Is daar hoop vir Eskom en SAL?

pieterboth-substasie eskom

Argieffoto: Facebook

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, gaan die spreekwoordelike haas uit die hoed moet haal om twee van Suid-Afrika se sukkelende staatsondernemings, Eskom en die SAL , reg te ruk.

Dit is die mening van verskeie ekonome wat meen privatisering, of gedeeltelike privatisering, dalk ’n oplossing kan bied vir hul sukkelende geldsake.

Ekonome voeg by dat dit waarskynlik ook kan inpas by president Cyril Ramaphosa se plan om buitelandse beleggers te lok.

Die kwessie van staatsbeheerde ondernemings het weer in die kollig gekom nadat Eskom se finansiële treurmare nog duideliker geword het. Die maatskappy sukkel om steenkool vir sewe kragsentrales te bekom wat die moontlikheid van beurtkrag weer op die horison geplaas het.

Eskom sukkel om geldelik die mas op die kom terwyl sy balansstaat baie swak lyk. Dit het tot verdere afgraderings gelei wat Eskom in die posisie plaas om nie op die kapitaalmark geld te kan leen nie.

Die vorige minister van finansies, Malusi Gigaba, het Eskom as die grootste enkele dreigement vir die Suid-Afrikaanse ekonomie uitgewys.

Eskom sal na verwagting ’n verlies van R8,1 miljard oor die kort termyn lei,  terwyl dit oor die medium termyn tot R26 miljard kan styg. Eskom het by Nersa se deur gaan aanklop om tariewe te verhoog om sy beursie te vul.

SAL-SAA-Airbus-A330-243

Drie van SAL se Airbus A330-243 vliegtuie staan by Heathrow-lughawe in Engeland in 2012. Foto: Alex Beltyukov/RuSpotters Team/Commons.wikimedia.org

Intussen het SAL by die regering gaan aanklop vir ’n noodlening van R5 miljard. Dit is om sy huidige lopende kostes en skuldbetalings te delg.

Sy uitvoerede hoof, Vuyani Jarana sê in dié stadium kan die lugdiens teen 2020 gelykbreek en sy behoefte aan regeringshulp inkort. Die lugdiens sukkel om aan die gang te bly en het sy vorige raad onder leiding van Dudu Myeni die trekpas gegee en verskeie roetes opgeskort.

’n Senior ekonoom by NKC African Economist, Elize Kruger, sê dat die gedeeltelike privatisering van hierdie twee “probleemkinders” van die staat, beslis ’n stap in die regte rigting sal wees.

Kruger sê daar is uiteraard ook ander staatsinstellings waar privatisering sal sin maak.

“Die regering het wel in die begroting aangedui dat gedeeltelike privatisering oorweeg sal word, maar dit is nie iets wat oornag sal plaasvind nie,” het sy bygevoeg.

Volgens Kruger sal die regering waarskynlik eers probeer om die instellings te stabiliseer, aangesien privaat beleggers nie bereid sal wees om veel te betaal as die onderliggende bate weinig werd is nie.

Sy wys op haar kommentaar wat ná die begroting uitgereik is. Daarin sê Kruger enige aanduiding dat staatsbeheerde maatskappye neutraal behandel sal word en nie op verdere staatshulp kan staatmaak nie, positief was. Sy sê dat dit inderdaad aanmoedigend kan wees om nie-kern bates te verkoop.

Daar is egter ’n kinkel in die kabel. Die hoofekonoom by die Efficient Groep, Dawie Roodt, sê hy is ten gunste van privatisering, maar hy twyfel of Eskom en die SAL veel werd is.

Roodt sê miskien is die twee ondernemings minder as niks werd en reken dat dit miskien beter sal wees om te wag, of om hulle eerder toe te maak – veral die lugdiens. Hy wys nietemin daarop dat privatisering in Ramaphosa se kraal kan pas, wat beleggings kan lok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ou Besigheidspersoon Vlakvark ·

Privatiseer of sluit ALLE openbare ondernemings onmiddelik. Staatsamptenare is nie besigheidslui nie en verstaan nie die konsepte van “volhoubare winsgewendheid en profyt” nie.

Casper Labuschagne ·

Nee, is die antwoord op die vraag in die opskrif. Maar dit hang alles af van aan watter kant van die draad jy sit. Die belastingbetalers wat moet opdok kreun al net soos osse wat ondervoed en oorwerk is en boonop gewetenloos gekasty word. Aan die ander kant is die kripvreters, die politici, die amptenary en burokrate wat nog nooit ‘n dag se arbeid in sweet verdien het nie, maar op reuse salarisverhogings aanspraak maak – hulle het net lof vir die sterk handelsmerke van Eskom en SAL en die wonderlike toekoms wat voorlê, mits die belastingbetalers die nodige miljarde in die vorm van tientalle- en honderdtalle miljarde opdok.

zoom zoom ·

Die getal vliegtuie wat SAL bedryf gemeet teenoor die hoeveelheid werkers gaan al die gelde aan salarise en bonusse. Gemeet teenoor ander lande wat baie meer vliegtuie bedryf. SAL is net ‘n rekening waaruit fondse verdwyn en niemand word verantwoordelik gehou nie. #SALMustFall en so ook ESKOM

L ·

Een hoop ja….die ashoop! Die bankrotskap en korrupsie is al net TE ver, diep en breed om te red. Selfs privatisering sal nie sonder “bloed oortappings” kan gebeur terwyl die hele land op elke vlak n neus duik uitoeffen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.