Maatskappynuus: Naspers onder druk en Sanlam brei uit

Die maatskappy Tencent was in Januarie een van die wêrel se grootste vyf firmas. Foto: Finance.sina.com.cn.

Die aandele van die tegnologie- en mediamaatskappy Naspers, het vandeesweek onder kwaai druk gekom. Omdat Naspers die JE se swaargewig is met sy markkapitalisasie van bykans R1,2 triljoen, het die maatskappy ’n direkte invloed op die mark se algehele vertoning.

Naspers, wat ’n aandeel van 31% in die Chinese internet- en vermaakmaatskappy Tencent het, se aandeelprys het die afgelope jaar van ’n hoogtepunt van R4 142 tot rondom R2 657 teruggesak.

In Januarie was Tencent een van die wêreld se grootste vyf firmas. Dit geniet nie meer daardie beskore posisie nadat dit vanjaar reeds R3,2 triljoen in waarde verloor het nie. Dit is die maatskappy wat wêreldwyd vanjaar die meeste in waarde verloor het.

’n Markontleder by Momentum Securities, Francois Strydom, het op ’n radioprogram gesê dat, ondanks Tencent se treurmare, is dit steeds ’n goeie koop oor die lang termyn. Naspers het vroeër vanjaar ’n belang van 2% in Tencent vir R126 miljard verkoop.

Markkenners sê dat Tencent se aandeleprys deur verskeie faktore gekniehalter is. Dit sluit in Amerika se handelsoorlog met China, groter regulering van die internetmark in China en Chinese tegnologie-aandele wat vanjaar deur die bank verkoop is.

Boonop het sy wins vanjaar vir die eerste keer sedert sy notering gedaal. Volgens JE-data het Naspers vanjaar reeds 34.47% van sy waarde verloor.

Intussen het nóg ’n maatskappy wat in Kaapstad gehuisves is, se uitbreidingsplanne goed gevorder.

Die lewensversekeringmaatskappy Sanlam het sy belang in die Marokkaanse versekeraar Saham Finances tot totale beheer vergroot. Sanlam, wat ’n belang van 46,6% in Saham gehad het, het die oorblywende 53,37%-belang wat hy nie besit nie, gekoop.

Sanlam het $1 miljard vir die aankoop betaal. Hiermee is hy nou nie net die grootste versekeraar in Suid-Afrika nie, maar op die kontinent.

Die uitvoerende hoof van Sanlam, Ian Kirk, sê dat die aankoop van Saham vir Sanlam toegang tot 65 onderliggende maatskappye sal gee wat ’n netwerk van 700 takke in Afrika het en ’n direkte teenwoordigheid in 33 Afrikalande het.

Saham het 3 000 werknemers en ’n jaarlikse omset van $1,2 miljard.

Volgens Kirk het die Saham-transaksie vir Sanlam toegang tot die Franssprekende deel van Afrika gegee. Hy het bygevoeg dat Sanlam hom nou daarop toespits om ’n Pan-Afrika-rolspeler in die verskeringsbedryf te word.

Kirk wys daarop dat Saham die grootste versekeraar in Afrika buite Suid-Afrika is.

“Dit skep die perfekte kombinasie vir ons,” het hy gesê.

Saham en Sanlam werk sedert 2016 saam. Sanlam se ontluikende markte-eenheid sal die lewensversekeringsoperasie bedryf, terwyl Saham-finansies algemene versekeringsdienste sal dek. Santam sal verantwoordelik wees vir spesialisversekering en herversekering.

Daar sal na Saham verwys word as ’n lid van die Sanlam Groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries Nieuwoudt ·

Is julle seker julle tel julle nulle reg? Miljoen – miljard – biljoen – triljoen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.