Kommer oor kruideniersware op krediet

Argieffoto

Een van die land se voorste skuldberaders, Neil Roets, het sy kommer uitgespreek oor Pick n Pay se uitreiking van sy eie kredietkaart. Pick n Pay het verlede week aangekondig dat hy reeds sowat R1 miljard aan sowat 56 000 klante in krediet verleen het. Dit werk uit op om en by R20 000 per kredietkaart. Ekonome is veral bekommerd hieroor.

Roets, die besturende direkteur van DebtRescue, sê Pick n Pay se stap is kommerwekkend. Volgens hom is dit ʼn duidelike aanduiding dat verbruikers in die land in ʼn geldelike verknorsing is. Roets het veral sy kommer uitgespreek oor die spoed waarmee die kredietkaart uitgereik is.

Hy maan dat die kredietkaart ook die verkeerde boodskap uitstuur om verbruikers aan te moedig om hul kruideniersware op skuld te koop.

“Dit is beslis nie goeie skuld om jou kruideniersware met krediet te finansier nie,” sê hy.

Volgens Roets beteken dit dat sodra verbruikers hul kruideniersware op skuld koop, hulle reeds lank gelede ʼn skuldberader moes gaan sien het.

Hy sê dit is nou ʼn gulde geleentheid vir verbruikers om pleks van meer skuld te maak, liefs skuldberaders te gaan spreek.

“Dit mag hulle net betyds uit die diep water van skuld red,” het hy gesê.

Roets het egter kommer uitgespreek dat hierdie tipe van kredietverlening gaan toeneem, wat verbruikers al meer onder ʼn groter skuldlas gaan plaas.

“Mense sien dit as ʼn maklike uitweg om inkopies te koop. Maar dit gaan verbruikers in ʼn posisie plaas waar hulle oorlaai word met skuld,” het hy gesê.

Roets sê sy advies aan verbruikers is om so ver moontlik net krediet te gebruik vir die koop van motors of huise. Hy voeg by dat verbruikers begrotings moet opstel en streng daarby moet hou.

Sy raad aan verbruikers is om nie hul nekke uit te steek indien daar nie genoeg geld is om iets aan te koop nie.

“Bly weg van skuld,” het hy gemaan.

Pick n Pay het aangekondig dat hy in vennootskap met RCS, ʼn filiaal van BNP Parisbas Bank die kredietkaart van stapel gestuur het. Verbruikers het die opsie om binne 55 dae hul uitstaande krediet te vereffen om rentekoerse vry te spring.

Die kredietkaart word gekoppel aan Pick n Pay se Smart Shopper-kaart. Die groep sê die kredietverskaffer, BNP Parisbas, dra die kostes van befondsing en die kredietrisiko.

Volgens Statistiek Suid-Afrika se jongste siviele skuldsyfers wat verlede week uitgereik is, het die aantal dagvaardigings vir skuld in die drie maande tot Februarie met 3.4% afgeneem. Die syfer was in vergelyking met dieselfde periode ʼn jaar gelede.

Volgens die agentskap het siviele vonnisse vir skuld in dieselfde tydperk met 3.4% afgeneem.

Nog ʼn skuldberader, Deborah Solomon, sê dat bykans die helfte van Suid-Afrika se krediet-aktiewe bevolking reeds in ʼn finansiële verknorsing is. Sy maan verbruikers om kos, wat noodsaaklik is, liefs met kontant te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lee ·

Ja nee kyk mens koop nie kos op skuld nie!! In Pick & Pay en Centurion het hulle ons ook gestop om te hoor of ons belangstel. Mense kan klaar nie meer kop bo water hou nie nou wil hulle nog kos op skuld verkoop. Dis verkeerd.

Erina ·

Dit is makliker gesê as gedaan Lee… met die dat die ekonomie druk het derduisende SA’ners geen ander keuse as om op skuld saak te maak om te oorleef. Nóg te meer as hul gesinne het om voor te sorg. Die probleem hier is nie skuld self, eerder die weghol inflasie wat kospryse die hoogte inskiet. Koppel dit aan Jan Alleman se inkomste wat onveranderd bly en dis g’n wonder mense sukkel nie. Miljoene mense in ons land leef op die broodlyn met ‘n minimum-loon salaris, dis ‘n skreiende skande wat sommige werkgewers hul werknemers betaal en verwag hul moet daarmee oorleef!

jaco ·

Ek moes n paar jaar gelede selfs my kos op krediet koop so sleg het dit met my gegaan, as jong mens van het ek nie n ryk mama en papa gehad nie en moes ek met n groot gesukkel in daardie tyd my eie onderneming op die been bring, ek het HARDE klippe gekou.(Dit was so 8 jaar gelede). Vandag kan ek met trots sê dat my onderneming suksesvol is en meeste van my skulde weer terug betaal is. MAAR mens moet n toekoms visie hê en n manier beraam om jou skulde weer suksesvol te kan terugbetaal.

E ·

Dit is eintlik baie hartseer. Hoe erg moet dit nog gaan? Gelukkig hou ons van boere krummelpap en vele goedkoper kosse so elke 3de 2de aand. Mens moet begin kreatief raak.

ANTI KREDIET KAART ·

Ja, die mense keer jou sommer so in die gange voor terwyl jy jou inkope doen. ek is voorwaardelik R20 000 toegestaan en nou word ek met sms’e toegegooi omdat ek dit nog nie gebruik het nie, Koop R500 en kry R200 terug! nee wat, ek het dit maar net gedoen om van hulle ontslae te raak, en nou is dit ‘n oorlas, en dit net omdat ek ‘n Pnp shopper kaart het!

Plastiek geld ·

Dis soos mense wat letterlik trollies vol kos by Woolworths of Makro koop en met die gewraakte winkel kredietkaart ‘betaal’. Soos hulle sê, plastiek geld is geduldig. Tot op ‘n punt.

dolphin ·

dis pick a pay se skuld om die mense se lok om te krediteer te doen vir 55ste dae en daarom mense ingestem het eish.mense moet ook dink dat teveel skuldeiser op te pak.kan se nee dankie!!!!!!

GM ·

Wat ‘n dom idee ja. Hoeveel mense gaan nou goed aankoop wat hul NOOIT kontant sou gekoop het nie. En ek glo die produkte sal ook ‘n klein bietjie duurder gemaak word, net om minder verlies te maak indien die mense nie hul rekeninge betaal nie. So almal ly daaronder. Plaas leer hul mense om hard te werk vir wat hul wil hê, en ook nuwe ‘skills’, in plaas van om vir hul ‘n kaart in die hand te stop. Nou word kinders geleer dat jy net als NOU kan kry, betaal later, AS jy kan terugbetaal. Hoe maklik is dit nie om krediet te kry nie? Behalwe natuurlik as jy bates wil aankoop, dan is dit belaglike deposito’s betaal, prokureurskostes en rente, rente, rente. Haha, en hul kan nie jou inkopies kom terugvat as jy nie betaal nie!

L ·

Tot jy net niks oor het as alles betaal is en met honger kinders by die huis sit, en iewers moet jy nog uitkrap vir winter skool drag… Ons almal wens dis so maklik om NET NEE Dankie te se ou snoeffie, daars nie eers n “maklikke” brood onder die arm om van te praat nie. Wat nou nog van motor en huis instandhouding? Maar n mens se waardigheid kry so seer in hierdie tye. Wat jou eens op n middelklas aan die lewe gehou het(glad nie lank terug nie), kwalifiseer nie eers vir die broodlyn vandag nie. Klink of jy dit “maklik” het snoeffie, geluk!

snoefie ·

ou kar, ou meubels, ou huis, kettingwinkel-klere ou L. heen kredietkaart, heen pnp kaart. was seker al 30 keer aangebied ou L.

Reguit ·

Sekeres kan mos nie met geld werk nie, terwyl die oorvol trollies op strepe by die supermarkte uitgestoot word. Die Soustrein is heerlik dik in die Nuwe Azanië.

Andre ·

PNP is seker naas Woolworths, die duurste winkel om kos by te koop. Ons koop gewoonlik net pakke gekrummelde vis by PNP – laasweek het die prys gestyg van R99.00 per kg tot R145 per kg! In ‘n week se tyd! Nou gee hulle skuld aan mense wat in die eerste plek nie hul enorme pryse kan bekostig nie, en tweedens nie al die regskoste, rente ens. sal kan bekostig wanneer hulle nie die skuld kan betaal nie …

Katerina ·

Ek dink nie dis slim om kos op rekening te koop nie.Mens kom reg met wat mens het.Baie aande eet ons ons maar net n bord chips of toast en eiers,en nie een van ons is ongesond nie.As ons vleis eet is dit meestal hoender,met rooi vleis een keer n week.Mense wil te rojaal lewe en eet,nou sal P+P se pryse natuurlik Nog meer styg.Ek het geen simpatie vir diegene wat in finansiele gemors beland omdat hulle elke aand steak wil eet nie,jammer.

Paul ·

Mens moet ook in gedagte hou dat met kredietkaarte dit “up to 55 days” rentevry is. Dit beteken nie 55 dae rentevry vanaf die oomblik wanneer jy die aankope maak nie. Die 55 dae verwys na die begindatum van jou staatsiklus tot en met die staat se “datum-betaalbaar”. MAW, indien jy die kaart gebruik op dag 50 van jou 55-dag-siklus, kry jy basies net 5 dae rentevry. Verder is dit ook net rentevry as die volle uitstaande bedrag dan betaal word binne die rentevrye periode – andersins word rente bereken op die uitstaande balans vanaf die datum van elke transaksie totdat die bedrag betaal is. (Elke transaksie het nie sy eie 55 dae wat begin loop vanaf die transaksiedatum nie.) Hierdie tipe informasie word selfde verduidelik, is verwarrend en dis waarom sommige mense kla dat hulle nie hul balans kan verlaag nie. En onthou ook dat OTM onttrekkings onmiddellik rente bykry – die 55 dae geld nie vir dit nie. Dis die moeite werd om jou kredietkaart se siklus uit te vind sodat jy weet hoeveel dae jy WERKLIK het om nie rente te betaal nie. En laastens, onthou as jy nie kan bekostig om die volle uitstaande bedrag te vereffen elke keer nie, betaal jy rente op rente en hoe groter jou uitstaande bedrag is, hoe meer kos dit jou eintlik. Dink maar mooi voor jy die trollie laai…

Oljetter ·

Ek het met n groot gestoei daarin geslaag om jare gelede skuldvry te kom en lewe sederdien kontant. Wat n bevryding! Wat ek nie kan bekostig nie koop ek eenvoudig nie en dis telkens n oorwinning om te besef dat ek in beheer is en nie voor alles wat blink swig nie. Ek besit al jare lank nie n kredietkaart nie en ek het dit nog nooit gemis nie. ‘n Debietkaart werk baie goed want mens weet presies waar jy staan en daar is geen onsmaaklike verassings nie. Kontant is koning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.