Likiditeit vir Steinhoff ná hoof bedank

Argieffoto: ANA

Die meubel- en huishoudelikegoederehandelaar Steinhoff het Donderdag gesê hy het belangstelling in die maatskappy ontvang wat ʼn minimum van €1 miljard (byna R16 miljard) likiditeit vir die maatskappy sal beteken.

Aldus ʼn verklaring wat Donderdag deur die Johannesburge Sekuriteitebeurs (JSE) vrygestel is, het Steinhoff ook gesê daar is geen bewys dat die hoof finansiële beampte, Ben la Grange, betrokke was by rekenkundige onreëlmatighede wat tot uitvoerende hoof Markus Jooste se bedanking gelei het nie. Dit het ook tot die verkope van talle Steinhoff-aandele gelei.

“Die maatskappy wil bykomende gerusstelling verskaf oor die maatskappy se likiditeit. In hierdie verband het die maatskappy vandag belangstelling ontvang in sekere nie-kernbates wat ʼn minimum van €1 miljard in likiditeit sal verseker,” het Steinhoff gesê.

“Die maatskappy se filiaal, Steinhoff Africa Retail Limited (Star) sal hom vandag ook formeel verbind tot die herfinansiering van sy langtermyn laste wat verskuldig is aan die maatskappy.”

Die bykomende likiditeit van ongeveer €2 miljard sal na verwagting deur dié maatreëls bekom word en die maatskappy se balansstaat verstewig. Dit sal ook bykomende gerusstelling verskaf aan aandeelhouers oor die maatskappy se vermoë om sy bestaande bedrywighede te finansier en sy skuld te verminder, aldus die verklaring.

Steinhoff het vroeër vandeesweek gesê sy toesighoudende raad het PricewaterhouseCoopers (PwC) genader om ʼn onafhanklike ondersoek te doen ná inligting bekend gemaak is wat rekenkundige onreëlmatigheid beweer.

Volgens die maatskappy het die raad Jooste se bedanking met onmiddellike effek aanvaar en moedig aandeelhouers en ander beleggers aan om versigtig te wees wanneer daar handel gedryf word met die groep se aandele.

Steinhoff se maatskappyresultate sou Woensdag bekend gemaak word, maar die maatskappy het die aankondiging gekanselleer. Die geouditeerde finansiële state vir 2017 sal gepubliseer word wanneer die maatskappy dit beskikbaar het.

Die maatskappy het in die verklaring bevestig dat La Grange in sy pos sal aanbly.

Steinhoff, wat sy oorsprong in Duitsland het maar in Suid-Afrika gebaseer is, is ʼn wêreldwyd meubel- en huishoudelikegoederehandelaar met meer as 40 handelsmerke in meer as 30 lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Wat op dese aarde het hier gebeur?
Is dit tekenend van die sistemiese verrotting wat die nuwe norm geword het?
Met al die bloubloed direkteure soos Len Konar ( Oudit en risiko spesialis), Steve Booysen, Jayendra Naidoo, Heather Sonn, Johan van Zyl, hoe gebeur dit?
Ouditeure wat nie finansiele state wil afteken nie is n ongehoorde ding, buiten met die Gupta maatskappye.
Ek dink ouditeursfooie gaan met rasse skrede styg indien maatskappye die klas van gebeure wil voorkom in die toekoms. Die hele bestuurstyl sal n kentering moet ondergaan. TRUST NOBODY!
Direkteure sal hul fooie moet verdien vir n slag.
Skokkend om die minste te sê en n paar mense se pensioenhoop is drasties ingeperk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.