Graderingsmaatskappy nie optimisties oor stimuluspakket nie

fitch-ratings-kredietgradering

Fitch Ratings se hoofkantoor in New York, VSA. Foto: Fitchratings.com

Die graderingsmaatskappy Fitch het president Cyril Ramaphosa se stimuluspakket vir die ekonomie min kans op sukses gegee.

Fitch, wat saam met Standard & Poor’s Global die land se kredietgradering tot rommelstatus verlaag het, se besluit is in sommige kringe bevraagteken.

Volgens Fitch sal die stimuluspakket nie die ekonomie die verwagte hupstoot gee wat ekonomiese groei en werkskepping sal bevorder nie. Die graderingsagentskap het bygevoeg dat baie van die maatreëls reeds van bestaande voorstelle bevat en ander sal ʼn ruk lank duur voordat dit gefinaliseer word en ʼn impak het.

Volgens Fitch het die aankondiging van die stimuluspakket ook nie sy onlangs aangepaste groeivooruitsigte vir die land verander nie.

Ramaphosa het verlede Vrydag die ekonomiese stimulus aangekondig. Dit was daarop gemik om die ekonomie na ʼn hoër rat te skuif en werkskepping ʼn hupstoot te gee.

Hy het ook hervorminge aangekondig wat groei sal aanwakker, staatsbesteding se prioriteite geskuif om werk te skep, ook om infrastruktuurbesteding ʼn hupstoot te gee en om in munisipale infrastruktuur te belê. Beide gesondheidsorg en onderwys is uitgesonder vir verbeteringe.

Die hoof van Pan-African Investment & Research Services (PAIRS), dr. Iraj Abedian, het Vrydag gesê die uitdaging gaan wees om Ramaphosa se planne aan die gang te kry. Hy het bygevoeg dat die implementering van die plan die sleutel gaan wees omdat burokrate en tegnokrate gewoonlik stadig tot aksie oorgaan.

Ramaphosa se plan is ook daarop gemik om Suid-Afrika uit sy tegniese resessie te lig. Fitch waarsku egter dat die land blootgestel is aan die onbestendigheid wat vanjaar op ontluikende markte gespook het.

Volgens Fitch is van die maatreëls ondersteunend vir ekonomiese groei, maar verskeie van die maatreëls is reeds bestaande beleid wat nie geïmplementeer is nie.

Fitch wys daarop dat die hersiene Mynbouhandves se impak onseker bly, terwyl die radiospektrum veilings verskeie kere uitgestel het. Die radiospektrum kan onder meer tot goedkoper datakostes lei.

Die agentskap het bygevoeg dat die R50 miljard wat Ramaphosa vir besteding geoormerk het, matig tot ekonomiese groei kan bydra.

Die politieke ontleder Daniel Silke het egter op ʼn radioprogram gesê dat indien Ramaphosa die sakegemeenskap aangryp, soos wat hy in sy toespraak aangedui het, dit waarskynlik tot sukses en voordeel van die land kan strek.

Intussen was daar nog slegte nuus vir Ramaphosa. Die Reserwebank het aangekondig dat portefeuljebeleggings in die land kwaai teruggesak het gedurende die tweede kwartaal. Dit weens buitelandse beleggers se kwynende aptyt vir bates in ontluikende markte.

Volgens die bank het beleggings in die tweede kwartaal tot R16,6 miljard gekrimp van die R89,4 miljard in die eerste kwartaal.

Die vraag na staatseffekte is die hardste geslaan. Buitelandse beleggers se netto aankope was R3,8 miljard teenoor die eerste kwartaal se R46,9 miljard. Aankope van aandele het tot R12,8 miljard geval van die R89,4 miljard in die eerste kwartaal.

Suid-Afrika gebruik juis die kapitaalinvloei om die begrotingstekort en die tekort op die lopende rekening te befonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Die enigste positiewe wat ek uit die ekonomiese simulus pakkie kon haal is die verslaggewer Anton Meijer van Pretoria FM wat dit ‘n ekonomiese prikkel pakkie genoem het. Goeie afrikaans ;-)

Kleinboer ·

Stop onteiening en kyk hoe styg die rand, belegings sal weer inkom, etc…… Dan sal ons weer kan boer ook, ons kan nie nou boer met swaard oor ons kop nie. Wie wil nou geld insit in n plek wat jy kan verloor.

Mrs H ·

Maak weg met arbeids wette wat 24 jaar nog net bewys gelewer het van groot skade en ekonomiese sinking. Wette wat in die lang termyn nie volhoubaar is en nog minder Demokraties is.

Eish ·

Tussen plaaslike ekonome en die graderingsmaatskappye is daar dus ooreenstemming, dit beteken niks!
Stadig maar seker begin die buiteland se oë oopgaan en n nuwe houding vat pos jeëns die kapasiteitsgestremde regering. Ongelukkig, n algemene tipering van mislukking. Tragies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.