Klop boedelbelasting met ’n weldaadskenking

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Vandag staar mens twee onvermydelike realiteite in die gesig: die een is die dood en die ander een is belasting! Reeds in 1789 het Benjamin Franklin in ‘n skrywe aan Jean-Baptiste Leroy gesê dat die nuwe Amerikaanse Grondwet gevestig is en dat hy hoop dit ‘n mate van standvastigheid vir die burgers van die VSA belowe, maar dat niks so seker is in hierdie lewe as die dood en belasting nie.

Statisties is dit ook waar dat min mense hul testamente behoorlik uitsorteer voordat hulle die tydelike met die ewige verwissel en dit veroorsaak ook bepaalde probleme. Dood kan niemand vermy nie, maar as jy jou boedel reg beplan, kan jy die boedelbelasting moontlik aansienlik verminder. Jan Taks sal graag tot 20% boedelbelasting op jou belasbare boedelbedrag wil invorder, en daarom sal dit jou en jou geliefdes baie baat om hierdie bedrag so min as moontlik binne die raamwerk en perke van die wet te maak. Die wet maak voorsiening vir enige persoon om ’n weldaadorganisasie aan te wys as ’n begunstigde in ’n boedel en hierdie skenking het bepaalde voordele vir die boedel.

Nou waar begin ’n mens met boedelbeplanning?

1) Die goue reël is om altyd ’n kundige en gekwalifiseerde persoon te gebruik wanneer jy jou testament wil opstel of laat hersien.

2) Hoe bereken ek die belasbare waarde van my boedel?
Deur sekere items bymekaar te tel, ander items af te trek, en dan ook die Artikel 4A korting van R3.5 miljoen, wat in terme van die Boedelbelastingwet aan jou toegestaan word, af te trek.

3) Wat moet ek by my boedel inreken?
Alle eiendomme en geagte eiendom van die boedel (bruto waarde van die boedel).

4) Wat kan ek van my boedel aftrek?
Begrafniskoste en doodsbed-uitgawes, die skulde van die oorledene, administratiewe kostes, waardasiefooie, sekere buitelandse eiendom, vruggebruik (“usufruct”) of fideicommissum; bemakings aan publieke of niewinsgewende en maatskaplike organisasies, onderhoudseise, en items/bedrae wat geërf word deur bv. ʼn oorlewende eggenoot. Die bedrag wat oorbly nadat hierdie items afgetrek word staan bekend as die netto waarde van die boedel.

5) Onthou om die Art 4A- korting af te trek!
ʼn Korting van R3 500 000 (drie en ʼn half miljoen rand) kan afgetrek word van die netto waarde van jou boedel in terme van Artikel 4A van die Boedelbelastingwet. Die balans wat dan oorbly is die bedrag waarop 20% boedelbelasting gehef word.

6) Kom ons kyk na ʼn voorbeeld:
Indien Jan Coetsee se belasbare boedel R10 miljoen is, dan betaal hy 20% daarvan aan boedelbelasting, met ander woorde R2 000 000. Sy erfgename sal dus R 8 miljoen uit die boedel ontvang.

Beplanningsopsie
Indien Jan se erfgename kleinkinders insluit, kan hy bv. ʼn studiefonds deur Solidariteit Helpende Hand MSW oprig, waarmee hy ʼn nalatenskap los en sy kinders en hul kleinkinders en minderbevoorregtes se studies vir geslagte hierna betaal.

In ons voorbeeld hierbo was Jan Coetsee se belasbare boedel R10 miljoen. ‘n Bemaking van byvoorbeeld R5 miljoen aan die Jan Coetsee Studiefonds is aftrekbaar van sy belasbare boedel en kan steeds tot voordeel van sy erfgename aangewend word. Hierdie strukturering verminder egter sy boedelbelasting met R1 miljoen.

Dit is duidelik uit die bostaande waarom behoorlike boedelbeplanning so belangrik is wanneer jy jou testament laat opstel. Daar is ook verskeie ander aftrekkings om van gebruik te maak om die waarde van jou boedel so te verminder dat jy die belasting op jou boedel verder kan beperk.

*Hierdie artikel is geskryf na aanleiding van ʼn onderhoud wat Helpende Hand gevoer het met Frik van Wyk, ʼn senior welvaartbestuurder by Sanlam Privaat Welvaart (CFP) ; CA (SA).
Verkry meer inligting by www.boedelhulp.co.za of kontak hom gerus by:
E-pos: [email protected]
Tel: (012) 470 0252

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.