Is privatisering op hande?

Argieffoto: GCIS

Is die privatisering van Suid-Afrika se sukkelende staatsbeheerde maatskappye op die horison? Dit blyk die geval te wees nadat Nlanhla Nene, minister van finansies, gister aan ʼn finansiële tydskrif onthul het dat dit deel van sy plan is om dié maatskappye ʼn winsgewende rigting in te stuur.

Ofskoon die ANC se beleid teen privatisering is, het maatskappye soos Eskom, SAL, Sanral, Denel en die SAUK miljarde rande van belastingbetalers se hardverdiende geld vermors.

Volgens ekonome is dit juis een van die groot struikelblokke wat tans Suid-Afrika se kredietgradering benadeel. Eskom is tans op soek na R20 miljard om sy koffers aan te vul. Ekonome sê juis dit is die geld wat gedurende die sogenaamde “Gupta-jare” tydens Brian Molefe se tyd as bestuurshoof verkwis is.

Nene het gesê staatsondernemings sal volgens kleure – rooi, geel en groen – geklassifiseer word. Dié wat as rooi geklassifiseer word, sal onmiddellik aandag kry.

Volgens Nene het van die staatsbeheerde maatskappye miljarde rande opgeslurp waarvoor geen verantwoording gedoen kan word nie.

Intussen blyk dit dat Eskom en die SAL die twee maatskappye in die benardste posisie is. Eskom is veral hard geslaan deur onlangse kredietafgraderings. Dit beteken dat Eskom net soos die SAL van regeringswaarborge afhanklik is.

Malusi Gigaba, die vorige minister van finansies, het nie in Februarie se begroting finansiële voorsiening vir dié twee maatskappye gemaak nie. ʼn Stap wat deur ekonome, finansiële markte en kredietgraderingsmaatskappye verwelkom is.

Eskom word tans as BB- deur Fitch Ratings gegradeer. Fitch sê Eskom word gekenmerk deur swak bestuur, ʼn powere balansstaat, dalende elektrisiteitsverkope en stygende munisipale skuld.

Ontleders sê dit is juis dié faktore wat beleggers van Eskom afskrik. Boonop sê Fitch dat Eskom se geldelike probleme en sy vermoë om sy korttermyn verpligtinge na te kom, juis die maatskappy se profiel benadeel.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê dat privatisering ʼn positiewe begin sal wees. Volgens Schussler is dit noodsaaklik om staatsbeheerde maatskappye om te draai.

Hy sê dit is waar dat dié maatskappye baie geld vermors het. Maar pogings om die gety te draai, gaan eweneens baie tyd en geduld kos. Hy verwelkom egter pogings om uit te reik na die private sektor om met die proses te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Claudette ·

Ek stem vir privatisering, moes al lankal gedoen het. Raak net onslae van die swak bestuur.

Elite ·

Ek glo privatisering sal 90% van SA se probleme oplos MAAR wat is die kans met ‘n regering wat GRONDBEHEP is? Die ANC wil alles besit . .. alhoewel hulle van alles ‘n gemors gemaak het het hulle ‘n OBSESSIE dat alles aan die staat moet behoort . Denel, Krygkor, SAL, SAUK, ESKOM, hulle sal NOOIT iets aan die privaatsektor afstaan nie .want hulle wil eintlik maar soos in enige kommunistiese land ALLES besit . privaatbesit afskaf sodat almal ‘gelyk’ moet wees, die verskil is net .. HULLE gaan altyd die voordeel trek en die armes gaan almal ewe arm wees . net ‘n klein groepie black elite gaan ryk wees.

ferdi ·

Ho gouer hul privatiseer ho beter hul wil di getroue betaler net melk. Wys eers vir my dat Eskom iets van sy kant af doen om te besnoei voordat hy ons weer melk

Mickey ·

Wat word nou van verantwoording oor die geld wat vermors is? Kom daardie mense nou weg met hulle vet bankrekenings?

Piet Pompies ·

So ‘n dag of twee terug het die regering die konsep van privaat krag opwekking goedgekeur en verskeie kontrakte aangegaan om hoofsaaklik groen krag op te wek. Oor die lang termyn beweeg kragopwekking dan in die hande van die privaat sektor. Ons werkgewer het een van die kontrakte ontvang en die konstruksie begin binnekort. Die koste vir die oprigting kom van ‘n buitelandse belegging. Goeie nuus vir die ekonomie, buitelandse kapitaal, meer koopkrag, werk skepping.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.