Meer BTW SA se voorland?

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Gaan Suid-Afrikaners meer belasting op toegevoegde waarde (BTW) betaal ná die begroting?

Nie net ekonome nie, maar ook Malusi Gigaba, minister van finansies, stoei met dié netelige kwessie.

Kevin Lings, hoofekonoom by Stanlib, meen dat BTW nie sal styg nie weens die politieke gevolge wat dit vir die ANC kan inhou. Maar hy waarsku dat so ʼn verhoging dalk net deurgestoot kan word juis omdat die land ʼn begrotingstekort van ʼn beraamde 4,3% van die bruto binnelandse produk (BBP) het. Dit is die hoogste ooit in die land se geskiedenis.

Lings sê egter dat die regering die kwessie met omsigtigheid sal nader weens die politieke gevolge van so ʼn besluit. “Sou die regering daarmee voortgaan, kan daar gevolge wees in aanstaande jaar se algemene verkiesing. Dit is dus ʼn groot kwelling vir die regering.”

Lings wys daarop dat Suid-Afrika se BTW-koers redelik laag is teenoor ander ontluikende markte.  Volgens hom is die gemiddelde koers in ontluikende markte gemiddeld 18%.

Dawie Maree, ʼn ekonoom by FNB, sê ʼn verhoging in BTW word nie nou verwag nie. Hy voeg egter by dat indien dit sou gebeur, dit nie ʼn verrassing sal wees nie.

Net soos Lings waarsku Maree dat politieke oorwegings waarskynlik so ʼn stap vir eers in die kiem sal smoor. Tog sê hy dat ʼn verhoging in BTW dalk ʼn oplossing kan bied vir die regering se plan vir gratis tersiêre onderrig.

Hy is ook bekommerd oor die belastingstekort en die land se kredietafgraderings die afgelope twee jaar wat krediet duurder gemaak het.

Volgens Maree kan BTW heel waarskynlik op brandstof gehef word. Dit is ook vroeër deur Mike Schussler, hoofekonoom van economists.co.za, as ʼn moontike uitweg gesien.

Maree sê ʼn 1%-verhoging in BTW sal veral die middelklas hard slaan. Hy voeg by dat hulle waarskynlik die grootste las sal moet dra, sou BTW verhoog word.

Volgens hom sal die armes onder die armes nie soveel deur BTW gepootjie word nie. Maree wys daarop dat verskeie produkte soos groente, rys en bruinbrood onder meer vrygestel is van BTW.

Wat Maree egter bekommerd maak is dat ʼn verhoging in BTW veral kleinskaalse boere hard kan slaan, juis omdat hulle nie BTW-geregistreerd is nie. Hy sê dit kan insetkostes verhoog en die boere negatief beïnvloed. Hy sê dit kan veral kleinboere uit die sektor dryf.

“ʼn Verhoging in BTW is dalk ter sprake, maar myns insiens sal die regering wag tot ná die verkiesing,” sê hy. Die algemene verkiesing sal na verwagting tussen Mei en Augustus 2019 gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Realisties ·

Willie, stadig oor die klippe… BTW word direk of indirek deur almal betaal en nie net deur wittes nie. ‘n Verhoging in BTW gaan beteken dat almal (buiten die regtige armes) ‘n groter bydrae maak tot belasting en nie net sekeres nie…

not in wonderland ·

Verhoog, as julle moet, die BTW op luukse artikels, soos duur motorvoertuie, duur meubels, drank, sigarette.

Tammy ·

Dit is nie n slegte idee nie..nou kan die sogenaamde armstes van die armes ook betaal. Dit sal die enigste bydrae wees wat hulle maak maar hulle “demand” die meeste. Nee, wat moenie dink hulle koop nie, ek staan soms verstom as ek sien hoe die sogenaamde armes koop…veral hier in Gauteng. Ek voel wel jammer vir die pensioenarisse wat regtig sukkel en reeds belasting betaal op hulle eiendom, brandstof en kos. Maar nou kan die sogenaamde armes (agtergeblewenes) ook begin bydra.

wicus ·

DIT SAL N GOEIE DING WEES . DAN GAAN ALMAL BETAAL NIE NET 4 MILJOEN MENSE NIE

Tammy ·

Ek stem nie saam met “not in wonderland” nie. Laat almal meer betaal. Die mense wat luukse artikels koop het hard gewerk vir hulle geld en werk nogsteeds baie hard. Met verhoogde BTW sal die sogenaamde armes ook n bydrae kan maak. Hoog tyd, hulle wil net baklei en eise stel en vir niks betaal nie. Verhoog BTW met 8%!!!

Ekke ·

Se lankal dis die oplossing. Laat ALMAL ten minste een of ander belasting betaal!!!

jaco ·

Bring net parlementslede en munisipale raadslede se salarisse met die helfte af. As hulle almal regtig omgee vir armes sal hulle mos met minder kan klaarkom. Selfs met die helfte van hulle huidige pakket sal hulle in elk geval steeds lekker lewe.

kobus ·

Indien die koers van 14% na 15% verhoog word is dit ‘n 15/14 = 7.14% verhoging!
‘n 1% verhoging sal ‘n nuwe BTW koers van 14 x 1.01 = 14.14% gee. Moenie mislei word nie.

Kosie Kramer ·

My vriend is betrokke by die DA hier in Jhb. `n Gewone wykraadslid [die laagste vlak in politiek] ontvang R40 000 per maand. En, dis nie `n voltydse pos nie; hulle kan ander werk doen ook. Die DA probeer hierdie salarisse verminder, maar hulle het nie genoeg steun om so `n besluit deur te hamer nie.

Boetman ·

Kosie Kramer, jou vriend en sy DA buddies kan ‘n begin maak deur hulle pakette vrywillig te verminder – dit sal ‘n lekker voorbeeld vir die ander wees.

fluister ·

Na watter instansie wend ek my na toe as ek wel btw op groente, bruinbrood en rys betaal??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.