Kleinhandelverkope veel laer as verwagting

ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het weer eens ’n harde knou weg. Statistiek Suid-Afrika het aangekondig dat kleinhandelverkope in April met 0,5% gestyg het.

Dit was veel laer as markverwagtinge. En dit was die traagste kleinhandelsyfer sedert Februarie 2017.

Die kleinhandelgegewens lewer ’n belangrike bydrae tot die land se ekonomiese groeikoers. Veral met swakheid in primêre sektore soos vervaardiging, mynbou en landbou word kleinhandelverkope as ’n staatmaker beskou.

’n Portefeuljebestuurder by 36ONE Asset Management, Evan Walker, het op ’n radioprogram gesê dat verskeie faktore hiertoe bygedra het. Hy sê in aanloop tot die verhoging in belasting in toegevoegde waarde het verbruikers probeer om die spertyd te klop en veral in Maart geld spandeer. Boonop was Paasfees ook vroeër vanjaar.

“Om dié rede het kleinhandelverkope in Maart met 4,6% gestyg. Kleinhandelverkope dra ongeveer 60% by tot die ekonomiese groeikoers,” het hy gesê.

Volgens Walker het ander faktore soos die duurder brandstofpryse en swakker Rand ook verbruikerssentiment in April gestonk.

Statistiek Suid-Afrika sê dat op ’n maandgrondslag kleinhandelverkope tussen Maart en April met 2,1% gedaal het. Dit het egter oor die drie maande tot einde Maart met 3,1% gestyg.

Walker sê die jongste finansiële verslae van kleinhandelaars sal interessant wees gegewe die verswakking in kleinhandelgegewens.

Daar was egter een ligpunt. Meubelverkope het met meer as 11% gestyg.

Ontleders sê egter dat die jongste gegewens slegte nuus vir die ekonomie is. Die ekonomie het sedert 2013 nog nie weer met 2% of meer gegroei nie.

Volgens ontleders sukkel die ekonomie om momentum op te tel nadat die land vroeër vanjaar politieke veranderinge ondergaan het. In die proses is Cyril Ramaphosa tot president in Jacob Zuma se plek verkies.

Die ekonomie het ook in die eerste kwartaal teen sy swakste pas in bykans ’n dekade gedaal.

Boonop het die slegte nuus vererger nadat Rand Aksepbank (RAB) en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se sakevertroue-indeks van 45 tot 39 in die eerste kwartaal gedaal het.

Ekonome sê egter dat daar ’n groot skuif in Suid-Afrika gebeur het, en dit nog ’n rukkie sal neem voor korrupsie uitgeroei is en staatsbeheerde ondernemings weer positiewe bydraes tot die ekonomie lewer.

Ekonome sê dat baie sakelui steeds ’n wag-en-sien-houding inneem. Daar word egter verwag dat ’n meer positiewe stemming vanaf die tweede helfte van die jaar kan deursypel.

Daar is egter kommer dat die kleinhandelgegewens waarskynlik die weg kan baan vir ’n swakker tweede kwartaal wat die ekonomie in ’n tegniese resessie kan plaas.

Intussen het ontluikende markte se valuta soos die rand vanoggend onder druk gekom nadat die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) onlangs sy uitleenkoerse verhoog het. Die Fed het ook gewaarsku dat daar ten minste nog vier rentekoersverhogings te wagte kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Mense koop slaapsakke , tente en opvou stoele om onder ‘n boom te gaan bly . Dis hoekom meubelverkope so goed doen….

Stem saam ·

Stem saam Marous, dit word van vrugtekasplankies en saamgeperste hout gemaak wat nie lank hou en vervang moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.