Maatskappynuus: Exxaro wil nog steenkool lewer; Steinhoff-sage wil nie gaan lê

exxaro

Die myngroep Exxaro wil steenkool aan Eskom lewer. Foto: ANA.

Die myngroep Exxaro sê hy is tans besig met samesprekinge om steenkool aan Eskom te lewer. Eskom het die afgelope paar maande probleme gehad met die lewering van steenkool wat noodsaaklik is vir kragopwekking.

Dit was grootliks te wyte aan die Gupta-beheerde Optimum-steenkoolmyn wat in sakeredding is.  Die myn lewer tans ook geen steenkool nie. Eskom het minder as 20 dae se voorraad by tien van sy kragsentrales.

Eskom, wat sowat 90% van die land se elektrisiteitsbehoeftes voorsien, is ook die staatsbeheerde-onderneming met die grootste skuldlas.

Die bestuurshoof van Exxaro, Mxolisi Mgojo, sê die maatskappy het ʼn aanbod aan Eskom gemaak en word daar nou op nasionale tesourie gewag vir uitsluitsel oor die saak.

“Die finale besluit berus by die tesourie omdat dit goedkeuring vir die kontrakte kan gee,” het hy bygevoeg.

Eskom het verlede maand gesê dat hy in die proses was om nuwe kontrakte te beding om sy voorraad steenkool te verseker.

Exxaro verskaf tans steenkool aan die Medupi-, Matla- en Matimba-kragsentrales. Dit beoog om ʼn korttermynooreenkoms met Eskom aan te gaan om aan die kragvoorsiener se nypende behoeftes te voorsien.

Mgojo het die sluiting van medium- tot langtermynkontrakte uitgesluit. Hy sê korttermynkontrakte skep die geleentheid om meer buigsaam te wees.

Intussen berig Moneyweb dat Eskom Maandagaand net-net beurtkrag afgeweer het. Dit berig dat Eskom gesukkel het, ondanks ʼn afname in spitsaanvraag in vergelyking met 2007 en die inwerkingstelling van ʼn bykomende 7 500 MW nuwe kragopwekkingsvermoë van die staatsbeheerde onderneming.

Intussen lyk dit of die Steinhoff-sage nie wil gaan lê nie. ʼn Groep senior bestuurslui van Pepkor beplan om vergoeding van Steinhoff se vorige voorsitter, Christo Wiese, te eis nadat hulle geldelike verliese gelei het weens Steinhoff se aandeelprysinsinking.

Dit is vervat in hofstukke wat in die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien is. In sy verklaring sê die vorige bedryfshoof van Tekkie Town, Dawie van Niekerk, dat Pepkor eersgenoemde maatskappy in 2017 bekom het.

Volgens Van Niekerk het Wiese Pepkor-bestuurslui gevra om hul aandele te verruil vir dié van Steinhoff. Dit het gebeur nadat Pepkor en Steinhoff saamgesmelt het.

Die waarde van die aandele het waardeloos geword ná Steinhoff se onthulling van ongerymdhede met sy finansiële state wat tot die ineenstorting van die aandeelprys gelei het.

Die aandeelprys het van sowat R55 tot R1 getuimel.

Intussen het Steinhoff aangekondig dat hy vordering maak met sy krediteure om sy skuld te herstruktureer. Sy waarnemende bestuurshoof, Danie van der Merwe, sê daar is substansiële vordering gemaak.

Intussen lyk dit of Suid-Afrika se voorste kitskosgroep, Famous Brands, se uitbreiding na die Verenigde Koninkryk steeds by die groep spook. Die kitskosgroep het ʼn kennisgewing aan sy aandeelhouers uitgereik waarin hy waarsku dat sy wesensverdienste vir die jaar tot Augustus tot R6,23 per aandeel gaan daal teenoor die wins van R1,71 per aandeel die vorige jaar.

Die groep sê dit is te wyte aan R847 miljoen wat hy by sy VK-bedryf, Gourmet Burger Kitchen, sal moet afskryf. Famous Brands het Gourmet Burger Kitchen in 2016 vir R2,1 miljard bekom.

Sy aandeelprys het 6,5% gedaal tot R95,37 nadat die nuus bekend geword. Die Britse firma se verlies gaan £2,6 miljoen wees in vergeleke met ʼn jaar gelede toe die verlies £872 000 beloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.