Markte hou asem op oor Nene

Nhlanhla Nene. Foto: Itumeleng English/ANA

Die vraag op plaaslike en buitelandse markte is of president Cyril Ramaphosa vir Nhlanhla Nene, minister van finansies, die trekpas gaan gee.

Daar word in die plaaslike finansiële media gegons dat Nene se versoek om ontslaan te word, reeds vandag deur ANC-leiers bespreek sal word. Die rand het reeds Maandagoggend op die gerugte reageer en effens teruggesak.

Boonop is daar ʼn vakature in die kabinet ná die onlangse dood van die minister van omgewingsake, Edna Molewa.

Nene se aansien het ʼn knou weg nadat hy voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig het dat hy die omstrede Gupta-gesin by hul kantore in Midrand en hul huis in Saxonworld ontmoet het. Hy het bygevoeg dat die vergaderings verskeie kere gebeur het. In sy verskoning het hy gesê hy moes van beter geweet het.

Nene het Vrydag ʼn verskoning uitgereik oor die “gebrek aan diskresie” wat hy uitgeoefen het. Daar is ook vrae oor of Nene onbehoorlik opgetree het deur sy seun se sake-onderneming ʼn inspuiting van R1 miljard te gee terwyl hy voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) was.

Die adjunkminister van finansies is gewoonlik die voorsitter van die OBK. Juis weens die gerugte, het die EFF Nene se afdanking geëis.

Die politieke ontleder Daniel Silke het getwiet dat sou Nene bedank, dit die enkele grootste prysenswaardige stap sal wees wat ʼn sittende minister oor die Gupta-kwessie sou neem. Hy het bygevoeg dat dit druk op ander ministers sal plaas om ook skoon te kom.

Volgens Silke is die geval nie net oor Nene nie. “Dit raak politieke rekenskap,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat dit ironies is dat Nene, wat die kernkragooreenkoms met Rusland teengestaan het omdat dit die land duur te staan sou kom, juis die eerste dienende minister is wat moontlik deur die Gupta-staatskaping gepootjie gaan word.

Intussen sê die ekonomiese agentskap NKC Research dat Nene oor die naweek vir Ramaphosa gevra het om hom van sy pligte te onthef.

Nene het Pravin Gordhan as minister van finansies opgevolg. Gedurende dié periode het staatskuld die hoogte ingeskiet om verskeie projekte, insluitend die 1 064 elektriese- en diesellokomotiewe vir Transnet te befonds. Volgens die #GuptaLeaks-e-posse het die Guptas munt geslaan uit die aankope.

Nene het in 2015 by ʼn Statebondsberaad oor openbare finansies gewaarsku dat die Suid-Afrikaanse regering se skuldlas van 21,8% in 2009 tot 40,8% in die 2014-boekjaar gestyg het.

Nene is in Desember 2015 deur Zuma in die pad gesteek omdat hy glo nie die kernkragooreenkoms met Rusland wou goedkeur nie.

Ná dié stap, wat plaaslike en buitelandse markte geskok het, het die randwisselkoers kwaai deurgeloop. Verliese op die kapitaalmark en aandelemark het miljarde beloop. Die OBK het miljarde in beleggings verloor.

Nene is deur Des van Rooyen opgevolg. Hy was net dae in die pos voordat Gordhan wéér aangestel is om hom te vervang en stabiliteit tot die markte te bring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

IK ·

Die finansiële afdraende is alreeds bykans vertikaal, so eintlik maak dit nie meer veel verskil.

alwyn burger ·

Die keuse tussen vrot appels is beperk. Los Nene uit. Daar is baie groter vrot appels. Ek dink bv. ons agbare President weet baie meer as wat hy voorgee.

Ysbeer2 ·

Heeltemal binne perke. Meng jou met die semels dan vreet die varke op. Hoop die res van hulle volg.

Jerry ·

Hier en daar lyk dit so al vir my asof die lig die oorhand kry oor die duisternis.

Waarheid ·

Ramapaddapot moet hom nie onskuldig hou nie.Hy moes verseker van alles geweet het.Hy het n groot leuen oor plaasmoorde versprei so dit is n bewys dat hy oor ander sake dieselfde sal doen die leuenaar. Hy gaan mnr onskuldig onskuldig speel om sy eie bas te red in hierdie saga.

My mening ·

Dit sal jammer wees as hy bedank, maar ek het ook baie respek vir hom as hy wel besluit om te gaan. Baie min van ons leiers het die integriteit om te bedank wanneer net ‘n sweempie van skande of skade by hulle opgespoor word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.