde presidente in die wêreld. Ook besig om vir homself ‘n eie Nkandla te bou in die Wes Kaap. Dus nou seker wat kyk na jou volk beteken…bevoordeel jouself en laat die res om jou ondergaan.

Jo-anli ·

Ons pensioen bly steeds dieselfde afgelope 16jaar, nie n sent meer, maar uitgawes styg. Moet net klaarkom met R500 per maand vir totale kruideniers skoonmaakmiddels alles ingesluit. Wonder of mense weet hoe dit voel om net elke derde dag bord kos te kan eet, ander dae is dit net n 1 sny brood vir middag en aand ete.

Alwyna ·

Al troos wat ek het is dat ALMAL ten minste gaan betaal! Hulle wou mos gratis onderrig hê, so nou moet hulle ook hoes!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.