Mboweni se grootste uitdagings nou

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, word deur drie uitdagings oor die kort termyn in die gesig gestaar.

Vir eers is daar Vrydag se moontlike uitspraak deur Moody’s Investor Services oor die land se kredietgradering. Die ekonomiese agentskap NKC Research sê hy verwag nie dat Moody’s juis nou uitspraak oor die land se kredietgradering sal lewer nie.

Dan is daar die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat hy oor twee weke moet lewer. Dié begrotingsraamwerk baan die weg vir die land se fiskale beleid vir die volgende drie jaar.

Ten derde sal hy moet kyk na die jongste afgradering van Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) is die jongste organisasie wat sy kommer oor die land se ekonomiese groei uitgespreek het. Die IMF sluit hom aan by die Wêreldbank, Fitch en die Suid-Afrikaanse Reserwebank wat ekonomiese groei teen ʼn slakkepas sien beweeg.

Die IMF het die groeikoers van 1,5% tot 0,8% hersien. Die land het in die eerste helfte van vanjaar in ʼn tegniese resessie verval.

Die sakesektor en finansiële markte het Mboweni se aanstelling verwelkom. Tanya Cohen, die bestuurshoof van Sakeeenheid Suid-Afrika (SESA/BUSA), sê ofskoon die aanstelling van ʼn nuwe minister van finansies oor so ʼn kort periode ʼn terugslag is, het die organisasie volle vertroue dat Mboweni die geloofwaardigheid en ervaring vir die pos het.

Mboweni is die land se tiende minister van finansies sedert die oorgang na demokrasie.

Op finansiële markte het die rand met sowat 30c verstewig terwyl opbrengste op staatseffekte gedaal het om Suid-Afrika se rentekoersbetalings te verminder.

Sipho Pityana, die president van SESA, het gesê dat dit belangrik is dat daar nie ʼn wolk oor die hoof van die nasionale tesourie hang nie. Hy sê ontwikkelinge rekende Mboweni en sy voorganger Nhlanhla Nene is daarop gemik om stabiliteit in die portefeulje te bring. Hy het bygevoeg dat dit toon hoe ernstig die regering staatskaping beskou.

Mboweni was arbeidsminister in oudpres. Nelson Mandela se kabinet waar hy die land se arbeidswetgewing gefinaliseer het. Ofskoon Mboweni destyds as links beskou is, het hy ʼn ommeswaai getoon toe hy as president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) aangestel het. Dit het tot herhaaldelike botsings met vakbonde, veral Numsa, gelei.

In een van sy monetêre beleidstoesprake het hy, ironies genoeg, gesê dat die land se arbeidswetgewing hersien moet word.

Mboweni het ook deursigtigheid na die Reserwebank gebring met die monetêre beleidskomitee en die openbare bekendmaking van die komitee se rentekoers-besluite.

Die bestuurshoof van die Vereniging van Suid-Afrikaanse banke, Cas Coovadia, se Mboweni sal die vertroue van markte en die sake- en beleggersgemeenskap nodig hê terwyl hy ʼn platform daar sal moet stel vir inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping.

Intussen kan Mboweni ʼn sug van verligting slaak. Suid-Afrika se grootste fiskale kopseer – Eskom se skuldlas van ongeveer R500 miljard – word tans onder die loep geneem. Dr. Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, sê die staatsbeheerde onderneming behoort teen volgende week ʼn verslag van die adviseursfirma Lazard te ontvang oor watter bates, indien enige, hy kan verkoop.

Senior ekonome, soos Dawie Roodt en Mike Schüssler het voorheen te kenne gegee dat Eskom gedeeltelik geprivatiseer moet word om minder op belastingbetalers se geld te steun.

Eskom, volgens hulle, kan in twee afsonderlike maatskappye verdeel word met kragopwekking wat sy kragsentrales insluit, en ʼn kragverspreidingsnetwerk.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Maandag aangekondig dat Eskom vir die volgende jaar nie geld van die regering gaan benodig nie. Hy het gesê Eskom se likiede posisie is tans gunstig en dat die maatskappy nie regeringsgeld sal benodig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

waarheid ·

Hy is ook ‘n man wat grond sonder onteiening ondersteun.
Hy is ook vriende van die eff omdat hy hulle beleid ondersteun.
Van hom af wil ek dus niks weet nie.
Wonder of hy ook skelette in sy kas het?
Ons weet ramapaddapot het.

Gert ·

Sipho Pityana noem dat die regering staatskaping as “ernstig” beskou. Interessante stelling, sedert die parlement keer op keer teen mosies om Zuma te verwyder, gestem het. Vreemd ook omdat Zuma-kaders soos Gigaba steeds ministers is. In Ramaphosa se kabinet. Mens sluk maar swaar aan Pityana se opmerking.

Roodt en Schussler is reg dat Eskom geprivatiseer moet word om daardie organisasie winsgewend te maak. Maar dit is teen die regerende party en spesifiek hul vakbond vennoot se ideologie om te privatiseer. Julle word lankal onteien, mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.