Land Bank bepleit versigtigheid met grond, Sasol wil eie elektrisiteit voorsien

Argieffoto.

Die regering se beoogde beleid om grond sonder kompensasie te vat, kry steeds die wind van voor. Buiten die land se handelsbanke, het die Land Bank ook sy stem by die debat gevoeg. Die Land Bank is die grootste uitlener van geld aan die landbousektor.

Ekonome en ANC-politici sien ook die beleid as moeilik uitvoerbaar wat die land se ekonomie kan knel. Die ANC-voorsitter, Gwede Mantashe, se siening oor die beperking op landbougrond is ook uit verskeie oorde veroordeel.

By die uitreiking van sy jaarverslag het die Land Bank se voorsitter, Arthur Moloto, ’n beroep op die regering gedoen om nie die landkwessie ondeurdag in te stel nie. Hy het gewaarsku dat dit fataal kan wees en die bank duur kan kos.

Die Land Bank word beskou as een van die staatsinstellinge wat nie druk op die staatskas plaas nie. Sou die regering egter ondeurdag wees, kan dit die Land Bank R41 miljard kos. Moloto het hierteen gewaarsku.

Hy sê swak implementering kan nadelige gevolge vir die ekonomie en landbou inhou. Ekonome meen ook dat die ANC wat die beleid probeer aandryf, geen vars idees of ander planne meer oor het nie.

‘’Die landdebat het in ʼn doodloopstraat beland. Daar is niks nuuts op die tafel gesit nie,” het een ekonoom gesê.

Intussen het die petrochemiese maatskappy Sasol sake in eie hande geneem ten opsigtige van kragvoorsiening. Dié reus, wat gister sy finansiële uitslae vir die jaar tot Junie bekend gemaak het, sê daar was te veel onderbrekings van Eskom wat kragvoorsiening ontwrig het en sy uitslae gestrem het.

Sasol het besluit om sake in eie hande te neem vir sy eie betroubare kragvoorsiening. Die kragvoorsiening geskied by sy Secunda-sintetiesebrandstofaanleg.

Volgens Sasol het verskeie onbeplande elektriese onderbrekings ʼn drastiese impak op sy finansiële uitslae gehad. Sasol se uitslae vir die jaar tot Junie het bykans gehalveer – dit het R10,1 miljard beloop teenoor die vorige jaar se R21,5 miljard.

Die medebestuurshoof van Sasol, Bongani Nqwababa, wou nie oor die Eskom-kwessie uitwei nie. Hy het egter te kenne gegee dat die onderbrekings beduidendend was. Die sterker rand het ook Sasol se wins ingekort.

Ten slotte, die nasionale tesourie sê steenkool wat van die Gupta-beheerde Brakfonteinmyn aan Eskom voorsien is, verdag is en dalk substandaard is. Volgens die tesourie is daar ʼn sterk moontlikheid dat die steenkool wat deur Eskom se voormalige waarnemende bestuurshoof Matshela Koko vir toetse gestuur is, juis tydens die proses geruil kon gewees het en dit die weg gebaan het vir die Guptas om R1 miljard vir die verdagte steenkool te verdien.

Koko, sy voorganger Brian Molefe en die Guptas se rol by Eskom is een van die kwessies wat deur die staatskapingkommissie ondersoek gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christo ·

Maroela julle sal asb. julle wiskunde moet opknap. Ek het nie geweet R10.1 miljoen is die helfte van R21.5 miljard.

Groete

Tania Heyns ·

Dagsê Christo

Dankie vir jou boodskap, jammer vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania Heyns nms Maroela Media

Francois vRvO ·

Mooi man! Goed om te sien die groot maatskapeie begin nou ook hulle stem dik maak.
Sal graag ook wil hoor van al die eiendomsagente wat binekort sonder werk gaan sit.
Die enigste slegte nuus is dat Sasol van ‘n swaker rand afhanklik is.

Jerry ·

Implementering van beleid was nog altyd n ANC swakpunt en OSV sal ook swak verloop en katastrofies eindig as alle rolspelers nie deelneem en saam werk aan oplossings en ook betrokke is by die implementering daarvan. Die wat op die kantlyn staan en raas en blaas en die oplossings en implementering van OSV ondermyn sal net hulself isoleer en ook geblameer word vir ondermynende inisiatiewe en onredelike weerstand.

Sasol kan gaan bars ·

Dit is wel jammer oor die Land Bank en die verknorsing waarin hulle bevind, maar ek het geen simpatie met Sasol oor sy nuwe BEE aandele wat ons volk weerhou om aandele te besit nie. Vir al wat ek omgee kan hulle maar hulle deure toemaak. Hulle vervaardig hulle eie brandstof, maar stel dit nie beskikbaar teen ‘n goedkoper prys nie. Ek weet die brandstof word geruguleer, maar kan hieraan niks gedoen word nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.