JSE daal skerp

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE)

Die JSE het vanoggend swakker geopen ná die slagting op wêreldmarkte sedert gister.

Ontleders wys daarop dat kommer oor ʼn moontlike Amerikaanse rentekoersverhoging veral markstemming gedemp het.

ʼn Plaaslike handelaar, wat anoniem wou bly, sê buitelandse beleggers het sedert 2008 geld goedkoop bekom toe ontwikkelde lande hul rentekoerse tot 0% gesny het weens die wêreldwye ekonomiese krisis.

“Die prentjie verander nou. Rentekoerse sal stelselmatig styg in die lande,” het hy gewaarsku. Hy meen aandele is deur goedkoper geld ondersteun.

Sowel nywerheids- as finansiële aandele het kwaai verswak op die JSE. Aan die mynboukant was ook geen verligting nie. Die JSE het reeds gister swakker gesluit weens die vrese oor buitelandse rentekoerse.

Wêreldmarkte was vanoggend in ʼn warboel nadat die New Yorkse aandelebeurs in oornaghandel kwaai getuimel het. Volgens markontleders het kommer oor inflasie en die vooruitsigte van gunstige maatskappyverslae markte gekortwiek.

New Yorkse markte het op hul swakste gevaar sedert Augustus 2011 en al hul winste vir vanjaar prysgegee. Die toonaangewende Dow Jones het vir die eerste keer in meer as 400 handelsessies met meer as 4% geval.

Die Dow Jones het meer as 1 175 punte, of 4,6%, tot 24 345 geval. Die breë S & P 500 het met 113, of 4,1%, tot 2 649 gedaal.

Die trant is vanoggend in Asië voortgesit waar markte ook diep in die rooi was. Markte in Tokio, Sydney, Hongkong en Sjanghai het ook slae gekry.

In Tokio het die Nikkei met 4,73% tot 21 610 verswak. Daar was egter ʼn stukkie goeie nuus vir goudprodusente. NKC Economists sê die goudprys het ietwat herstel nadat geld uit aandelemarkte onttrek is. Die groep skryf dit toe aan goud wat as ʼn veilige belegging beskou word in tye van onsekerheid.

Volgens een ontleder in New York was die skerp daling in aandelepryse buitengewoon. “Die mark het te vinnig op een dag gedaal. Dit kan dalk beleggers ontsenu,” het hy opgemerk.

Vooraf-verhandelde kontrakte het alles daarop gedui dat Europese markte ook vandag deur die bloedbad op Wall Street beïnvloed sal word. Termynkontrakte was ongeveer 5,5% laer.

Op valutamarkte het die rand nog verder veld verloor weens die skaakmat binne die ANC om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak. Die geldeenheid het teen R12,14 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.