Meer positiwiteit oor die rand

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Duitsland se Commerzbank sê dat die rand sedert die laaste monetêre beleidskomiteevergadering van die SA Reserwebank ʼn rowwe tydjie agter die rug het. Die bank meen ook dat daar nie veel is wat die sentrale bank kan doen om dié geldeenheid te buffer nie.

Volgens Commerzbank het die rand in Junie sy vrotste lopie in twee jaar beleef. Dit was grootliks weens die dreigende handelsoorlog tussen Amerika en China in daardie stadium. Amerika het intussen hoër tariewe op verskeie Chinese produkte begin hef.

Ontleders wys daarop dat Suid-Afrika benadeel kan word omdat China sy grootste handelsvennoot is, terwyl Amerika ook heffings op plaaslike uitvoere van staal en aluminium produkte wil hef.

Wat ontleders, ekonome en die regering egter bekommer is dat die swakker rand en hoër ru-oliepryse inflasie aanblaas.

ʼn Ekonoom by Eerste Nasionale Bank, Dawie Maree, het ook daarop gewys dat hoër brandstofpryse boere se insetkostes verhoog wat tot hoër kospryse sal lei.

Commerzbank meen onder die huidige ekonomiese omstandighede is nóg ʼn rentekoersverhoging dalk die regte keuse. Dog meen die bank dat die land se ekonomie tans te broos is vir enige rentekoersverhoging.

Tot dusver het Julie die geldeenheid goed behandel. Dit het vandeesmaand met 2.2% teenoor die Amerikaanse dollar verstewig. Gister het sy winste 1% beloop.

Vanoggend het die geldeenheid met 0.5% tot R13,24 teenoor die dollar verstewig. Die rand was ook op die voorvoet teenoor die Britse pond, die euro en die Japannese jen.

Die ekonomiese agentskap NKC Research verduidelik dat verskeie positiewe faktore tans die rand ondersteun. Aldus die agentskap is die rand tans een van die bes presterende ontluikendemark-valuta. Een faktor wat NKC uitwys, was China se bereidwilligheid om teen Amerikaanse tariefverhogings op te tree. Dié geldeenheid is ook deur beter myn- en vervaardigingsgegewens gesteun ondanks dat dit pap was.

Die gegewens het ook hoop laat toeneem dat die tweede kwartaal se ekonomiese groeisyfer positief kan wees. Dit kan help dat die land uit die kloue van ʼn tegniese resessie kan ontsnap.

Dit wil ook voorkom of ontleders meer positief oor die rand is. Die maatskappy TreasuryONE het in ʼn verklaring gesê dat die geldeenheid se huidige lopie ondersteun word deur gunstige plaaslike ekonomiese gegewens en swakker-as-verwagte Amerikaanse verbruikersinflasie-gegewens.

Intussen het ʼn steekproef deur Bloomberg en Barclays bevind dat ontluikende markte nog hard getref gaan word weens Amerika se volgehoue handelsoorlog met China, veral kommoditeitsuitvoerende lande soos Suid-Afrika word hierdeur geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Maasrecht ·

Ek sien geen hoop vir die SA ekonomie nie. Vlug of sellfregeer so gou julle kan.

Wens ·

Wens ek en my gesin kon hier wegkom! As dit net makliker was om te emigreer. Wens daar was n land wat belang gestel het om goedgekwalifiseerde, hardwerkende mense in te neem.

Wens ·

Wens ek en my gesin kon hier wegkom! As dit net makliker was om te emigreer. Wens daar was n land wat belang gestel het om goedgekwalifiseerde, hardwerkende mense in te neem.

julius ·

Regtig? Vandag is die rand beter en môre val hy weer tot onder in die put. Wat gaan julle slimkoppe se rede dan wees? Ons is nie onder kalkoenne uitgebroei nie.

Rynhardt ·

Positiwiteit oor die rand in n dooie ekonomie vir 24jaar???Gister op SABC3 ekonomiese nuus was dit duidelik uitgespel:”Beleggers systap SA oor onstabiele politiek en grobdonteiening!” Ekskuus Reserwe Bank en ekonome,eintli is julle reg oor Rand,want vandag is baie energie en moeite gedoen om nuwe,nuttelose Mandela-note te skep???? en te laat herleef vir n groot rommelparadys!

Henry ·

Afgesien van al die miskien’s, indien’s en wat-nog-alles’se, is die inhoud van bg artikel bowendien stokou nuus en van g’n nut vir mens of dier nie.

Alida ·

Wie dink die regering of CR gaan in hierdie brandende moordhel van n land bele. Hulle rook seker dagga en sien gesigte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.